Slowakye
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Slovenská republika |
|
Volkslied: Nad Tatrou sa blýska |
|
Amptelike taal | Slowaaks |
Hoofstad | Bratislava |
Regeringstelsel | Republiek |
Religie | Rooms-Katoliek 69%, protestant 9% |
Oppervlakte – % water |
49.036 km² -% |
Bevolking – Digtheid: |
5,4 miljoen 111/km² |
Geldeenheid | Slowaakse kroon (Slovenská koruna) (SKK) |
Tydsone | UTC +1 |
Nasionale feesdag | 1 September Dag van de Grondwet 1993) |
Web | Kode | Tel. | .sk | SVK | 421 |
Die Slowaakse Republiek of Slowakye (Slowaaks: Slovensko) is 'n jong republiek in Sentraal-Europa, wat op 1 Januarie 1993 losgeraak het van Tsjeggo-Slowakye, wat daardeur opgehou het om te bestaan. Die land word begrens deur Tsjeggië in die weste, Pole in die noorde, Oekraïne in die ooste, Hongarye in die suide en Oostenryk in die suidweste. Die hoofstad Bratislava is ook die grootste stad in die land.
Die land is grotendeels bergagtige gebied, wat tydens die twintigste eeu 'n geheel gevorm het met die taalkundige en kulturele nou-verwante Tsjeggië, wat egter 'n heel ander ontwikkeling meegemaak het. Slowakye het eeue lank deel uitgemaak van Hongarye. Die emansipasie van die Slowaakse volk het later ontwikkel.
Slowakye is tans een van die lidstate van die Europese Unie. Die bevolking het op 18 Mei 2003 in 'n referendum vir toetreding gestem. Dit het uiteindelik plaasgevind op 1 Mei 2004. Sedert 29 Maart 2004 is Slowakye ook 'n lidstaat van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO).
Inhoud |
[wysig] Geografie
Slowakye is 'n landgebonde staat en het gemeenskaplike grense met Oostenryk (91 kilometer), Pole (444 kilometer), Tsjeggië (215 kilometer), Hongarye (515 kilometer) en die Oekraïne (90 kilometer). Sy maksimale lengte in wes-oostelike rigting beloop 428 kilometer, sy maksimale wydte in noord-suidelike rigting 195 kilometer.
Die land word in die noorde en in sy sentrum oorheers deur die Hoë Tatra (Vysoké Tatry) en Lae Tatra (Nízke Tatry), wat albei deel uitmaak van die Karpate, die Klein en Groot Fatraberge (Malá Fatra en Veľká Fatra), die Slowaakse Ertsgebergte (Slovenské rudohorie) en baie ander kleiner bergreekse. Veral in die Tatra word Slowakye deur Alpynse landskapsvorme gekenmerk.
In die suide strek die land tot by die Hongaarse Laagvlakte. Die grootste riviere is die middelloop van die Donau met 'n lengte van 170 kilometer, wat grotendeels ook die grens met Hongarye vorm, Tisa, Waag (Váh, met 'n lengte van 400 kilometer vloei dit deur sowat die helfte van Slowakye se grondgebied), Morava en Hron. Gerlachovský štít in die Hoë Tatra is die hoogste bergspits (2 655 meter bo seevlak).
Die Slowaakse klimaat is kontinentaal en gematig, met warm en droë somers en koue, vogtige winters. Die gemiddelde temperature is 0 °C in Januarie, die koudste maand, en 21 °C in Julie en Augustus, die warmste maande. Die hoër geleë gebiede is gewoonlik 130 dae per jaar met sneeu bedek.
[wysig] Etimologie
Reeds in die 15de eeu is na die gebied van die huidige Slowakye as Slováky verwys, en in die 18de eeu het benamings soos Slovakia, Slavonia, Sclavonic en Slowakey/Slowakei in die plaaslike Slawiese en die Duitse taalgebied gebruiklik geraak.
Aangesien die gebied van Slowakye al in die laat 5de eeu deur Slawiese stamme bewoon is, wat vanaf die 9de eu na hulself as Slověne verwys het, is die benaming Slowakye vermoedelik reeds vroeër gebruik. Die oorspronklike Slawiese woordvorm leef voort in afleidings soos die plaaslike eiename Slovák (manlik) en Slovenka (vroulik) en die byvoeglike naamwoord slovenský.
Die Hongare het sedert die 18de eeu na die gebiede van die Koninkryk Hongarye, wat noord van die Theiss- en Donauriviere geleë was, in nie-amptelike taalgebruik dikwels as Bo-Hongarye verwys, terwyl die res van die land Neder-Hongarye genoem is.
Tussen die 16de en 18de eeu het die term Bo-Hongarye in geografiese opsig net die ooste van Slowakye en die aangrensende gebiede van die huidige Noord-Hongarye ingesluit wat nie deur die Turkse Osmane beset was nie. Die term Neder-Hongarye het na Wes- en Sentraal-Slowakye), maar soms ook na die res van die land verwys.
[wysig] Demografie
Slowakye se bevolking het sedert onafhanklikwording op sowat 5,4 miljoen gestagneer. Met 'n gemiddelde ouderdom van 35,5 jaar behoort Slowakye tot die jonger lande in Europa.
Naas etniese Slowake (85,8 persent van die totale bevolking) is daar minderhede van Hongare (9,7 persent), 1,7 persent Roma, 0,8 persent Tsjegge, 0,4 persent Ruthene, 0,2 persent Oekraïners, 0,1 persent Duitsers en klein groepe Pole en Russe.
Volgens die sensus van die jaar 2001 is 68,9 persent van die bevolking Rooms-Katolieke, 12,9 persent ongebonde, 6,9 persent Lutherane (Augsburgse Kerk), 4,09 persent Grieks-Katolieke, 2,04 Gereformeerdes, 1,24 persent Jode en 0,94 persent Ortodokses. Die Joodse bevolking, tans sowat 2 300 mense, het skerp gedaal in vergelyking met die 120 000 mense voor die Tweede Wêreldoorlog. Daar is ook minderhede van onder meer 5 000 Moslems.
Slowaaks, wat deel uitmaak van die Slawiese taalfamilie, is die amptelike taal van Slowakye. Hongaars word veral in die suide gepraat en in 'n aantal gebiede as tweede ampstaal erken.
Alhoewel Slowakye sedert die negentigerjare van die 20ste eeu tot 'n moderne Europese ekonomie ontwikkel het, beskik dit nogtans oor 'n aansienlike plattelandse bevolking. Sowat 45 persent van die Slowake woon in dorpe met minder as 5 000 inwoners, en 14 persent in dorpe met minder as 1 000 inwoners.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Voor die 5de eeu
Die Romeinse Ryk het in die loop van sy uitbreiding na Sentraal-Europa vanaf die jaar 6 n.C. 'n aantal militêre voorposte langs die Donau opgerig. In die tydperk tussen 20 en 50 het die Germaanse volk van die Quadi die sogenaamde Koninkryk van Vannius in die westelike en sentrale gebiede van die huidige Slowakye bewoon.
Sedert omtrent 450 n.C. is die gebied van die huidige Slowakye deur Kelte bewoon, wat in Bratislava en Liptov magtige oppida (versterkte dorpe) opgerig het. Silwermunte met die name van Keltiese konings verteenwoordig die oudste bekende gebruik van 'n alfabet in die gebied.
[wysig] Slawiese state
Die Slawiese bevolking het hulle in die 5de eeu in die gebied gevestig. Wes-Slowakye was in die 7de eeu die sentrum van Samo se Ryk. 'n Proto-Slawiese staat, wat as die Vorstedom van Nitra bekend gestaan het, het in die 8de eeu ontwikkel, en sy heerser Pribina het in 828 die eerste Christelike kerk in Slowakye gewy. Saam met die aangrensende Morawië het die vorstedom sedert 833 die hartland van die Groot Morawiese Ryk gevorm. Hierdie (Proto-)Slowaakse ryk het die hoogtepunt van sy mag en kulturele ontwikkeling tydens die heerskappy van Vors Rastislav met die aankoms van die Slawiese sendelinge en heiliges Kirillus en Methodius in 863 bereik. Koning Swatopluk I het die ryk se magsgebied uitgebrei.
[wysig] Koninkryk van Hongarye
Ná die ontbinding van die Groot Morawiese Ryk in die vroeë 10de eeu het die Hongare die gebied van die huidige Slowakye geleidelik begin beset. Nogtans het Slowakye weens die hoë peil van sy ekonomiese en kulturele ontwikkeling steeds 'n belangrike posisie in hierdie nuwe staat gehandhaaf. Dit is byna twee eeue lank as die outonome Vorstedom van Nitra binne die Hongaarse staatsverband geregeer. Slowaakse nedersettings het na die noordelike helfte van die huidige Hongarye uitgebrei, terwyl Hongaarse setlaars hulle in die suidelike deel van Slowakye gevestig het. Die etniese samestelling het met die aankoms van die Karpaatse Duitsers (sedert die 13de eeu), die Vlachs (sedert die 14de eeu) en Jode nog komplekser geword.
Die Mongole-inval van die jaar 1241 en 'n hongersnood, wat daarop gevolg het, het tot 'n dramatiese verlies van menselewens gelei. Desondanks was die Middeleeuse Slowakye veral gekenmerk deur 'n aantal groeiende stede, die oprigting van talle steenkastele en die ontwikkeling van 'n eie kunslewe. Matthias Corvinus het in 1467 die eerste Slowaakse universiteit in Bratislava gestig, wat egter net 'n kortstondige instelling geblyk te wees het.
Met die uitbreiding van die Ottomaanse Ryk na die huidige Hongarye en die besetting van die stad Boeda in die vroeë 16de eeu, het die magsentrum van die Koninkryk van Hongarye, wat nou as die Koninklike Hongarye bekend gestaan het, na Slowakye begin verskuif, en Bratislava, wat destyds ook Pressburg, Pressporek, Posonium of Posony genoem is, het in 1536 die hoofstad van die Koninklike Hongarye geword.
Die Ottomaanse Oorloë en opstande teen die Habsburgse monargie het egter ook tot grootskaalse verwoestings van veral plattelandse gebiede gelei. Met die Turkse terugtog uit Hongarye in die 18de eeu het ook Slowakye se invloed binne die koninkryk geleidelik afgeneem, alhoewel Bratislava sy posisie as Hongaarse hoofstad tot by die jaar 1848 kon handhaaf. Die regeringsetel is toe na Boedapest verskuif.
Tydens die rewolusie in die Habsburgse gebiede in die jare 1848 en 1849 het die Slowake die kant van die Oostenrykse keiser gekies, veral met die hoop op 'n afskeiding van die Hongaarse deel van die ryk. Uiteindelik het hierdie pogings egter gefaal. In die tydperk van die Oostenryks-Hongaarse Ryk het die Slowake tussen 1867 en 1918 onder toenemende druk van Hongarisering gekom. Die Hongaarse regering het onder meer Slowakye se drie hoërskole en die Matica slovenská in die jare 1874 en 1875 gesluit.
[wysig] Die 20ste eeu
Slowakye het in 1918 by die geweste Boheme en die aangrensende Morawië aangesluit om die nuwe onafhanklike staat Tsjeggoslowakye te vorm. Die provisionele Hongaarse Sowjetrepubliek het die chaos, wat ná die ontbinding van die Keiserryk van Oostenryk-Hongarye geheers het, benut om Slowakye in 1919 aan te val. Sowat 'n derde van die land het tydelik die Slowaakse Sowjetrepubliek geword.
In die tydperk tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorlog is die demokratiese en welvarende Republiek van Tsjeggoslowakye voortdurend deur die revisionistiese regerings van Duitsland en Hongarye bedreig. Die staat is uiteindelik met die Ooreenkoms van München in die jaar 1938 opgedeel; Slowakye het destyds 'n onafhanklike staat onder die leierskap van president Jozef Tiso geword en nou bande met Nazi-Duitsland gehandhaaf. Die anti-Nazi-weerstandsbeweging het in 1944 'n gewapende stryd, wat as die Nasionale Slowaakse Opstand bekend staan, begin.
Die Republiek van Tsjeggoslowakye is ná die Tweede Wêreldoorlog in 1945 herstel, maar het vinnig onder die invloed van die Sowjetunie en sy militêre verbond, die Warskouverdrag, gekom. In 1969 het die staat 'n federasie van die Tsjeggiese Sosialistiese Republiek en die Slowaakse Sosialistiese Republiek geword.
Die einde van die Kommunistiese bewind in Tsjeggoslowakye in die sogenaamde fluweelrewolusie van die jaar 1989 het weer tot die verdeling van die land gelei. Op 1 Januarie 1993 het Tsjeggië en Slowakye weer aparte en onafhanklike state geword - 'n gebeurtenis, wat destyds ook die "fluweelskeiding" genoem is. Slowakye het egter binne die Visegrad-Groep steeds nou bande met Tsjeggië en ander Middel-Europese lande gehandhaaf. Op 29 Maart 2004 het Slowakye by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en enkele weke later op 1 Mei ook by die Europese Unie aangesluit.
[wysig] Ekonomie
In die tydperk van Tsjeggoslowakye was die energie-intensiewe metaal- en chemiese nywerhede, die wapenbedryf en kragopwekking sedert die 1950's die steunpilare van die Slowaakse ekonomie. Slowakye was een van die beduidenste sentrums van die Warskouverdragstate se wapenbedryf. Sowat sestig persent van die ondernemings, wat by die metaalverwerkende sektor gereken is, was in werklikheid wapenvervaardigers.
Met die politieke veranderings van die jaar 1989 het hierdie prentjie begin verander, en veral die dienstesektor het sindsdien sterk gegroei terwyl die swaar nywerhede in 'n krisis gedompel het. Die nywerheidsektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) het van 61 persent in die jaar 1991 tot 24,3 persent in 2003 gedaal. In die jare 2006 en 2007 het hierdie sektor egter weer 'n opswaai beleef, en sy bydrae tot die BBP het in 2007 36,1 persent beloop. Tans vorm die motorbedryf die basis van Slowakye se industriële sektor, en internasionale vervaardigers met fabrieke in die land sluit Volkswagen, Peugeot en Kia in. Danksy die stigting van talle klein privaat ondernemings het die dienstesektor se bydrae tussen 1991 en 2006 byna verdubbel van 33 tot 60,7 persent.[1]
Slowakye het 'n oorwegend suksesvolle oorgang van 'n sentraal-beplande na 'n mark- en uitvoergerigte ekonomie gemaak, en die regering het al in 2001 goed met sy omvattende program van makroekonomiese stabilisering en strukturele hervormings gevorder. Groot dele van die voormalige staatsekonomie is reeds geprivatiseer, en buitelandse beleggings het duidelik gegroei. Die bankesektor word nou deur buitelandse ondernemings beheer. Die wisselkoers van die Slowaakse Kroon teenoor die Euro en VSA-dollar het in die laaste jare begin stabiliseer. Bratislava is naas die Tsjeggiese hoofstad Praag die welvarendste gebied van die EU se nuwe lidstate in Oos-Europa, en sy gewildheid bedreig self die Oostenrykse hoofstad Wene se status as die belangrikste hoofkwartier vir ondernemings wat sake op die Oos-Europese markte doen.
Die ekonomie het in 2006 met meer as sewe persent gegroei, onder meer danksy grootskaalse beleggings van die Suid-Koreaanse motorvervaardiger Kia, wat in laat 2006 met die plaaslike produksie begin het. Slowakye se lone en salarisse is die laagste in die Europese Unie (EU), en ook sy belastingtariewe is aansienlik laer as in die meeste ander Europese lande. Die Slowaakse regering word deur verskeie lande in die EU gekritiseer vanweë hierdie beleid wat dreig om sosiale standaarde in Europa te verlaag.
Naas internasionale motorvervaardigers het die land ook 'n aantal ander groot ondernemings soos Samsung gelok wat hier plat skerms vir die Europese mark vervaardig. Nogtans het buitelandse beleggings nie gehelp om tegnologiese innovasie in die plaaslike ekonomie te bevorder nie, en ook die werkloosheidsyfer (12 persent in 2006) bly een van die hoogstes in die EU. Die inflasiekoers het in 2005 3,7 persent bereik.
Slowakye beplan om op 1 Januarie 2009 'n lidstaat van die Eurosone te word.
[wysig] Verwysings
[wysig] Eksterne skakels
|
|
---|---|
België | Bulgarye | Ciprus | Denemarke | Duitsland | Estland | Finland | Frankryk | Griekeland | Hongarye | Ierland | Italië | Letland | Litaue | Luxemburg | Malta | Nederland | Oostenryk | Pole | Portugal | Roemenië | Slowakye | Slowenië | Spanje | Swede | Tsjeggië | Verenigde Koninkryk |