See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Australië - Wikipedia

Australië

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Australië
Commonwealth of Australia
Wapen van Gemenebes van Australië
Vlag Wapen
Nasionale leuse: geen (voorheen Voorwaarts Australië)
Volkslied: Advance Australia Fair[1]
Ligging van Gemenebes van Australië
Hoofstad Canberra
35°15′S 149°28′E
Grootste stad Sydney
Amptelike tale Geen / Engels (de facto)
Regering

Monarg
Goewerneurgeneraal
Eerste minister
Parlementêre demokrasie
Federale grondwetlike monargie
Koningin Elizabeth II
Michael Jeffery
Kevin Rudd
Onafhanklikheid
Onafhanklikheid
• Grondwet
• Statuut van Westminster
• Australië Akte
Van die VK:

1 Januarie 1901
11 Desember 1931
3 Maart 1986
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
1 E12 7741220 km2  (6de)
2988888 myl2
1
Bevolking
 - 2007 skatting
 - 2006 sensus
 - Digtheid
 
21,120,157[2] (53ste)
19,855,288
2.6 / km2 (224ste)
6.7 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2007 skatting

VS$718.4 biljoen (IMF) (17de)
VS$34,359 (IMF) (14de)

MOI (2004) 0.957 (3de) — hoog
Geldeenheid Australiese dollar (AUD)
Tydsone
 - Somertyd
verskeie* (UTC
+8 to +10.5)
verskeie* (UTC
+9 tot +11.5)
Internet-TLD .au
Skakelkode +61
*Daar is drie tydsones in Australië: oostelike (DST+10), sentrale (DST+9:30) en westelike (DST+8). Sommige gedele gebruik 'n nie-amptelike "sentrale-westelike" sone (DST+8:45).

Australië, amptelik die Australiese Gemenebes, is 'n land in die Suidelike Halfrond en bestaan uit die Australiese kontinent (die wêreld se kleinste kontinent), die eiland Tasmanië en 'n aantal ander eilande in die Indiese Oseaan, die Stille Oseaan en die Suidelike Oseaan. Australië se buurlande is Indonesië, Oos-Timor en Papoea-Nieu-Guinee aan die noorde, die Solomon-eilande, Vanuatu en Nieu-Kaledonië aan die noordooste en Nieu-Seeland aan die suidooste.

Die Australiese vasteland word al reeds vir meer as 42 000 jaar deur Australiese Inboorlinge bewoon. Na verskeie besoeke deur Europese ontdekkingsreisigers en handelaars in die 17de eeu, was die oostelike helfte van Australië in 1770 deur Groot Brittanje opgeëis en oorspronklik deur wettelik gestrafte oortreders as deel van die kolonie van Nieu-Suid-Wallis gevestig, beginnende op 26 Januarie 1788. Soos die bevolking gegroei het en nuwe areas ontdek is, is vyf ander self-regerende Britse kolonies tydens die 19de eeu gevestig.

Op 1 Januarie 1901 het die ses kolonies saam 'n federasie geword en die Australiese Gemenebes was gevorm. Sedertdien het Australië 'n stabiele liberale demokratiese politieke stelsel gehandhaaf en bly dit steeds 'n ryk van die Statebond wat die Britse monarg as hulle eie herken. Die hoofstad van Australië is Canberra, wat geleë is in die Australiese Hoofstadgebied (Australian Capital Territory). Die bevolking van 21 miljoen is gekonsentreerd in die vastelandse staatshoofstede Sydney, Melbourne, Brisbane, Perth en Adelaide.

Inhoud

[wysig] Etimologie

Die naam, "Australië", is afgelei van die Latyn Australis wat "Suidelik" beteken. Legendes van 'n "onbekende land van die suide" (terra australis incognita) was sedert Romeinse tye algemeen in middeleeuse aardrykskunde, maar was nie op enige werklike kennis van die kontinent gebaseer nie. Die eerste gebruik van die woord "Australië" in Engels was in 1625: die woorde "A note of Australia del Espiritu Santo, written by Master Hakluyt" in die boek Hakluytus Posthumus wat deur Samuel Purchas gepubliseer is.[3] Die Nederlandse byvoeglike vorm, "Australische", was deur die offisiere van die V.O.C. in Jakarta (toe Batavia) in 1638 gebruik om na die nuut-ontdekte land in die Suide te verwys. "Australia" was in 'n 1693 vertaling van Les Aventures de Jacques Sadeur dans la Découverte et le Voyage de la Terre Australe gebruik, 'n Franse roman uit 1692 deur Gabriel de Foigny (onder die pennaam Jacques Sadeur).[4] Alexander Dalrymple het dit daarna in 1771 gebruik in An Historical Collection of Voyages and Discoveries in the South Pacific Ocean om na die gehele Suidelike Pasifiese streek te verwys. In 1793 het George Shaw en Sir James Smith Zoology and Botany of New Holland gepubliseer, waarin hulle verwys na "the vast island, or rather continent, of Australia, Australasia or New Holland".

'n Kunstenaar se voorstelling van Port Jackson, die plek waar Sydney gestig is, soos gesien vanaf South Head. Uit A Voyage to Terra Australis.
'n Kunstenaar se voorstelling van Port Jackson, die plek waar Sydney gestig is, soos gesien vanaf South Head. Uit A Voyage to Terra Australis.

Die naam is gewild gemaak deur die 1814-werk, A Voyage to Terra Australis, deur die navigator, Matthey Flinders, die eerste aangetekende persoon wat om Australië geseil het. Ten spyte van die titel, wat die siening van die Britse admiraalskap weerspieël het, het Flinders die term "Australia" in sy boek gebruik. Die boek was baie gewild en het die term in die volksmond geplaas. Goewerneur Lachlan Macquarie van Nieu-Suid-Wallis het die woord daarna in sy versendings na Engeland gebruik en op 12 Desember 1817 het hy aan die Koloniale Amp aanbeveel dat dit amptelik in gebruik geneem word. [5] In 1824 het die Admiraalskap ingestem dat die kontinent amptelik as "Australia" bekend sal staan.

Die woord "Australia" word in Australiese Engels uitgespreek as /ə.ˈstɹæɪ.ljə, -liː.ə, -jə/.

[wysig] Geskiedenis

Daar word beraam dat die eerste menslike bewoning van Australië tussen ongeveer 42 000 en 48 000 jaar gelede plaasgevind het.[6] Hierdie eerste Australiërs was moontlik die voorouers van die huidige inheemse Australiese volke en het moontlik oor landbrûe en ander seekruisings vanaf die huidige Suidoos-Asië oorgesteek. Meeste van hierdie mense was jagter-versamelaars met 'n ingewikkelde mondelinge kultuur en spirituele waardes wat gebaseer was op 'n eerbied vir die land en 'n geloof in die Droomtyd. Die Torres Strait-eilandbewoners, wat aan die Melanesiese etniese groep behoort, het die Torres Strait-eilande en die ver-noordelike dele van Queensland bewoon: hulle kulturele gebruike is en bly egter steeds onderskeidelik van die Australiese inboorlinge (ook bekend as die Aborigines).

Die eerste kaart van Australië, soos gepubliseer in Nicholas Vallard se see-atlas van 1547.
Die eerste kaart van Australië, soos gepubliseer in Nicholas Vallard se see-atlas van 1547.

Die eerste aangetekende Europese waarneming van die Australiese vasteland was deur die Nederlandse navigator, Willem Janszoon, wat die kus van Kaap-York-skiereiland in 1606 waargeneem het. Tydens die 17de eeu het die Nederlanders die hele westelike en noordelike kuslyne gekarteer en het hulle die gebied Nieu-Holland genoem, alhoewel hulle geen poging gemaak het om hulself in die gebied te vestig nie. In 1770 het James Cook langs die oostelike kus geseil en dit gekarteer: hy het dit Nieu-Suid-Wallis genoem en dit vir Groot Brittanje opgeëis.

Die Britse kroonkolonie, Nieu-Suid-Wallis, het begin met 'n nedersetting by Port Jackson wat op 26 Januarie 1788 deur kaptein Arthur Phillip gevestig is. Hierdie datum het later Australië se nasionale dag, Australië Dag, geword. Van Diemensland, die huidige Tasmanië, was in 1803 gevestig en het in 1825 'n aparte kolonie geword. Die Verenigde Koninkryk het die westelike deel van Australië in 1829 amptelik geëis. Aparte kolonies was gevorm uit dele van Nieu-Suid-Wallis: Suid-Australië in 1836, Victoria in 1851 en Queensland in 1859. Die Noordelike Gebied ("Northern Territory") was in 1911 gestig toe dit van Suid-Australië geskei het. Suid-Australië was as 'n "vrye provinsie" gestig, met ander woorde dit was nooit 'n strafregtelike kolonie nie. Victoria en Wes-Australië was ook "vry" gestig, maar het later vervoerde gevangenes aanvaar.[7][8] Die vervoer van gevangenes na Nieu-Suid-Wallis was in 1848 stopgesit, na 'n veldtog deur die setlaars daar.[9]

Die bevolking van die Australiese inboorlinge was 'n beraamde 350 000 in die tyd van die Europese vestiging,[10] maar het sterk afgeneem in die 150 jaar na die aankoms van die setlaars. Hierdie afname was hoofsaaklik te wyte aan besmetlike siektes gekombineer met geforseerde verskuiwing van nedersettings en kulturele disintegrasie.[11] Die verwydering van kinders van hulle families mag ook tot die daling van die inheemse bevolking bygedra het. Sulke interpretasies van die Inboorlinge se geskiedenis word deur sommige regsgesinde kommentators bestry en beskryf as oordrewe of versin vir politiese of ideologiese redes.[12] Die debat staan in Australië bekend as die "History Wars" ("Geskiedenisoorloë"). Na die 1967 referendum het die federale regering die gesag verkry om beleide te implementeer en wette te maak wat op die Inboorlinge van toepassing was. Tradisionele eienaarsreg van land ("native title") was eers in 1992 herken, toe die hooggeregshof (tydens die saak Mabo v Queensland (No 2)) die idee van Australië as terra nullius ( "leë land") tydens die tyd van Europese nedersetting omgekeer het.

'n Voorstelling van die Eureka-vlag wat tydens die mynersrebellie in 1854 gebruik is. Identiese weergawes van die vlag het sedertdien 'n simbool van protes vir 'n wye verskeidenheid  bewegings in Australië geword.
'n Voorstelling van die Eureka-vlag wat tydens die mynersrebellie in 1854 gebruik is. Identiese weergawes van die vlag het sedertdien 'n simbool van protes vir 'n wye verskeidenheid bewegings in Australië geword.

In die 1850's het 'n goudloop in Australië begin en die Eureka Stockade-rebellie teen mynlisensiefooie in 1854 is 'n vroeë voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid. Tussen 1855 en 1890 het die ses kolonies elk verantwoordelike bestuur verkry en het hulle hulle eie sake self bestuur, alhoewel hulle deel van die Britse Ryk gebly het. Die Koloniale Amp (Colonial Office) in Londen het wel die beheer van sommige sake behou, soos buitelandse sake, verdediging en internasionale verskeping. Na 'n dekade van beplanning, konsultasie en stemmery, was die federasie van die kolonies op 1 Januarie 1901 behaal en die Gemenebes van Australië was gebore as 'n dominium (vrygewes) van die Britse Ryk. Die Federale Hoofstadgebied ("Federal Capital Territory"), later hernoem na die Australiese Hoofstadgebied (ACT, "Australian Capital Territory"), was in 1911 gevorm uit 'n nuwe deel van Nieu-Suid-Wallis om 'n nuwe ligging te bied vir die voorgestelde nuwe federale hoofstad, Canberra (Melbourne was die tydelike setel van die regering van 1901 tot 1927 terwyl Canberra gebou was). Beheer van die Noordelike Gebied ("Northern Territory") was van die Suid-Australiese regering na die Statebond verskuif in 1911. Australië het vrywilliglik aan die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem. [13]

Die 1931 Statuut van Westminster het meeste van die wetlike skakels tussen Australië en die Verenigde Koninkryk formeel beëindig toe dit in 1942 deur Australië aangeneem is. Die skok van die Verenigde Koninkryk se nederlaag teen Asië in 1942 en die bedreiging van 'n Japannese inval het veroorsaak dat Australië hom tot die Verenigde State gekeer het vir bondgenootskap en beskerming. Sedert 1951 is Australië ook 'n militêre bondgenoot van die Verenigde State onder die Anzus-verdrag (die verdrag sluit ook Nieu-Seeland in). Na die Tweede Wêreldoorlog het Australië immigrasie vanuit Europa aangemoedig en sedert die 1970's, na die goedkeuring van die Racial Discrimination Act ("Rassistiese diskriminasie akte"), word immigrasie vanuit Asië en ander nie-Europese dele van die wêreld ook aangemoedig. As gevolg hiervan het Australië se demografie, kultuur en selfbeeld opmerklik verander. Die finale grondwetlike bande tussen Australië en die Verenigde Koninkryk was in 1986 verbreek met die Australië Akte van 1986, wat enige Britse rol in die regering van die Australiese State beëindig het, asook regterlike apèlle aan die Britse Geheime Raad.[14]'n Voorgestelde skuif na 'n republiek met 'n president wat deur die Parlement aangestel word, is in 1999 deur Australiese kiesers met 'n meerderheid van minder as 5% verwerp.[15] Sedert die verkiesing van die regering onder eerste minister Gough Whitlam in 1972, is daar 'n toenemende fokus op die nasie se toekoms as deel van die Pasifiese Kom.

[wysig] Geografie

'n Satellietbeeld van Australië, waarin die woestynagtige dele van die land duidelik waargeneem kan word.
'n Satellietbeeld van Australië, waarin die woestynagtige dele van die land duidelik waargeneem kan word.

Australië se 7,617,930 km2 vasteland[16] is op die Indo-Australiese plaat. Die land word omring deur die Suidelike Oseaan en die Stille Oseaan en word van Asië geskei deur die Timor- en die Arafirassee en die Tasmansee. Australië se kuslyn beloop 34,218 kilometer (dit sluit nie die kuslyne van eksterne gebiede in nie)[17] en het aanspraak op 'n Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) van 8,148,250  kilometer2. Hierdie EES sluit nie die Australiese Antarktiese Gebied in nie.

Die Groot Koraalrif, die wêreld se grootste koraalrif, is 'n kort afstand vanaf die noordoostelike kus geleë en strek oor 2000km. Mount Augustus, geleë in Wes-Australië, het daarop aanspraak gemaak dat die die wêreld se grootste monoliet is.[18] Met 'n hoogte van 2,228 meter is Mount Kosciuszko, deel van die Groot Skeidingsgebergte, die hoogste berg op die Australiese vasteland, alhoewel Mawson Peak, op die afgeleë Heard Island, hoër strek met 'n hoogte van 2,745 meter.

Die grootste deel van Australië is woestynagtig en deels dor. Australië is ook die platste kontinent, dit het die oudste en onvrugbaarste grond en is die droogste bewoonde kontinent. Slegs die suidoostelike en suidwestelike hoeke van die kontinent het 'n matige klimaat. Die grootste deel van die bevolking woon langs die matige suidoostelike kuslyn. Die landskappe van die noordelike deel van die land, met 'n tropiese klimaat, bestaan uit reënwoude, boslande, grasvelde, manglietmoerasse en woestyn. Die klimaat word aansienlik beïnvloed deur seestrome, asook die El Niño se suidelike swaaiing (wat met periodiese droogtes gepaard gaan) en die seisoenale tropiese laagdrukstelsel wat siklone in Noord-Australië teweegbring.[19][20]

[wysig] Flora en fauna

Die eendbekdier is 'n uitstekende voorbeeld van die unieke Australiese fauna.
Die eendbekdier is 'n uitstekende voorbeeld van die unieke Australiese fauna.

Alhoewel Australië grotendeels dor en woestynagtig is, dek dit tog 'n verskeidenheid habitatte, van alpynse heides tot tropiese reënwoude, en word dit as 'n mega-diverse land herken. Vanweë die kontinent se ouderdom en die daaropvolgende lae vlakke van vrugbaarheid, asook die sterk wisselende weerpatrone en die langtermynse geografiese isolering, is baie van Australië se biota (die fauna en flora) uniek en divers. Ongeveer 85% van Australië se bloeiende (blomdraende) plante, 84% van die soogdiere, meer as 45% van die voëls en 89% van die matige-sone, langslandige visse is endemies aan die land.[21]

Baie van Australië se ekostreke en die spesies wat in hierdie streke woonagtig is, word deur menslike aktiwiteite en ingevoerde, buitelandse plante en dierspesies bedreig. Die federale Environment Protection and Biodiversity Conservation Act 1999 ("Omgewingsbeskerming en Bewaring van Biodiversiteit Akte 1999") is 'n wettige raamwerk vir die beskerming van bedreigde spesies. Talle beskermde areas is geskep onder die nasionale Biodiversity Action Plan ("Biodiversiteit aksieplan") om unieke ekostelsels te beskerm en te bewaar. 64 moeraslande is onder die Ramsar-konvensie geregistreer en 16 Wêrelderfenisgebiede is vasgestel. Australië is 13de op die Environmental sustainability index se ranglys.[22]

Die koala en die eukaliptus vorm saam 'n ikoniese Australiese toneel.
Die koala en die eukaliptus vorm saam 'n ikoniese Australiese toneel.

Meeste Australiese houtagtige plantspesies is immergroen en baie van hulle is aangepas aan veldbrande en droogte, soos die verskeie soorte eukaliptusse en akasias. Australië het 'n ryk verskeidenheid peulgewasse wat floreer in arm grond as gevolg van die simbiose met Risobium-bakterieë en swamwortels. Voorbeelde van bekende Australiese fauna is Monotremata soos die eendbekdier en die mierystervark; talle buideldiere soos die kangaroe, koala, en buidelmuis en voëls soos die emoe en kookaburra. Die dingo (die Australiese wildehond) is ingevoer deur Austronesiese mense wat met die Australiese Inboorlinge handel gedryf het ongeveer 3000 v.C.[23] Baie plant- en dierspesies het uitgesterf na die eerste menslike setlaars hulle daar gevestig het; ander, soos die buidelwolf, het uitgesterf sedert die Europese setlaars hulle daar gevestig het.[24][25]

[wysig] Kultuur

Sedert 1788 was die primêre basis van die Australiese kultuur die Anglo-Keltiese kultuur, alhoewel onderskeibare Australiese kenmerke uit die omgewing en die inheemse kultuur ontwikkel het. Oor die afgelope 50 jaar was Australiese kultuur ook sterk deur Amerikaanse popkultuur beïnvloed (veral televisieprogramme en rolprente), asook grootskaalse immigrasie vanuit nie-Engelssprekende lande en Australië se Asiatiese bure. Die energie en oorspronklikheid van Australiese kuns - letterkunde, rolprente, opera, musiek, skilderwerk, teater, dans en kunshandwerke - het internasionale erkenning behaal.

Rotsskilderings deur die Australiese Inboorlinge vorm die beginpunt van Australiese visuele kuns.
Rotsskilderings deur die Australiese Inboorlinge vorm die beginpunt van Australiese visuele kuns.

Australië het 'n lang geskiedenis van visuele kunste, beginnende met die rots- en basskilderings van die land se inheemse volke. Sedert die Europese vestiging is die Australiese landskap 'n gewilde tema in kunswerke, soos gesien kan word in die werke van (onder andere) Arthur Streeton, Arthur Boyd en Albert Namatjira. Die tradisies van die inheemse Australiërs word hoofsaaklik mondelings oorgedra en is nou verbind met seremoniële aktiwiteite en verhale oor die Droomtyd. Die musiek, dans en kuns van die Aborigines het ook 'n kennelike invloed op eietydse Australiese visuele en uitvoerende kunste. Australië het 'n aktiewe tradisie van musiek, ballet en teater: baie van die uitvoerende kunste-maatskappye ontvang openbare fondse deur die federale regering se Raad vir die Kunste. Daar is 'n simfonieorkes in elke hoofstad en 'n nasionale operamaatskappy, Opera Australia, wat bekendheid verwerf het danksy die beroemde operasangeres, dame Joan Sutherland.

Australiese letterkunde word ook deur die landskap beïnvloed: die werke van skrywers soos Banjo Paterson en Henry Lawson beskryf die ervaringe in die Australiese bosveld. Die karakter van 'n koloniale Australië, soos uitgebeeld in vroeë letterkunde, resoneer met moderne Australië en die land se waarneembare beklemtoning van egalisme, kameraadskap en anti-outoritarisme. Patrick White was in 1973 die Nobelprys vir Letterkunde toegeken: hy is tot sover ook die enigste Australiër wat hierdie prestasie behaal het en hy word erken as een van die belangrikste Engelstalige skrywers van die 20ste eeu. Australiese Engels is een van die groot weergawes van die Engelse taal: die spelling en grammatika is hoofsaaklik gebaseer op Britse Engels, maar bestaan binne-in 'n volkstaal wat unieke woorde en frases bevat; sommige hiervan word vandag ook in standaard Engels gekry.

Ricky Ponting slaan 'n ses vir Australië tydens 'n krieketwedstryd teen Sri Lanka.
Ricky Ponting slaan 'n ses vir Australië tydens 'n krieketwedstryd teen Sri Lanka.

Australië het twee openbare uitsaaikorporasies, die Australian Broadcasting Corporation (ABC) en die multikulturele Special Broadcasting Service (SBS). Verder het die land ook drie kommersiële televisienetwerke, 'n aantal betaaltelevisiedienste en verskeie openbare, nie-winsgewende televisie- en radiostasies. Australië se rolprentindustrie het beide kritieke en kommersiële sukses behaal. Elke groot stad het daaglikse koerante en daar is twee nasionale daaglikse koerante: The Australian en The Australian Financial Review. Volgens Verslaggewers Sonder Grense (VSG) was Australië in 2006 35ste op 'n lys van lande gerangskik volgens vryheid van die pers. Die lae posisie word toegeskryf aan die beperkte diversiteit van kommersiële media-eienaarskap in Australië; in besonder is meeste Australiese publikasies onder die beheer van die News Corporation en John Fairfax Holdings.

Sport speel 'n baie belangrike deel in die Australiese kultuur en word ondersteun deur 'n klimaat wat buitemuurse aktiwiteite begunstig; 23,5% Australiërs ouer as 15 neem gereeld deel aan georganiseerde sportiewe aktiwiteite.[26] Op internasionale vlak het Australië in besonder sterk spanne in krieket, hokkie, netbal, rugbyliga en rugbyunie en het hulle ook sterk mededingers in fietsry, roei en swem. Ander sporte wat op nasionale vlak gespeel word sluit Australiese voetbal, perdewedrenne, sokker en motorwedrenne in. Australië het ook aan elke Olimpiese Spele van die moderne era deelgeneem, asook aan elke Statebondspele. Die land was ook die gasheer van die 1956 Olimpiese Spele (in Melbourne) en die 2000 Olimpiese Spele]] (in Sydney) en word sedert 2000 onder die top vyf medaljewenners getel. Australië was ook die gasheer van die 1938 Britse Ryk-spele, die 1962 Britse Ryk en Statebondspele, die 1982 Statebondspele en die 2006 Statebondspele. Ander groot internasionale gebeurtenisse wat dikwels in Australië gehou word sluit die Australiese Ope in, een van die vier Grand Slam-tennistoernooie, asook jaarlikse internasionale krieketwedstryde en die Formule Een Australiese Grand Prix. Korporatiewe en regeringsborge vir baie sporte en topatlete is algemeen in Australië. Uitgesaaide sport is gewild: van die mees gekykte televisieprogramme sluit die somer Olimpiese Spele en die finale wedstryde van plaaslike en internasionale rugby- en voetbaltoernooie in.[27]

[wysig] Demografie

Bevolkingsgeskiedenis
Sensus1 Bevolking  %±
1900 3765400 -
1910 4525100 20,2%
1920 5411000 19,6%
1930 6501000 20,1%
1940 7078000 8,9%
1950 8307000 17,4%
1960 10392000 25,1%
1970 12663000 21,9%
1980 14726000 16,3%
1990 17169000 16,6%
2000 19169000 11,6%
20072 21106778 10,1%

1populstat.info
2Geen sensus, slegs 'n beraming.

Meeste Australiërs woon in stedelike gebiede. Sydney is die mees bevolkte stad in Australië.
Meeste Australiërs woon in stedelike gebiede. Sydney is die mees bevolkte stad in Australië.

Meeste van die beraamde 21 miljoen Australiërs is afstammelinge van 19de en 20ste eeuse Europese setlaars, hoofsaaklik die Britse Eilande. Met die ingang van 2006 was ongeveer 90% van Australië se bevolking van Europese afkoms. Australië se bevolking het sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog verviervoudig,[28] aangespoor deur die land se ambisieuse immigrasieprogram. Na die Tweede Wêreldoorlog tot en met 2000 het amper 5,9 miljoen van die totale bevolking hulself as nuwe immigrante in die land gevestig. Dit beteken dat byna twee uit elke sewe Australiërs oorsee gebore is.[29] Meeste immigrante beskik oor nodige vaardighede, maar die immigrasiekwota maak ook voorsiening vir immigrante se familielede en vlugtelinge. In 2001 was die meeste immigrante afkomstig van (in volgorde) die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, Italië, Viëtnam en Sjina.[26][30] Na die afskaffing van die Wit Australië-beleid in 1973, is 'n aantal regeringsinisiatiewe gestig om rasseharmonie, gebaseer op 'n beleid van multikulturalisme, aan te moedig en te bevorder.[31] In 2005-06 het meer as 131 000 mense na Australië geëmigreer, hoofsaaklik uit Asië en Oseanië. [32] Die migrasiemikpunt vir 2006-07 was 144 000.[33][34]

In 2001 was die inheemse bevolking (die vastelandse Aborigines en die Torres Strait-eilandbewoners) 410 003 (2,2% van die bevolkingstotaal), 'n aansienlike toename van die 1976-sensus, wat 'n inheemse bevolking van 115 953 aangetoon het. Inheemse Australiërs het hoër syfers van gevangenisneming en werkloosheid, laer vlakke onderrig en die lewensverwagting vir beide mans en vroue is 17 jaar minder as dié van ander Australiërs.[26]

Soos baie ander ontwikkelde lande, is Australië besig om 'n demografiese verskuiwing na 'n ouer bevolking te maak, met meer afgetredenes en minder mense van 'n werkersouderdom. 'n Groot aantal Australiërs (759 849 in 2002–03[35]) woon buite hulle tuisland.

In teenstelling met die digbevolkte stedelike gebiede, woon minder as 15% van die Australiese bevolking in die platteland. Hierdie beeld toon die Barossa-vallei in Suid-Australië.
In teenstelling met die digbevolkte stedelike gebiede, woon minder as 15% van die Australiese bevolking in die platteland. Hierdie beeld toon die Barossa-vallei in Suid-Australië.

Engels is die nie-amptelike, nasionale taal[36] en word geskryf en gepraat in 'n onderskeidelike weergawe van die Engelse taal wat bekend staan as Australiese Engels. Volgens die 2001-sensus is Engels die enigste taal wat in omtrent 80% van die bevolking se huise gepraat word. Die tweede mees algemene taal wat tuis gepraat word is Sjinees (2,1%), Italiaans (1,9%) en Grieks (1,4%). 'n Aansienlike gedeelte van die eerste en tweede generasie immigrante is tweetalig. Daar word geglo dat daar tussen 200 en 300 inheemse tale was teen die tyd wat die land sy eerste kontak met Europa gemaak het. Van hierdie tale het slegs 70 oorleef, maar 50 daarvan word tans deur uitsterwing bedreig. Omtrent 50 000 (0,25%) van die bevolking het 'n inheemse taal as hul eerste taal. Australië het ook 'n gebaretaal, Auslan, wat die eerste taal van ongeveer 6500 dowe mense is.

Australië het geen staatsgodsdiens nie. Die 2006-sensus het vasgestel dat 64% van die Australiese bevolking hulself as Christelik beskou: 26% beskou hulself as Rooms-Katoliek en 19% as Anglikaans. 5% Australiërs is volgelinge van nie-Christelike gelowe en 19% is gekategoriseer onder "geen godsdiens" (dit sluit nie-teïstiese gelowe soos humanisme, ateïsme, agnostisisme en redegeloof in) en 'n verdere 12% het geweier om te antwoord of het nie 'n antwoord gegee wat geïnterpreteer kon word nie. Soos in ander Westerse lande is aktiewe kerkbywoning aansienlik laer as die totaal godsdienstiges: weeklikse kerkbywoning is omtrent 1,5 miljoen, of 7,5% van die bevolking.[37]

Skoolbywoning is verplig vir kinders tussen die ouderdom van 6 en 15 jaar (tot 16 jaar in Suid-Australië en Tasmanië, en 17 jaar in Wes-Australië), wat bydra tot 'n beraamde volwasse geletterheidsyfer van 99%. Regeringsubsidies het die stigting van Australië se 38 universiteite ondersteun en alhoewel 'n aantal private universiteite ook gestig is, ontvang die meerderheid fondse van die regering. Daar is aambagtelike opleidingskolleges, wat op 'n staatstelsel gebaseer is, bekend as TAFE-institute ("Technical and Further Education"), en baie ambagte bied vakleerlingskappe om nuwe ambagsmanne en -vroue op te lei. Ongeveer 58% Australiërs tussen 25 en 64 jaar oud het ambagtelike of tersiêre kwalifikasies.[26] Australië se tersiêre slaagsyfer is 49%, die hoogste van al die OESO-lande. Die verhouding van internasionale tot plaaslike studente in tersiêre onderrig is ook die hoogste van al die OESO-lande.[38]

[wysig] Politiek

Kevin Rudd is die huidige Eerste Minister van Australië.
Kevin Rudd is die huidige Eerste Minister van Australië.

Die Gemenebes van Australië is 'n grondwetlike monargie met 'n parlementêre regeringstelsel. Koningin Elizabeth II is die Koningin van Australië, 'n rol wat onderskei word van haar rol as monarg van die ander ryke in die Statebond. Die koningin word op federale vlak deur die Goewerneur-generaal verteenwoordig en deur goewerneurs op 'n staatsvlak. Alhoewel die Australiese grondwet aansienlike uitvoerende gesag aan die goewerneur-generaal gee, word dit normaalweg slegs uitgeoefen na raad van die Eerste Minister van Australië. Die mees opmerklike uitoefening van die goewerneur-generaal se gesag sonder die aanwysing van die eerste minister was die afdanking van die Whitlam-regering tydens die Australiese grondwetlike krisis van 1975.[39]

Daar is drie liggame in die regering:

  • Die wetgewende liggaam: Die Parlement van Australië, bestaande uit die Koningin, die Senaat, en die Huis van Verteenwoordigers. Die Koningin word verteenwoordig deur die Goewerneur-generaal, wie se gesag tot die bekragtiging van wette beperk word.
  • Die uitvoerende liggaam: Die Federale Uitvoerende Raad, bestaande uit die Goewerneur-generaal wat deur Uitvoerende Raadslede geadviseer word. In die praktyk is die raadslede die Eerste Minister en die Staatsministers.
  • Die regterlike liggaam: die Hooggeregshof van Australië en ander Australiese federale howe. Die Staatshowe het in 1986 amptelik van die Regterlike Komitee van die Geheime Raad (van Brittanje) geskei met die ingebruikneming van die Australië Akte.
Koningin Elizabeth II is die koningin van Australië.
Koningin Elizabeth II is die koningin van Australië.

Die tweekamer-parlement bestaan uit die Koningin, die Australiese Senaat (die opper kamer) van 76 senatore en 'n Huis van Verteenwoordigers (die laer kamer) van 150 lede. Lede van die laer kamer word verkies deur enkel-lid kiesafdelings, algemeen bekend as "kiesers" of "setels". Setels in die Huis van Verteenwoordigers word aan state toegewys op basis van die bevolking en elke staat word 'n minimum van vyf setels gewaarborg. In die Senaat word elke staat deur 12 senatore verteenwoordig en die gebiede word deur twee senatore verteenwoordig. Verkiesings vir beide kamers word elke drie jaar gehou: senatore het oorvleuelende ses-jaar terme en slegs die helfte van die setels word in 'n verkiesing beskikbaar gemaak, tensy die siklus deur 'n dubbele ontbinding onderbreek word. Die party met die meerderheid ondersteuning in die Huis van Verteenwoordigers vorm die regering en dié party se leier word die Eerste Minister.

Daar is drie groot politieke partye: die Australiese Arbeidersparty, die Liberale Party en die Nasionale Party. Onafhanklike lede en verskeie kleiner partye het ook verteenwoordigheid in die Australiese parlement verkry, meesal in die opper huise. Sedert die 2007-verkiesing is die Arbeidersparty aan bewind in Canberra, onder leiding van eerste minister Kevin Rudd. Alle burgers wat 18 jaar en ouer is word verplig om aan elke staats-, gebied- en federale verkiesing deel te neem, behalwe in Suid-Australië[40]

[wysig] State en gebiede

Die Australiese state

Australië bestaan uit ses state, twee groot vastelandse gebiede en ander kleiner gebiede.

Die state is:

  • Nieu-Suid-Wallis
  • Queensland
  • Suid-Australië
  • Tasmanië
  • Victoria
  • Wes-Australië

Die twee groot vastelandse gebiede is die Noordelike Gebied en die Australiese Hoofstadgebied.

Die gebiede funksioneer in die meeste opsigte op dieselfde wyse as die state, maar die Australiese Parlement kan enige van hulle wetgewings herroep. In kontras kan federale wetgewing staatwetgewing slegs in sekere gevalle geroep, soos uiteengesit in artikel 51 van die Australiese grondwet; alle oorblywende wetgewende gesag word deur die staatsparlemente behou, dit sluit gesag oor die hospitale, onderwys, polisie, regbank en plaaslike goewerment in.

Elke staat en gebied het ook sy eie wetgewende liggaam: 'n eenkamerstelsel in die Noordelike Gebied, die Australiese Hoofstadgebied en Queensland, en 'n tweekamerstelsel in die oorblywende state. Die laer kamer staan bekend as die Wetgewende Vergadering (Huis van Vergadering in Suid-Australië en Tasmanië) en die opper kamer staan bekend as die Wetgewende Raad. Daar word na die regeringshoofde in elke staat en gebied as premiers en hoofministers (respektiewelik) verwys. Die Koningin word in elke staat verteenwoordig deur 'n goewerneur; 'n administrateur in die Noordelike Gebied en 'n Goewerneur-generaal in die Hoofstadgebied het elk 'n soortgelyke rol.

Australië het ook 'n aantal kleiner gebiede: die federale regering bestuur 'n aparte area binne-in Nieu-Suid-Wallis, die Jervisbaai-gebied, as 'n vlootbasis en seehawe vir die nasionale hoofstad. Australië het ook die volgende bewoonde eksterne gebiede: Norfolk-eiland, Kersfeeseiland en Cocos-eiland, en 'n aantal onbewoonde eksterne gebiede: die Asmore- en Cartier-eilande, die Koraalsee-eilande, die Heard-eiland en McDonald-eilande en die Australiese Antarktiese Gebied.

[wysig] Buitelandse betrekkinge en leër

Die kaart toon aan waar troepe van die Australiese Verdedigingsmag ontplooi is (soos in 2007). Rooi: 1000 personeellede of meer. Oranje: Tussen 100 en 1000 personeellede. Blou: minder as 100 personeellede.
Die kaart toon aan waar troepe van die Australiese Verdedigingsmag ontplooi is (soos in 2007). Rooi: 1000 personeellede of meer. Oranje: Tussen 100 en 1000 personeellede. Blou: minder as 100 personeellede.

Oor die afgelope dekades was Australië se buitelandse betrekkinge sterk gestuur deur 'n noue verbinding met die Verenigde Nasies deur die Anzus-verdrag en 'n begeerte om verhoudings met Asië en die Pasifiese Streek te ontwikkel, veral deur die VSAN (Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies) en die Stille Oseaan-eilande Forum. In 2005 het Australië 'n intreesetel by die Suid-Asië-konferensie verseker na die land se toetreding tot die Vriendskaps- en Samewerkingverdrag. Australië is 'n ook 'n lid van die Statebond, waarin die Gemenebesregeringshoofde se vergaderings die hoof forum vir samewerking bied. Australië het ook die liberalisering van internasionale handel met mening ondersteun: die land het die vorming van die Cairns-groep en die ESASOG (Ekonomiese Samewerking in die Asië-Stille Oseaangebied) gelei en is 'n lid van OESO (Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling) en die WHO (Wêreldhandelsorganisasie). Australië is ook 'n stigtingslid van die Verenigde Nasies en handhaaf 'n internasionale bystandsprogram waardeur die land hulp aan ongeveer 60 lande verleen. Die 2005-2006 begroting voorsien A$2.5&nbspbiljoen vir ontwikkkelingshulp.

Australië se leër, die Australiese Verdedigingsmag, bestaan uit die "Koninklike Australiese Vloot" (RAN, Royal Australian Navy), die "Australiese Leër" (Australian Army) en die "Koninklike Australiese Lugmag" (RAAF, Royal Australian Air Force), wat gesamentlik uit omtrent 51 000 man bestaan.[41] Alle takke van die Verdedigingsmag was reeds betrokke in VN- en plaaslike vredehandhawing (mees onlangs in Oos-Timor, die Solomon-eilande en Soedan), rampverligting en gewapende konflik, insluitende die 2003 Inval van Irak. Die regering wys die hoof van die Verdedigingsmag uit een van die gewapende diensbedrywe aan; die huidige Hoof van die Verdedigingsmag is Lugmaghoof Angus Houston. In die 2006-2007 begroting spandeer die verdediging A$22 biljoen.[42]

[wysig] Ekonomie

Die Fimiston Open Pit in Kalgoorlie is Australië se grootste dagbou-goudmyn.
Die Fimiston Open Pit in Kalgoorlie is Australië se grootste dagbou-goudmyn.

Australië het 'n welvarende, Westerse gemengde ekonomie met 'n per kapita BBP wat ietwat hoër is as dié van die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk in terme van koopkragpariteit. Die land was derde gelys in die Verenigde Nasies se 2006 Menslike Ontwikkelingsindeks en sesde in The Economist se wêreldwye lewenskwaliteitindeks in 2005. Die afwesigheid van 'n uitvoergeörienteerde vervaardigingsnywerheid was altyd as 'n groot swakheid in die Australiese ekonomie beskou. Meer onlangs het stygende pryse vir Australië se kommoditeitartikels en toenemende toerisme hierdie kritiek minder van toepassing gemaak. Australië het egter steeds die wêreld se vierde-grootste lopende-rekeningtekort in absolute terme (in relatiewe terme is dit meer as 7% van die BBP). Dit word deur sommige ekonome as problematies beskou, veral sedert dit saamval met die hoë terme van handel en die lae rentekoerse wat die koste van die terugbetaling van buitelandse skuld laag hou. [43]

Die Hawke-regering het die proses van ekonomiese hervorming aan die gang gesit deur die Australiese dollar vry te laat sweef in 1983 en die finansiële stelsel gedeeltelik te dereguleer.[44] Die Howard-regering het die proses van mikro-ekonomiese hervorming voorgesit deur gedeeltelike deregulering van die arbeidsmark en die privatisering van besighede wat in staatsbesit was, met name die telekommunikasienywerheid.[45] Die indirekte belastingstelsel was aansienlik hervorm in Julie 2000 met die invoer van 'n 10% goedere- en inkomstebelasting, wat die swaar steun op persoonlike en maatskappybelasting - nog steeds 'n kenmerk van Australië se belastingstelsel - ietwat verminder het.

Met die ingang van Januarie 2007 was 10 033 480 mense ekonomies aktief met 'n werkloosheidskoers van 4,6%.[46] Sedert 1996 was inflasie tipies 2-3% en basisrentekoerse 5-6%. Die dienssektor van die ekonomie, insluitende toerisme, onderwys en finansiële dienste, beslaan 69% van die BBP. [47] Landbou en natuurlike hulpbronne beslaan 3% en 5% van die BBP, maar dra aansienlik by tot die uitvoerprestasie. Australië se grootste uitvoermarkte sluit Japan, die Volksrepubliek van Sjina, die Verenigde State van Amerika, Suid-Korea en Nieu-Seeland in.[26]

[wysig] Verwysings

Hierdie artikel was grotendeels vertaal uit die Engelse Wikipedia-artikel, Australia.
  1. ^ Australië het ook 'n Koninklike volkslied, God Save the Queen (of King), wat gespeel word in die teenwoordigheid van lede van die Britse Koninklike Familie wanneer hulle Australië besoek.
  2. ^ Official Population Clock
  3. ^ Purchas, vol. iv, bl. 1422–32, 1625.
  4. ^ Sidney J. Baker, The Australian Language, tweede uitgawe, 1966.
  5. ^ Weekend Australian, 30-31 December 2000, bl. 16
  6. ^ Gillespie, R. (2002). Dating the first Australians. Radiocarbon 44:455–72
  7. ^ Gevangene rekords - Openbare rekordkantoor van Victoria.
  8. ^ Staatrekords van Wes-Australië
  9. ^ Australiese Buro vir Statistieke 1998 Spesiale Artikel - Die Staat van Nieu-Suid-Wallis.
  10. ^ Smith, L. (1980), The Aboriginal Population of Australia. Australian National University Press: Canberra
  11. ^ Smallpox Through History
  12. ^ Windschuttle, K. (2001). The Fabrication of Aboriginal History, The New Criterion Vol. 20, No. 1, 20 September.
  13. ^ Bean, C. Ed. (1941). Volume I - The Story of Anzac: the first phase, First World War Official Histories, Eleventh Edition.
  14. ^ Die teks van die Australië Akte kan besigtig word by die webwerf van die Australasian Legal Information Institute. Laaste besoek op 3 November 2007.
  15. ^ Australian Electoral Commission (2000).1999 Referendum Reports and Statistics. Laaste besoek op 28 Julie 2007.]
  16. ^ Australia's Size Compared deur Geoscience Australia. Laaste besoek op 2007-05-19.
  17. ^ State of the Environment 2006 deur die Department of the Environment and Water Resources. Laaste besoek op 2007-05-19.
  18. ^ Mount Augustus in The Sydney Morning Herald. Laaste besoek op 2007-05-19.
  19. '^ No more drought: it's a 'permanent dry
  20. ^ Australia's epic drought: The situation is grim
  21. ^ About Biodiversity deur die Department of the Environment and Heritage. Ook beskikbaar in argiefvorm by [1]. Laaste besoek op 2007-09-18.
  22. ^ 2005 Environmental Sustainability Index (bl.112) deur Yale Universiteit. Laaste besoek op 2007-05-20.
  23. ^ Savolainen, P. et al. 2004. A detailed picture of the origin of the Australian dingo, obtained from the study of mitochondrial DNA. in die Proceedings of the National Academy of Sciences of the United States of America. 101:12387–12390 PMID
  24. ^ Additional Thylacine Topics: Persecution deur die Thylacine Museum. Besoek op 27 November 2006.
  25. ^ National Threatened Species Day deur die Department of the Environment and Heritage, Australian Government. Besoek op 21 November 2006.
  26. ^ 26,0 26,1 26,2 26,3 26,4 Australian Bureau of Statistics. Year Book Australia 2005
  27. ^ Australian Film Commission. What are Australians Watching?, Free-to-Air, 1999–2004 TV
  28. ^ {http://www.abs.gov.au/AUSSTATS/abs@.nsf/DetailsPage/3105.0.65.0012006?OpenDocument 3105.0.65.001 - Australian Historical Population Statistics, 2006] deur die Australian Bureau of Statistics. Gepubliseer op 2006-05-23. Laaste besoek op 2007-09-18. Uit die dokument: "Australian population: (1919) 5,080,912; (2006) 20,209,993".
  29. ^ Background note: Australia deur die US Department of State. Laaste besoek op 2007-05-19.
  30. ^ Australian Population: Ethnic Origins
  31. ^ The Evolution of Australia's Multicultural Policy deur die Department of Immigration and Multicultural and Indigenous Affairs (2005). Laaste besoek op 2007-09-18. Ook beskikbaar in argiefvorm by [2].
  32. ^ Settler numbers on the rise
  33. ^ Inflow of foreign-born population by country of birth, by year
  34. ^ Australian Immigration Fact Sheet 20. Migration Program Planning Levels.
  35. ^ Parliament of Australia, Senate (2005). Inquiry into Australian Expatriates.
  36. ^ {Pluralist Nations: Pluralist Language Policies? deur die Department of Immigration and Multicultural Affairs (1995). Laaste besoek op 2007-09-18. Ook verkrygbaar in argiefvorm by [3].
  37. ^ NCLS releases latest estimates of church attendance, National Church Life Survey, Media release. 28 Februarie 2004.
  38. ^ Education at Glance 2005 deur OESO: Percentage of foreign students in tertiary education.
  39. ^ Parliamentary Library (1997). The Reserve Powers of the Governor-General
  40. ^ What happens if I do not vote? uit Voting within Australia - Frequently Asked Questions deur die Australian Electoral Commission. Laaste besoek op 21 Oktober 2006.
  41. ^ Nation Master [4]
  42. ^ Australian Department of Defence (2006).Portfolio Budget Statements 2006–07. Bladsy 19.
  43. ^ We're on a long and slippery slide to disaster deur Colebach, T. in The Age van 2 Maart 2005.
  44. ^ Macfarlane, I. J. (1998). Australian Monetary Policy in the Last Quarter of the Twentieth Century. Reserve Bank of Australia Bulletin, Oktober
  45. ^ Parham, D. (2002). Microeconomic reforms and the revival in Australia’s growth in productivity and living standards in Conference of Economists, Adelaide, 1 Oktober.
  46. ^ Australian Bureau of Statistics. Labour Force Australia. Cat#6202.0
  47. ^ Department of Foreign Affairs and Trade (2003). Advancing the National Interest, Appendix 1

[wysig] Eksterne skakels

Commons
Multimedia oor hierdie onderwerp is te vinde op Wikimedia Commons onder die titel:


Lande en gebiede in Oseanië
Australië | Amerikaans-Samoa | Bakereiland | Cookeilande | Oos-Timor | Fidji | Frans-Polynesië | Guam | Howlandeiland | Jarviseiland | Johnstonatol | Kingmanriff | Kiribati | Marshalleilande | Verbonde State van Mikronesië | Midway Atoll | Nauru | Nieu-Caledonia | Nieu-Seeland | Niue | Norfolkeiland | Noordelike-Marianaeilande | Palau | Palmyra-atol | Papoea-Nieu-Guinee | Pitcairn | Samoa | Solomoneilande | Tokelau | Tonga | Tuvalu | Vanuatu | Wallis-en-Futuna | Wake-eiland

Ander tale


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -