See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Republiek van Sjina - Wikipedia

Republiek van Sjina

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Republiek van Sjina
中華民國
Jhonghuá Mínguó
(Vlag van die Republiek van Sjina) (Landswapen van die Republiek van Sjina)
Geen leuse
Volkslied: San min tsjoe-i
Ligging van Kanada
Amptelike tale Standaardmandaryn (Sjinees)
Hoofstad Taipei
25° 02' N, 121° 38' W
Grootste stad Taipei
Politieke bedeling Demokratiese Republiek
Regeringsvorm Semipresidensiële stelsel
President Chen Shui-bian
Visepresident Annette Lu
Eerste Minister Chang Chun-hsiung
Oppervlakte
 - Totaal
 - % water
Gelys 137ste
36 188 vk km
10,34%
Bevolking
 - Skatting van 2007

 - Bevolkingsdigtheid
Gelys 36ste
22 911 292

633,12/vk km (Gelys 14de)
Stigting van die Republiek van Sjina
- Begin van Xinhai-rewolusie 10 November 1911
- Stigting van die Republiek   1 Januarie 1912
- Verskuiwing van die Republiek
na die eiland Taiwan
7 Desember 1949
BBP (2006)
 - Totaal (KKP)
 - Totaal (nominaal)
 - BBP per capita (KKP)
 - BBP per capita (nominaal)
 - Werkloosheid

$668,3 biljoen (22ste)
$355,708 biljoen (22ste)
$30 084 (17de)
$15 482 (37ste)
--
Geldeenheid Nuwe Taiwan-dollar (NT$) TWD
Tydsone UTC −8 (CST)
Internet TLD .tw
Skakelkode +886

Die Republiek van Sjina (wat dikwels ook Nasionaal-Sjina of Taiwan genoem word) is een van twee Sjinese state wat aanspraak daarop maak dat hulle die regmatige verteenwoordiger van Sjina is (sien ook Volksrepubliek van Sjina). Ná die Kommunistiese oorwinning en magsoorname op die vasteland van Sjina het die Nasionaal-Sjinese Kuomintang-party onder leiding van Tsjiang Kai-sjek na die eiland Taiwan uitgewyk. Vandag is die Republiek van Sjina in teenstelling met die Kommunistiese vasteland 'n demokratiese republiek en een van die mees gevorderde nywerheidslande.

Die Nasionale Chiang Kai-shek-Herdenkingsaal se naam is in laat 2007 gewysig tot Nasionale Herdenkingsaal van die Taiwan-Demokrasie
Die Nasionale Chiang Kai-shek-Herdenkingsaal se naam is in laat 2007 gewysig tot Nasionale Herdenkingsaal van die Taiwan-Demokrasie

Die Republiek van Sjina se ekonomiese geskiedenis is dié van 'n onderontwikkelde land wat sy ekonomie binne enkele dekades herstruktureer en tot een van die welvarendste ter wêreld ontwikkel het. Nog in 1900 was die eiland Taiwan se bevolking slegs twee miljoen mense, en in 1958 is sowat sestig persent van die land se uitvoerwaarde nog met suiker en rys verdien. Hierdie aandeel het reeds in 1972 tot slegs drie persent gedaal.[1] Vandag is die land met sy 22 miljoen inwoners een van die beduidendste produsente van inligtingstegnologie en ander elektronika.

'n Belangrike kenmerk van die Republiek van Sjina se industrialisering is die gelykmatige verspreiding van die welvaartskepping; Samuel P.S. Ho het reeds in 1975 in sy ondersoek oor die industriële ontwikkeling van Taiwan opgemerk dat daar nouliks verskille tussen die inkomste van stedelike werkers en selfstandige plattelandse kleinboere was.[2]

Wetenskaplikes het debat gevoer oor die rol wat die Taiwanese voorbeeld vir ander ontwikkelende lande kan speel. Daar is egter 'n aantal faktore wat moontlik daarop dui dat die Republiek van Sjina voordeel getrek het uit 'n voordelige konstellasie ten opsigte van sy eie sosio-ekonomiese hulpbronne en die Verenigde State se Sjina-beleid in die dekades ná die Tweede Wêreldoorlog:

  • Die relatief klein oppervlakte van die land het die modernisering van die vervoerstelsel, die motorisering van die bevolking en sodoende ook sy mobiliteit vergemaklik.
  • Die Republiek van Sjina se strategies gunstige ligging voor die Sjinese vasteland en naby die seeroete tussen Japan en Europa het in die 20ste eeu die belangstelling van die grootmoondhede gewek: Japan het die eiland sowat vyftig jaar as koloniale moondheid oorheers en ten opsigte van die infrastruktuur en sosiaal-psigologiese ontwikkeling van die bevolking al vroeg die basis vir 'n vinnige ekonomiese ontwikkeling geskep.
  • Die Sjinese burgeroorlog op die vasteland het daartoe gelei dat Sjina se ekonomiese en politieke elite hom ná die Kommunistiese magsoorname in 1949 op die eiland gevestig en met sy wet-en-orde-beleid dekades lank die klimaat vir 'n geforseerde industriële ontwikkeling geskep.
  • Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Verenigde State in ooreenstemming met hulle anti-Kommunistiese Sjina-beleid Taiwan tot 'n soort strategiese "vliegdekskip" net voor die kus van die Kommunistiese vasteland uitgebou.

Geeneen van hierdie redes sal op sigself 'n verklaring kan oplewer vir die ekonomiese opswaai van die land nie; maar hulle kombinasie gedurende die na-oorlogse groeifase van die wêreldekonomie was sekerlik 'n voorvereiste vir die sukses van die Nasionaal-Sjinese model van ontwikkeling.

Inhoud

[wysig] Geografie

Die Republiek van Sjina beslaan sedert die jaar 1949 'n totale oppervlakte van 36 179 vierkante kilometer. Die hoofeiland Taiwan het 'n oppervlakte van 35 801 vierkante kilometer, 'n maksimale lengte van 394 kilometer en 'n maksimale wydte van 144 kilometer.

Taiwan word in die weste deur die Seestraat van Taiwan van die Sjinese vasteland en in die suide deur die Seestraat van Luzon van die Filippyne geskei. In die ooste word Taiwan deur die Filippynse Bekken begrens. Die eiland grens in die noorde aan die Japannese eilandgroep Ryūkyū en die Oos-Sjinese See.

Die Republiek van Sjina op Taiwan behels daarnaas die eilandgroepe Pescadores (Penghu), Matsu (Mazu) en Quemoy (Jinmen) in die Straat van Taiwan asook 'n aantal kleiner eilande wat onder meer in die Suid-Sjinese See lê. Taiwan word net soos Japan dikwels deur aardbewings getref sodat geboue en infrastruktuur aan hoë veiligheidsstandaarde moet voldoen.

[wysig] Staatkundige verhouding met die Volksrepubliek van Sjina

'n Kaart wat die politieke verdelings soos opgetrek deur die Republiek van Sjina en die Volksrepubliek van Sjina wys
'n Kaart wat die politieke verdelings soos opgetrek deur die Republiek van Sjina en die Volksrepubliek van Sjina wys

In die tydperk tussen 1912 en 1949 het die amptelike naam Republiek van Sjina na die staat verwys, wat destyds meer of min die hele Sjinese grondgebied beslaan het. Sedert die jaar 1949 is die magsgebied van die Republiek van Sjina egter beperk tot die eiland Taiwan en 'n aantal eilandgroepe (Kinmen en Matsu) naby die Sjinese vasteland en in die Suidelike Sjinese See (Pescadores-eilande).

Volgens sy grondwet, wat sy historiese oorsprong in die eerste helfte van die 20ste eeu het, maak die Republiek van Sjina nog steeds aanspraak op die hele grondgebied van Sjina, die gebied van die huidige Mongolië en 'n aantal eilande, wat tans deur Japan geadministreer word. Met die begin van die demokratisering van Taiwan in die negentigerjare het hierdie gebiedseise egter geen beduidende rol meer in dié land se buitelandse beleid gespeel nie.

Pogings in 2006 om die republikeinse grondwet van Taiwan ten opsigte van die amptelike grense en soewereiniteit van die eiland te wysig, is veral vanweë die politieke druk van die Verenigde State nie verwesenlik nie, aangesien hierdie beleid as die eerste stap in die rigting van Taiwan se formele onafhanklikheidsverklaring beskou word.

Taiwan se politieke en staatkundige verhouding met die Volksrepubliek van Sjina bly een van die mees ingewikkelde vraagstukke van die internasionale politiek. Die meeste state ter wêreld het sedert 1971 die Volksrepubliek van Sjina in plaas van die Republiek van Sjina diplomaties erken. Internasionale organisasies verwys om politieke redes na die Republiek van Sjina as die "Sjinese Taipei". Desondanks handhaaf Taiwan deur middel van sy handels- en ander kantore nou ekonomiese, kulturele en politieke bande met die res van die wêreld.

[wysig] Ekonomie

[wysig] Kenmerke

Die Republiek van Sjina is die belangrikste vervaardiger van skootrekenaars op die wêreldmark
Die Republiek van Sjina is die belangrikste vervaardiger van skootrekenaars op die wêreldmark

Die Republiek van Sjina beskik oor 'n hoogs ontwikkelde markekonomie. Die land met sy naastenby 23 miljoen inwoners is die 21ste grootste nasionale ekonomie ter wêreld en die 16de grootste handelsnasie.[3] Die bruto geografiese produk beloop per capita VSA-$ 15 911 (nominaal) en VSA-$ 29 000 per capita volgens koopkragpariteit.

Die Republiek van Sjina het as een van die vier sogenaamde "Asiatiese tiers" ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog 'n vinnige ekonomiese groei beleef wat aanvanklik op die uitvoer van landbouprodukte en later op dié van goedkoop nywerheidsgoedere berus het. Die huidige ekonomiese ontwikkeling word veral deur die inligtingstegnologiebedryf aangespoor - die land is hier reeds 'n wêreldmarkleier en verskaf veral OEM-komponente aan rekenaarvervaardigers. Tans word byvoorbeeld 98 persent van alle moederborde, 83 persent van alle skootrekenaars en 70 persent van alle LCD-monitors deur maatskappye uit die Republiek van Sjina vervaardig.[4]

Die land onderhou nou ekonomiese bande met die Volksrepubliek van Sjina, en Taiwannese maatskappye het na ramings tussen 100 en 250 miljard VSA-$ op die Sjinese vasteland belê waar ook 'n groot deel van die vervaardiging plaasvind. Vanweë sy hoë salaris- en loonvlak konsentreer die land hom tans op navorsing en ontwikkeling en hoëtegnologieë wat hoogs opgeleide mannekrag vereis.[5]

[wysig] Verwysings

  1. ^ Schöller, Peter, Heiner Dürr en Eckart Dege (redakteurs): Fischer Länderkunde: Ostasien. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 1987, bl. 209
  2. ^ Ho, Samuel P.S.: Industrialization in Taiwan: Recent Trends and Problems. In: Pacific Affairs (uitgegee deur die Universiteit van Brits-Kolombië), volume 48, nommer 1 (lente 1975), bl. 27-41. Aanlyn beskikbaar: JSTOR aanlyn-argief
  3. ^ Duitse Departement van Buitelandse Sake: Taiwan - Ekonomie
  4. ^ Duitse Departement van Buitelandse Sake: Taiwan - Ekonomie
  5. ^ Duitse Departement van Buitelandse Sake: Taiwan - Ekonomie


Lande in Asië

Afghanistan - Armenië - Azerbeidjan - Bahrein - Bangladesj - Bhutan - Brunei - Ciprus - Filippyne - Georgië - Indië - Indonesië - Irak - Iran - Israël - Japan - Jemen - Jordanië - Kambodja - Kasakstan - Kirgisië - Koeweit - Laos - Libanon - Maldive - Maleisië - Mongolië - Mianmar - Nepal - Noord-Korea - Oesbekistan - Oman - Oos-Timor - Pakistan - Qatar - Rusland - Saoedi-Arabië - Singapoer - Republiek van Sjina (Taiwan) - Sjina - Sri Lanka - Sirië - Suid-Korea - Tadjikistan - Thailand - Turkye - Turkmenistan - Verenigde Arabiese Emirate - Viëtnam


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -