Duitse Demokratiese Republiek
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Nasionale leuse: geen | |||||
Ampstaal | Duits | ||||
Hoofstad | Oos-Berlyn | ||||
Grootste stad | Oos-Berlyn | ||||
Bevolking | 16 350 000 (1990) | ||||
Oppervlakte - Totaal - % water |
Gelys 106de 108 333 km² -- |
||||
Gevorm - Duitse hereniging |
7 Oktober 1949 3 Oktober 1990 |
||||
Geldeenheid | Mark van die DDR | ||||
Tydsone – in somertyd |
CET (UTC+1) CEST (UTC+2) |
||||
Volkslied | Auferstanden aus Ruinen | ||||
Internet TLD | .dd (nooit gebruik nie) | ||||
Skakelkode | +37 | ||||
Die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) het as 'n Sosialistiese Duitse "Arbeiders- en Boerestaat" tussen 7 Oktober 1949 en 2 Oktober 1990 op die grondgebied van die voormalige Sowjet-besettingsone in Oos-Duitsland en die Sowjet-sektor van (Oos-) Berlyn bestaan.
Die staat, wat vyf maande na die stigting van die Westerse Bondsrepubliek Duitsland amptelik uitgeroep is, is steeds deur die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED), 'n samesmelting van die voormalige Kommunistiese en Sosiaal-Demokratiese Partye van Duitsland, oorheers en het in politieke en ekonomiese opsig steeds 'n deel van die Oosblok gevorm.
Die sentraal geleide ekonomie van die DDR het nie daarin geslaag om dieselfde hoë lewenstandaard soos in Wes-Duitsland te skep nie, alhoewel die land as die welvarendste in die Oosblok beskou is. Om die groot stroom vlugtelinge, wat in die vyftiger- en vroeë sestigerjare 'n nuwe heenkome Wes-Duitsland gesoek het, te beperk, het die SED-regering 'n bewaakte grenslyn met Wes-Duitsland ingerig.
Die uitgebreide welvaartstelsel, wat 'n werksgeleentheid vir iedereen, bekostigbare behuising en lae pryse vir stapelvoedsel voorsien het, het ná die oliekrisis in die sewentiger- en ingevolge die globaliseringstendense van die tagtigerjare tot ekonomiese bankrotskap van die DDR gelei. Die demokratisering van die Sowjetunie in die tyd van die glasnost- en perestrojka-beleid het uiteindelik ook die politieke en militêre magsbasis van die SED-heerskappy deurbreek. Ná massabetogings in die jaar 1989 het in 1990 die eerste demokratiese verkiesings plaasgevind. In die somer van daardie jaar is ook die Wes-Duitse geldstelsel ingevoer wat die ou Mark der DDR (Mark van die DDR) vervang het.
Op 3 Oktober 1990 het die vyf nuwe deelstate van die DDR (Mecklenburg-Voorpommeren, Brandenburg, Sakse-Anhalt, Sakse en Thüringen) met die Bondsrepubliek Duitsland (waarna vroeër dikwels ook as Wes-Duitsland verwys is) verenig.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Stigting van die DDR
Op die gebied van die Sowjet-besettingsone is die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (SED) tot 'n tipiese kaderparty volgens die model van die Sowjetunie se Kommunistiese Party omgevorm, ander politieke partye en organisasies is "gelykgeskakel", en die amptelike vakbond FDGB het net 'n kontrolerende funksie ten opsigte van produksieplanne en arbeidsnorme vervul.
By die verkiesings van die 3de Volkskongres in Mei 1949 het kandidate op gemeenskaplike lyste verskyn wat deur die SED oorheers is. Die afgevaardigdes het die Volksraad se ontwerp vir 'n nuwe grondwet goedgekeur.
In Mei 1949 het die Volksraad - in reaksie op die stigting van die Bondsrepubliek Duitsland (BRD) in die drie geallieerde besettingsones van Wes-Duitsland in dieselfde maand - die Duitse Demokratiese Republiek met Wilhelm Pieck (1876-1960) as staatspresident en Otto Grotewohl (1894-1964) as eerste minister geproklameer. Die Sowjetiese militêre bewind van Oos-Duitsland het begin om administratiewe bevoegdhede aan die nuwe regering oor te dra.
Die nuwe grondwet het voorsiening vir die beskerming van mense- en grondregte gemaak, wat ook die reg op arbeid, ontspanning en welsyn ingesluit het, maar burgers tegelykertyd ook verplig tot dienslewering aan nuwe Sosialistiese verworwenhede soos volksbesit en die sentraalbeheerde ekonomie. "Ophitsing tot boikotte" (Duits: Boykotthetze) is volgens artikel 6 van die grondwet gekriminaliseer. Die grondwet het geen voorsiening gemaak vir 'n grondwetlike hof of onafhanklike regters nie. Die SED, die administrasie en staatsinstellings is volgens die beginsel van "demokratiese sentralisme" georganiseer. In 1960 is ook die funksies van die staatspresident oorgeneem deur die Staatsraad (Duits: Staatsrat) wat gemagtig was om wette sonder goedkeuring van die nasionale parlement ("Volkskammer") te besluit. Die organe van die SED (Sentraalkomitee, Politburo en Sekretariaat) het oor absolute gesag beskik en alle politieke prosesse oorheers. Walter Ulbricht (1893-1973), een van die stigters van die Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en 'n voorstander van 'n beleid wat nou aan die Sowjet-partylyn georiënteer was, het 'n groot magskonsentrasie in sy hande bewerkstellig. Die sogenaamde Gruppe Ulbricht, 'n groep van Kommunistiese funksionarisse onder leiding van Ulbricht, het 'n groot invloed op die politieke en maatskaplike ontwikkeling van die DDR uitgeoefen.
Die ekonomiese situasie was as gevolg van oorlogskade en herstelbetalings aan die Sowjetunie baie moeilik. Meer as 1 000 nywerhede, waaronder hoogs ontwikkelde optiese bedrywe, is volledig na die Sowjetunie verskeep. Die vervoerstelsel was gemik op verbindings met die Wes-Duitse nywerheidsgebiede, en by die heropbou van die land kon Oos-Berlyn nie voordeel trek uit die Verenigde State se ekonomiese Marshall-plan. Nogtans het in die 1950's die normalisering van die ekonomiese lewe begin, en geleidelik was ná die ontberings van die laat veertigerjare meer verbruiksgoedere in staatsbeheerde winkels beskikbaar.
[wysig] Opbou van 'n Sosialistiese stelsel
Reeds vanaf die vroeë 1950's was die binnelandse beleid deur 'n toenemende militarisering van die openbare lewe en die onderdrukking van die politieke opposisie deur middel van 'n grootskaalse geheimediens-apparaat gekenmerk. Die berugte Ministerium für Staatssicherheit ("Departement van Staatsveiligheid") is in 1950 gestig, terwyl die Kasernierte Volkspolizei, 'n militêre vleuel van die polisiediens Volkspolizei ("Volkspolisie"), in 1952 as voorloper van die latere DDR-weermag Nationale Volksarmee in die lewe geroep is. Die SED het daarnaas ook oor halfmilitêre organisasies (Kampftruppen) in fabrieke en die sogenaamde Gesellschaft vir Sport und Technik (GST) beskik.
Die oorspronklike Volkskongres is onder leiding van die SED omgebou tot die Nasionale Front, 'n samesluiting van alle politieke partye wat oor plaaslike takke in ondernemings en woonhuise beskik het. Die organisasie was onder meer belas met die opstel van kandidatelyste vir verkiesings van regters en afgevaardigdes, politieke voorligting, die "Stryd vir Vrede en Duitse Eenheid", en die infiltrasie van KPD-agente en propagandamateriaal na Wes-Duitsland.
Die SED se IIde Partykonferensie, wat in 1952 gehou is, het die formele besluit geneem om met die opbou van 'n Sosialistiese stelsel te begin. Die administratiewe struktuur is verander, en die vyf oorspronklike deelstate is in veertien administratiewe distrikte opgesplits. Om 'n einde aan die voortgesette onwettige emigrasie na Wes-Duitsland te maak, is die westelike grenslyn met drade, versperrings, wagtorings en mynvelde versterk.
Ná die Sowjetleier Josef Stalin se afsterwe in 1953 het die DDR-bewind 'n nuwe beleid ("Neuer Kurs") afgekondig waarvolgens die ekonomiese lewensomstandighede van die bevolking meer aandag sou geniet. Die verhoging van verpligte arbeidsnorme het in Junie van dieselfde jaar tot protesaksies in Oos-Berlyn gelei wat vinnig oor die hele land versprei het en uiteindelik deur Sowjettroepe onderdruk is. 'n Groot aantal betogers is in hegtenis geneem en sommige standregtelik doodgeskiet, terwyl baie mens na Wes-Duitsland gevlug het.
[wysig] Ekonomiese ontwikkeling tot by 1966
Die eerste vyfjaarplan van die jaar 1951 het die klemtoon op die opbou van swaar nywerhede gelê, en vanaf 1952 het die gedwonge kollektivering van die landbousektor plaasgevind. Staatsbeheerde Landboukundige Produksie-koöperasies (Duits: Landwirtschaftliche Produktionsgenossenschaften, LPG) het privaatboerderye geleidelik vervang. Die Sowjetkorporasie (Duits: Sowjetische Aktiengesellschaft, SAG) is in ondernemings in volksbesit (VEB) herorganiseer.
Die Sowjetunie het die nuwe ekonomiese beleid van 1953 goedgekeur en afstand van verdere herstelbetalings in verband met sy oorlogskade gedoen. Die DDR-ekonomie het toenemend begin herstel - arbeidsnorme is verlaag, die rantsoenering van tekstiele en skoene gestaak. Nogtans het die inflasiedruk weens die knellende tekort aan buitelandse valuta en verbruikersgoedere groot gebly, en die regering was genoodsaak om in 1957 'n tweede monetêre hervorming deur te voer.
Die vyfjaarplan van die periode 1956-1960 was gemik op die modernisering van ekonomie en matskappy deur middel van die "wetenskaplik-tegniese rewolusie". Met die suksesvolle lansering van die wêreld se eerste satelliet Spoetnik deur Sowjet-wetenskaplikes in 1957 is 'n fase van maatskaplike en ekonomiese euforie ingelui wat deur die ekonomiese herstel nog versterk is. Die laaste voedselkaarte, waarmee basiese voedselprodukte gerantsoeneer is, is in Junie 1958 uitgereik. Nogtans was baie goedere moeilik verkrygbaar, en tot by die 1960's is sogenaamde klantelyste gevoer waarmee skaars produkte eers ná afloop van 'n bepaalde wagtyd gekoop kon word.
Die SED se Vde Partykongres in 1958 het die oorgang tot die "Voltooing van die Sosialisme" afgekondig en die besluit geneem om tot by die jaar 1961 by Wes-Duitsland se lewensstandaard verby te steek. Die ekonomiese leuse van die dag was Überholen und einholen ("Verbysteek en inhaal") - binne drie jaar sou DDR-burgers se per capita-verbruik van basiese voedsel soos vleis en botter en hulle toerusting met koelkaste, wasmasjiene en televisietoestelle dié van Wes-Duitsers verbygesteek het.[1] Ironies genoeg was Walter Ulbricht later vanweë die blywende ekonomiese agterstand genoodsaak om 'n nuwe leuse te gebruik - Überholen ohne einzuholen (dit wil sê by die Wes-Duitse ekonomie verbysteek sonder om dit in te haal). Nogtans is die rantsoenering van voedsel opgehef en alle Departemente van Produksie, wat die vervaardiging van verbruikers- en ander goedere beheer het, ontbind.
Met die Sewejaarplan, wat in 1958 afgekondig is, is die nasionalisering van ondernemings en vanaf 1960 ook die kollektivering van die landbousektor geforseer. Die VIde Partykongres in 1963 het voorsiening gemaak vir 'n nuwe ekonomiese stelsel van beplanning en beheer waarvolgens nasionale ondernemings winste kon maak en wat sodoende aansporings vir hoër produktiwiteit gebied het. In 1965 is 'n handelsooreenkoms met die Sowjetunie gesluit, waarop een jaar later soortgelyke ooreenkomste met ander Oosbloklande, Italië en Oostenryk gevolg het.
[wysig] Afgrensing teen Wes-Duitsland
Die afgrensing teen Wes-Duitsland en pogings om internasionale erkenning te kry was in die 1960's en 1970's bo-op die DDR-regering se agendalys. Op 20 Februarie 1967 is die wet oor 'n DDR-burgerskap aangeneem en ooreenkomste met Pole (13 Maart) en die Tsjeggoslowaakse Sosialistiese Republiek (17 Maart) gesluit wat die DDR se vriendskaplike betrekkinge met dié twee lande bekragtig het.
In 1968 is 'n nuwe grondwet deur middel van 'n volkstemming bevestig, en in dieselfde jaar het DDR-troepe aan die Warskouverdrag-lidlande se optrede teen die hervorminggesinde Tsjeggoslowaakse regering deelgeneem. Een jaar later het die eerste state buite die Oosblok - waaronder Irak en Kambodja - begin om die DDR amptelik te erken, en tot by 1973 het Oos-Berlyn diplomatieke betrekkinge met die meeste lande gesluit.
Toe Walter Ulbricht op 3 Mei 1971 as staats- en partyleier deur Willi Stoph (Voorsitter van die Staatsraad) en Erich Honecker (Eerste Sekretaris van die SED se Sentrale Komite, vanaf 1973 as opvolger van Stoph ook Voorsitter van die Staatsraad) vervang is, het baie mense op 'n liberalisering van die binnelandse beleid gehoop. Nogtans het Honecker met die nasionalisering van die meeste oorblywende ondernemings in privaatbesit voortgegaan.
Die meeste veranderinge het op die tereein van buitelandse betrekkinge plaasgevind. Op 1 Januarie 1972 is die grense met Pole en Tsjeggoslowakye geopen, en op 21 Junie 1973 is 'n ooreenkoms met Wes-Duitsland aangegaan waarmee wedersydse betrekkinge gereël en uitgebou is. Ten opsigte van die sogenaamde "Duitse kwessie" het die twee Duitse regerings uiteenlopende standpunte gehuldig. Terwyl die DDR-regering daarop gedring het dat die Bondsrepubliek Duitsland die soewereiniteit en aparte burgerskap van die DDR moes erken, het die Wes-Duitse regering steeds die eenheid van die Duitse nasie en die besondere karakter van die wedersydse betrekkinge beklemtoon. In 'n reaksie hierop het die DDR-regering met die grondwetwysiging van Oktober 1974 alle verwysings na 'n "Duitse nasie" uit die teks geskrap. Die IXde Partykongres in Mei 1976 het die uitbou van betrekkinge met Wes-Duitsland op die basis van volkeregtelike afgrensing bekragtig.
[wysig] Stabilisering
Honecker se binnelandse beleid was volgens 'n besluit van die SED-partyleiding veral daarop gemik om die "eenheid van die ekonomiese en sosiale beleid" (Einheit der Wirtschafts- und Sozialpolitik) te bewerkstellig. Die hoofdoelwit was om die bevolking se algemene tevredenheid en sodoende ook die arbeidsproduktiwiteit deur 'n geforseerde groei van die lewensstandaard en koopkrag te verhoog. Een van die beleid se belangrikste projekte was 'n ambisieuse bouprogram waarmee die regering die groot woningsnood tot en met 1990 effektief wou bestry. In die tydperk tot 1980 is tussen 700 000 en 800 000 nuwe gerieflike woonstelle gebou of gemoderniseer, en in 1990 het die aantal nuwe woonstelle - wat oorwegend met voorgefabriseerde modules opgerig is - volgens amptelike statistieke die 3-miljoenkerf oorskry. Latere statistieke het egter bewys dat hierdie syfers by verre oordrewe was en die aantal nuwe woonstelle minder as twee miljoen beloop het.
'n Verdere doelwit was die invoer van Westerse nywerheidsinstallasies en produksieaanlegte vir die vervaardiging van uitvoer- en verbruikersgoedere. Hierdie beleggings is met lenings van Westerse banke gefinansieer wat volgens amptelike planne vanaf die laat 1970's met uitvoerinkomste gedelg sou word. Aangesien met hierdie beleid vir die eerste keer in die geskiedenis groot buitelandse skuldlaste in die weste opgehoop is, word hierdie periode deur sommige navorsers as die begin van die DDR se ekonomiese agteruitgang beskou.
Die inheemse bruinkoolvoorrade is as die hoofsaaklike energiebron ontgin en vir verwarmingsdoeleindes en kragopwekking gebruik. Ru-olie, wat uit die Sowjetunie ingevoer is, is vanweë sy hoë prys as te kosbaar geag en eerder plaaslik veredel en as 'n bron van buitelandse valuta na westerse lande uitgevoer. 'n Kouegolf in die winter van 1978/79 het egter getoon hoe kwesbaar die land as gevolg van sy afhanklikheid van bruinkool al was: Die dagmynbouaktiwiteite moes twee weke lank gestaak word, en weens gebrek aan voorrade het die hele ekonomie tot stilstand gekom.
Op kulturele gebied het die DDR-bewind 'n meer verdraagsame houding teenoor kunstenaars en intellektueles begin inneem om sodoende die kloof tussen bevolking en partyleiding te oorbrug. In 1976 is hierdie beleid skielik gewysig: Die bewind het die DDR-protessanger Wolf Biermann se DDR-burgerskap tydens 'n Wes-Duitse konsertreis teruggetrek. Die besluit het die aanleiding tot 'n aantal protesaksies deur bekende DDR-kunstenaars gegee - 'n ongekende gebeurtenis vir die Oos-Duitse bewind. Talle kunstenaars is daarna gedwing om na Wes-Duitsland te emigreer, ander is in hegtenis geneem. Die geskil het in 1979 'n nuwe hoogtepunt bereik toe 'n aantal bekende outeurs hul lidmaatskap van die amptelike DDR-skrywersvereniging verloor het.
[wysig] Die ekonomiese krisis van die 1980's
Vanweë die hoë koste, wat aan die wapenwedloop teen die Verenigde State verbonde was, het die Sowjetunie vanaf 1981 toenemend ekonomiese moeilikhede in die gesig gestaar. Die land was onder meer genoodsaak om die prys vir sy ru-olie te verhoog en tegelykertyd sy uitvoere na die DDR van 19 tot 17 miljoen ton jaarliks te verminder.[2] Die DDR het sy vernaamste bron van buitelandse valuta skielik kwytgeraak. In 1982 was die land vir die eerste keer nie meer in staat om sy lenings te delg en die rente daarop te betaal nie, terwyl dit ook by westerse nie meer oor genoegsame kredietwaardigheid beskik het nie.
Ná onderhandelinge met die Wes-Duitse regering - waarin die eerste minister van die deelstaat Beiere, Franz Josef Strauß, 'n belangrike rol gespeel het - het die Bondsrepubliek Duitsland vir twee nuwe lenings ter waarde van twee miljard Deutsche Mark gewaarborg. In ruil hiervoor het die DDR outomatiese wapens langs die grens met Wes-Duitsland verwyder en minder strenge toegangsvereistes vir Wes-Duitse besoekers afgekondig.
In die laat tagtigerjare het die ekonomiese verval van die land duidelik sigbaar geword - herstelwerk en nuwe beleggings ten opsigte van sy nywerheidsinstallasies en produksieaanlegte was nie meer bekostigbaar nie. Terwyl die staat sy grootskaalse behuisings- en ander sosiale programme moes befonds, was die koste vir die modernisering van nywerhede onder meer as gevolg van westerse handelsbeperkings ten opsigte van mikroelektronika en ander nuwe tegnologieë baie hoog. In 1989 was die ekonomiese situasie reeds dramaties, en dit was duidelik dat die ekonomie sonder Wes-Duitse ondersteuning uiteindelik in duie sou stort.
[wysig] Verwerping van Gorbatsjef se hervormingsbeleid
Die Sowjet-leier Michail Gorbatsjef, wat in 1985 aan bewind gekom het, het die neergang van die Sosialistiese stelsel met sy hervormingsbeleid van glasnost ("openheid") en perestrojka ("herstrukturering") probeer teenwerk. In 1988 het hy met sy herroeping van die Bresjnef-doktrine die pad geopen vir 'n onafhanklike en demokratiese ontwikkeling van alle Oosbloklande.
Die DDR-bewind het hierdie hervormingsbeleid verwerp en hom van die Sowjetunie gedistansieer. Gorbatsjef se kritiese uitlatings oor sy ampsvoorgangers is in Oos-Duitse koerante nie gepubliseer nie, en 'n aantal tydskrifte, koerante en anti-Stalinistiese rolprente uit die Sowjetunie is in die DDR selfs verbied. In 1988 het Erich Honecker sy afkeur vir die hervormingsbeleid van Gorbatsjef amptelik verklaar.
[wysig] Emigrasie
Baie DDR-burgers het gevoel dat die land geen toekoms meer vir hulle kon bied nie, en reeds in 1984 het die stroom emigrante wat hulle in Wes-Duitsland gevestig het versnel tot 40 900. Baie voornemende emigrante het na die Wes-Duitse ambassades in Praag en Oos-Berlyn gevlug om die uitreiking van emigrasie-permitte af te dwing. Nadat die DDR-owerhede permitte aan hulle toegesê het, het die vlugtelinge die ambassades weer ontruim.
Op 2 Mei 1989 het Hongarye begin om sy grensversterkings langs die grens met Oostenryk te demonteer. Honderde Oos-Duitse burgers het nou geprobeer om oor hierdie grens na die weste te vlug, terwyl baie ander in die Wes-Duitse ambassades in Boedapest, Praag, Warskou en Oos-Berlyn aansoek om Wes-Duitse paspoorte gedoen het. In Augustus en September is die ambassades weens die oorgrote aantal aansoekers gesluit. Die vlugtelinge in Wes-Duitse ambassades is met spesiale treine na Wes-Duitsland vervoer, en toe hulle deur die DDR gery het, het talle mense geprobeer om nog op die treine te spring. In Dresden se hoofstasie het gewelddadige konfrontasies tussen betogers en polisiemanne plaasgevind.
Gedurende die "Pan-Europese Piekniek" op 19 Augustus 1989 in die Hongaarse stad Soprom het 'n groot aantal Oos-Duitse burgers na Oostenryk gevlug, terwyl die Wes-Duitse deelstaat Beiere in Augustus begin het om die eerste kampe vir vlugtelinge klaar te maak. In September 1989 het die Hongaarse owerhede sowat 30 000 Oos-Duitse burgers toegelaat om die grens na Oostenryk te oorskry.
[wysig] Politieke omwenteling
Sedert 4 September 1989 het in Leipzig elke Maandag massabetogings plaasgevind, en ook die feesvierings ter geleentheid van die veertigste verjaardga van die Duitse Demokratiese Republiek op 7 Oktober is in die hele land deur protesaksies oorskadu. Op 9 Oktober het 70 000 mense aan die betoging in Leipzig deelgeneem en vir die eerste keer die leuse Wir sind das Volk ("Ons is die volk") gebruik.
Op 18 Oktober 1989 het Erich Honecker as staats- en partyleier bedank en is deur Erich Krenz opgevolg. Die grootste massabetoging ooit in die geskiedenis van die land met een miljoen deelnemers, wat op 4 November 1989 op die Berlynse Alexanderplein plaasgevind het, is deur die DDR-televisie uitgesaai. Die opposisie het in die herfs van 1989 'n aantal bewegings en partye gestig, waarvan die Neue Forum die belangrikste was, en die leidende rol van die SED bevraagteken. Hulle het demokratiese hervormings en vrye verkiesings geëeis.
Regering en Politburo het op 7 November 1989 bedank, en op 9 November het die regering bekend gemaak dat alle burgers sonder enige voorwaardes aansoek om permitte vir reise na die buiteland kon doen. Duisende mense het by die grensposte vergader, en grenssoldate het sonder enige bevel die grenshekke geopen. Miljoene burgers het op die volgende dag 'n besoek aan Wes-Berlyn en ander stede oorkant die grens afgelê.
Vroeg in Desember 1989 het die SED alle verwysings in die grondwet na sy leidende rol in die staat laat skrap, Egon Krenz het bedank. 'n Polisie-ondersoek rakende die rol van Erich Honecker en ander belangrike SED-funksionarisse is ingestel, terwyl onderhandelinge met opposisie-groepe begin het. Die SED het sy naam op 17 Desember 1989 gewysig na "SED/PDS" ("Party van die Demokratiese Sosialisme") en op 4 Februarie 1990 na "PDS". Die advokaat Gregor Gysi is as nuwe voorsitter verkies.
[wysig] Duitse hereniging
Ná die val van die Berlynse Muur en veral sedert Januarie 1990 het mense tydens die massabetogings die hereniging van die twee Duitse state begin eis; hul nuwe leuse was Wir sind ein Volk ("Ons is een volk"). Op 15 Januarie 1990 het betogers die hoofkwartier van die geheimediens MfS in Berlyn gestorm. In Februarie 1990 het die Wes-Duitse bondskanselier Helmut Kohl, Michail Gorbatsjef en Hans Modrow (voorsitter van die DDR-Ministerraad) onderhandelinge oor die Duitse hereniging begin.
Op 18 Maart 1990 het die Allianz für Deutschland die eerste vrye verkiesing gewen; Lothar de Maizière is op 12 April 1990 as nuwe eerste minister ingehuldig. Op 1 Julie 1990 het die monetêre, ekonomiese en sosiale unie tussen die BRD en DDR in werking getree. Op 31 Augustus 1990 het verteenwoordigers van die twee Duitse state die ooreenkoms oor die Duitse hereniging onderteken wat op 20 September ook deur die Volkskammer goedgekeur is. In die sogenaamde "Twe-plus-vier-onderhandelinge" het die vier geallieerde moondhede die ooreenkoms op 12 September goedgekeur. Op 3 Oktober 1990 het die Duitse Demokratiese Republiek formeel by die Bondsrepubliek Duitsland aangesluit; Duitsland was na veertig jaar weer verenig.
[wysig] Politiek
Die Duitse Demokratiese Republiek was 'n Sosialistiese volksrepubliek, en sy politieke en administratiewe strukture is volgens die beginsels van die demokratiese sentralisme ontwikkel. Die amptelike instellings het slegs formeel politieke gesag uitgeoefen, terwyl in die praktyk alle belangrike besluite deur die leierskap van die eenheidsparty SED geneem is. Instellings soos die Volkskammer (die parlement van die DDR), die Ministerrat ('n orgaan van die parlement, wat as regering fungeer) en die Staatsrat ('n kollektiewe raad en eweneens orgaan van die parlement, wat ná die afsterwe van die eerste en enigste president van die DDR, Wilhelm Pieck, ingestel is en waarvan die voorsitter as staatshoof gefungeer het) het tot by die politieke veranderings van die jaar 1989 slegs hulle toestemming aan die besluite verleen wat vooraf deur die SED-leierskap geneem is.
Die Volkskammer as die nasionale parlement het oor 500 setels beskik wat volgens 'n vaste formule verdeel is: SED 127 setels, massa-organisasies 165 setels (FDGB 68, DFD 35, FDJ 40, Kulturbund 22), CDU, DBD, LDPD en NDPD 52 setels elk. Ondanks die geallieerde statuut van Berlyn het die 66 Oos-Berlynse afgevaardigdes in die tagtigerjare volle stemreg gekry en is regstreeks verkies - die DDR en die Sowjetunie het beweer dat Oos-Berlyn lankal Oos-Duitse grondgebied sou wees en geallieerde wette nog net op Wes-Berlyn toegepas kon word.
In teenstelling met die demokratiese beginsels van die grondwet van die DDR het die eenheidslys van kandidate, wat deur die Nasionale Front saamgestel is, as grondslag vir nasionale verkiesings gedien. Die SED, wat as oorheersende party opgetree en alle besluite oor die politieke, ekonomiese, kulturele en maatskaplike ontwikkeling van die land geneem het, het by sy besluitnemings steeds ook die politieke leierskap van die Sowjetunie geraadpleeg.
Die nuwe grondwet van die jaar 1968 het die oorheersende rol van die SED bevestig. Artikel 1 van die grondwet het bepaal:
"Die Duitse Demokratiese Republiek is 'n sosialistiese staat van die arbeiders en boere. Hy is die politieke organisasie van die werkers in die stede en op die platteland onder die leierskap van die arbeidersklas en sy Marxisties-Leninistiese party."
Met die wysigings van 7 Oktober 1974 is alle verwysings na 'n toekomstige hereniging met die Bondsrepubliek Duitsland uit die DDR se grondwet verwyder.
Die politieke ontwikkeling van die DDR is sodoende in die algemeen deur die lede van die Politburo en die Sekretariaat van die Sentrale Komitee van dier SED bepaal. Danksy die sentralistiese strukture op feitlik alle gebiede van die maatskaplike lewe (Nomenklatura), 'n hoogs ontwikkelde binnelandse geheimdiens van die Ministerium für Staatssicherheit en sensuurmaatreëls vir die pers, radio en televisie, insluitende polisieoptrede teen aanhangers van enige opposisiebeweging het die party vir homself 'n magsbasis geskep wat eers na sowat veertig jaar in duie gestort het.
Die regstelsel van die DDR het nie aan die vereistes van 'n westelike regstaat voldoen nie. Advokate het nie as onafhanklikes opgetree nie, en hulle is ook nie toegelaat om amptelike dokumente te bestudeer nie. Net soos die regters het hulle in 'n regsaak slegs 'n samevattende verslag ontvang.
Die SED het die politisering en militarisering van die hele maatskappy bevorder. Die ideologie van die party was daarop gemik die politieke en maatskaplike stelsel van die DDR af te grens van die Westerse kapitalisme. Dit het gebruik gemaak van 'n stereotiepe vyandbeeld wat voortdurend in die media gepropageer is.
Op internasionale vlak was die DDR 'n lid van die Warschau-Verdragsorganisasie en die Raad vir Wedersydse Ekonomiese Bystand, COMECON. Sedert 1973 was die land 'n lidstaat van die Verenigde Nasies.
Die DDR het steeds vasbeslote teen die rasseskeidingsbeleid van die Suid-Afrikaanse regerings voor 1994 opgetree.
[wysig] Partye en massa-organisasies
Die ekwivalent van die Kommunistiese Party in die Duitse Demokratiese Republiek was die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland (Duits: Sozialistische Einheitspartei Deutschlands, SED), wat in 1946 in die Sowjetse besettingsone deur die samesmelting van die Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en die Sosiaal-Demokratiese Party van Duitsland (SPD) gevorm is. Dit was die oorheersende party in die DDR se Nasionale Front (Nationale Front), 'n verbond van politieke partye en massa-organisasies.
Die groot rol, wat massa-organisasies soos die Vrye Duitse Jeug (Freie Deutsche Jugend, FDJ), Vrye Duitse Vakbond (Freier Deutscher Gewerkschaftsbund, FDGB), die Demokratiese Vrouebond van Duitsland (Demokratischer Frauenbund Deutschlands, DFB), die Duitse Gimnastiek- en Sportvereniging (Deutscher Turn- und Sportbund, DTSB), die Volkssolidariteit (Volkssolidarität, 'n organisasie wat hom vir die belange van bejaardes en bejardesorg beywer het), die Genootskap vir Duits-Sowjetse Vriendskap (Gesellschaft für Deutsch-Sowjetische Freundschaft, DSF), die Genootskap vir Sport en Tegniek (Gesellschaft für Sport und Technik, GST) en die Kulturele Verbond (Kulturverbund) in die maatskaplike lewe gespeel het, was kenmerkend vir die politieke stelsel van die DDR.
Die FDJ, die FDGB en die Vrouebond was naas die politieke partye in die parlement van die DDR, die Volkskammer, verteenwordig.
[wysig] Die Nasionale Front
Naas die SED en die massa-organisasies DFD, FDJ, FDGB, die Kulturbund en die Vereinigung der gegenseitigen Bauernhilfe (Vereniging van die wedersydse Boerebystand, VdgB) is die Nasionale Front in die DDR gevorm deur die
- Christlich-Demokratische Union Deutschlands (Christelik-Demokratiese Unie van Duitsland, CDU), wat na die Duitse hereniging met die CDU van die Bondsrepubliek Duitsland saamgesmelt het
- Demokratische Bauernpartei Deutschlands (Demokratiese Boereparty van Duitsland, DBD), wat na die Duitse hereniging met die CDU an die Bondsrepubliek Duitsland saamgesmelt het
- Liberal-Demokratische Partei Deutschlands (Liberaal-Demokratiese Party van Duitsland, LDPD), wat na die Duitse hereniging met die Freie Demokratische Partei (Vrye Demokratiese Party) van die Bondsrepubliek Duitsland saamgesmelt het
- Nationaldemokratische Partei Deutschlands (Nasionaal-Demokratiese Party van Duitsland, NPD), wat na die Duitse hereniging met die Freie Demokratische Partei van die Bondsrepubliek Duitsland saamgesmelt het
Met die Duitse hereniging het die SED sy naam verander na Party van die Demokratiese Sosialisme (Partei des Demokratischen Sozialismus, PDS).
[wysig] Verwysings
[wysig] Bronne
Kinder, Hermann en Hilgemann, Werner: dtv-Atlas zur Weltgeschichte. Boekdeel 2: Von der Französischen Revolution bis zur Gegenwart. München: dtv 1980