See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Brandenburg - Wikipedia

Brandenburg

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Land Brandenburg
Landsvlag Landswapen
Flagge von Brandenburg Wappen von Brandenburg
Basiese gegewens
Hoofstad: Potsdam
Oppervlak: 29.478,63 vk km (5de)
Bevolking: 2 547 800 (10de) (31 Desember 2006)
Bevolkingsdigtheid: 86,4 inwoners per vk km (15de)
BGP
 - Totaal
 - % van Duitse BGP
2005
48,05  miljard €
2,1 %
Nie-amptelike volkslied: Märkische Heide
Skuldlas per inwoner: 6 640 € (einde 2005)
Totale skuldlas: 16,4 miljard € (2004)
Werkloosheidsyfer: 16,5 % (November 2005)
ISO 3166-2: DE-BR
Amptelike webwerf: www.brandenburg.de
Politiek
Eerste minister: Matthias Platzeck (SPD)
(sedert 27 Junie 2002)
Regering: Koalisieregering (SPD en CDU)
Setels in die parlement
sedert Oktober 2004 (88 setels):
SPD 33
Linksparty 29
CDU 20
DVU 6
Laaste verkiesing: 19 September 2004
Volgende verkiesing: herfs 2009
Parlementêre verteenwoordiging
Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): 4
Kaart
Lage des Bundeslandes Brandenburg in Deutschland
Brandenburg: Stechlinmeer
Brandenburg: Stechlinmeer

Brandenburg (Neder-Sorbies: Bramborska, Opper-Sorbies: Braniborska) is 'n deelstaat in die noordooste van Duitsland. Die administratiewe hoofstad is Potsdam. Brandenburg grens in die ooste aan Pole, in die suide aan die deelstaat Sakse, in die weste aan die deelstaat Sakse-Anhalt, in die uiterste weste langs 'n klein deel van die Elbe se rivierloop aan die deelstaat Nedersakse en in die noorde aan Mecklenburg-Voorpommeren. Die Duitse hoofstad Berlyn, wat 'n eie deelstaat vorm, word volledig deur Brandenburg omring.

Brandenburg is een van vyf nuwe oostelike deelstate in Duitsland, wat ná die Duitse hereniging op 3 Oktober 1990 op die gebied van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek gevorm is. Sy infrastruktuur is veral op Berlyn gerig, wat soos 'n eiland in die hart van Brandenburg lê. Saam met Berlyn vorm Brandenburg die metropolitaanse gebied (Duits: Metropolregion) Berlyn-Brandenburg, en ook die welvarendste stede en dorpe van Brandenburg lê in die omgewing van Berlyn. Baie voormalige bewoners van die Duitse hoofstad het hulle hier in die landelike groen gordel gevestig.

Die periferie van Brandenburg word deur yl bevolkte gebiede gekenmerk, wat veral op die landbou steun, soos Prignitz, Fläming, Spreewald, Oderbruch of Uckermark. In die omgewing van die stad Cottbus in die suidooste lê uitgestrekte dagboumyngebiede, waar groot hoeveelhede bruinkool vir die termiese kragsentrales van die gebied ontgin word.

Op die oog af is Brandenburg met meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope een van die waterrykste deelstate van Duitsland. Maar ondanks hierdie groot hoeveelhede oppervlakwater is daar 'n tekort aan grondwater, en die gebied ontvang in vergelyking met ander deelstate 'n lae reënval.

Inhoud

[wysig] Geografie

Landskap in die Spreewald
Landskap in die Spreewald

Brandenburg lê in die Noord-Duitse Laagvlakte. Sy reliëf word deur twee heuwelreekse en twee laagtes oorheers. Die laagtes is riviervalleie, wat aan sy kante deur moerasgebiede begrens word. Hulle is meestal drooggelê en het vroeër groot hoeveelhede turf opgelewer. Die riviervalleie word in die plaaslike Duitse vakterminologie Bruch of Luch genoem.

Die noordelike Brandenburg beslaan net klein dele van die Mecklenburgse Mereplato se Noordelike of Baltiese Heuwelreeks. Die heuwelreeks in die suide loop oor 'n lengte van 230 kilometer van die Lausitzer Hoogtes (of meer presies die Sorause Sandberge) in die ooste or Triebel en Spremberg, Calau in die noordweste en tot by die kaal en dorre Fläming, wat sy naam aan Vlaamse setlaars ontleen het, wat hulle hier in die Middeleeue gevestig het.

Die suidelike laagte lê teen die noordelike rand van die heuwelreeks, met die Spreewald as sy vernaamste landskap. Die noordelike laagte lê teen die voet van die Baltiese Heuwelreeks en word oorheers deur die riviervalleie van die Netze- en Warthebruch, die Oderbruch, die Finowvallei, die Havellandse Luch en die Elberiviervallei.

Oderbruch tussen Kienitz en Zollbrücke
Oderbruch tussen Kienitz en Zollbrücke

Tussen die twee laagtes lê 'n plato, wat vanaf die gebied van die Poolse stad Posen (Poznan) in die ooste in westelike rigting na Brandenburg loop. Sy vernaamste Brandenburgse landskappe is die Sternbergse Land, die Spreeplato en Middelmark. 'n Aantal laagtes deursny die plato vanuit die suidooste in noordwestelike rigting, soos byvoorbeeld die Faule Obravlakte en die Havelvallei. Die gebied word deur 'n aantal heuwels en heuwelreekse gekenmerk, waaronder die Semmelberg naby Bad Freienwalde met 'n hoogte van 157 meter bo seevlak, die Müggelberge in Berlyn-Köpenick (120 meter), die Havelberge 97 meter) en die Rauensche Berge naby Fürstenwalde (112 tot 152 meter).

Die hoogste bergspitse in Brandenburg is die Heidehoogte (Duits: Heidehöhe) naby die grens van die deelstaat Sakse in die suide en die Hagelberg naby Belzig in Fläming met 'n hoogte van 201 meter.

Die plato word oorweged deur sanderige grond en uitgestrekte gebiede met dennebome en heide as die belangrikste flora. Ondanks sy dorre voorkoms is die grond orals deurmeng met leem en danksy aangepaste verbouingsmetodes geskik vir landbou.

Meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope maak van Brandenburg die waterrykste deelstaat van Duitsland. Nogtans word die land deur 'n tekort aan grondwater geknel. Die meeste groot mere en riviere word deur middel van kanale met mekaar verbind.

[wysig] Klimaat

Brandenburg lê in 'n oorgangsgebied tussen die maritieme klimaatsone van Wes-Europa en die kontinentale klimaat van Oos-Europa. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur wissel tussen 7 en 10 °C. Januarie is gewoonlik die koudste maand van die jaar, met 'n gemiddelde van -1 °C in die oostelike Brandenburg. Afhangende van die weersomstandighede kan die uiterstes in Januarie tussen -30 °C en +15 °C wees.

Julie is gewoonlik die warmste maand met 'n gemiddelde reënval van 34 millimeter. Brandenburg behoort met 'n gemiddelde jaarlikse reënval van minder as 600 millimeter tot die droogste gebiede in Duitsland en Europa en word in die somer deur bosbrande bedreig. Die deelstaat het 'n gemiddelde 1 600 sonskynure per jaar.

[wysig] Geskiedenis

Die groei van Brandenburg-Pruise tussen 1600 en 1795
Die groei van Brandenburg-Pruise tussen 1600 en 1795

Die Mark Brandenburg is 'n ou historiese landskap in die huidige ooste van Duitsland en die huidige weste van Pole. Die Duitse term Mark verwys na die gebied se rol as 'n grensland van die voormalige Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie. In geografiese opsig het die gebied groot dele van die huidige deelstaat Brandenburg, Berlyn, die landskap Altmark (in die noorde van die huidige deelstaat Sakse-Anhalt) en Neumark oos van die Oderrivier (wat tans deel uitmaak van die Poolse woiwodskappe Lubuskie en Wes-Pommere) beslaan. Dele van die huidige Brandenburg soos Neder-Lausitz in die suide het vroeër nie by die Mark Brandenburg behoort nie.

Die huidige deelstaat word in die Duitse omgangstaal dikwels nog steeds Mark Brandenburg of net Mark genoem.

Skuite is nog steeds 'n belangrike vervoermiddel in die waterryke Spreewald
Skuite is nog steeds 'n belangrike vervoermiddel in die waterryke Spreewald

In historiese opsig het Brandenburg saam met Berlyn die hartland van Brandenburg-Pruise gevorm. Ná 1815 was Brandenburg die grootste provinsie van Pruise. As gevolg van die Wet oor die Vorming van Groot-Berlyn het die Duitse hoofstad Berlyn in 1920 'n selfstandige gebied word en is van die destydse provinsie Brandenburg geskei.

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die gebied deur die Rooi Leër beset. Die gebiede oos van die Oderrivier is by Pole ingelyf, en met die Duits-Poolse Grensverdrag van die jaar 1990 het die twee lande hulle grenslyn amptelik erken.

Nog in die jaar 1945 is die provinsie Mark Brandenburg in die Sowjet-Besettingsone (SBS) met die administratiewe distrikte Potsdam en Frankfurt (Oder) gevorm. Die eerste Brandenburgse parlement, die Landtag, het vir die eerste keer in die herfs van 1946 vergader. Anders as die ander provinsies van die SBS het Brandenburg nie aan enige historiese tradisie van 'n eie regering of parlement aangeknoop nie, aangesien dit steeds deur die Pruisiese regering beheer is.

Ná die ontbinding van Pruise in Julie 1947 is die provinsie hernoem tot Land Brandenburg met 'n oppervlak van 27 612 vierkante kilometer. Die meeste instellings van die land het egter met die stigting van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) in 1949 die meeste van hulle oorspronklike funksies ingeboet. In 1952 is die Land Brandenburg as gevolg van die DDR se administratiewe hervorming ontbind en in drie distrikte (Duits: Bezirke) opgedeel - Cottbus, Frankfurt (Oder) en Potsdam.

Die Land Brandenburg is ter geleentheid van die Duitse hereniging op 3 Oktober 1990 herstig, en die nuwe Landtag van Brandenburg het op 26 Oktober 1990 vir die eerste keer vergader. Die politieke ontwikkeling van die deelstaat is in die tydperk tussen 1990 en 2002 deur die Eerste Minister Manfred Stolpe oorheers, ondanks bewerings dat hy vroeër kontakte met die Staatsveiligheidsdiens van die DDR sou onderhou het en onrusbarend hoë werkloosheidsyfers. In Mei 1996 het die burgers van Brandenburg in 'n referendum teen die voorgestelde vereniging met die deelstaat Berlyn gestem.

[wysig] Administratiewe verdeling

Sedert 'n administratiewe hervorming in 1993 word Brandenburg in 14 landelike distrikte en vier selfregerende stede verdeel.

[wysig] Landelike distrikte

Landkreise in Brandenburg
Die Brandenburgse distrikte en hulle hoofstede
  1. Barnim, Eberswalde (BAR)
  2. Dahme-Spreewald, Lübben (Spreewald) (LDS)
  3. Elbe-Elster, Herzberg (Elster) (EE)
  4. Havelland, Rathenow (HVL)
  5. Märkisch-Oderland, Seelow (MOL)
  6. Oberhavel, Oranienburg (OHV)
  7. Oberspreewald-Lausitz, Senftenberg (OSL)
  8. Oder-Spree, Beeskow (LOS)
  9. Ostprignitz-Ruppin, Neuruppin (OPR)
  10. Potsdam-Mittelmark, Belzig (PM)
  11. Prignitz, Perleberg (PR)
  12. Spree-Neiße, Forst (Lausitz) (SPN)
  13. Teltow-Fläming, Luckenwalde (TF)
  14. Uckermark, Prenzlau (UM)

[wysig] Selfregerende stede

  1. Brandenburg an der Havel (BRB)
  2. Cottbus (CB)
  3. Frankfurt (Oder) (FF)
  4. Potsdam (P)

[wysig] Landswapen en -vlag

Wappen von Brandenburg

Volgens artikel 4 van die deelstaat Brandenburg se grondwet is die Mark Brandenburgse arend teen 'n wit agtergrond die amptelike wapen van die land. Die landsvlag is rooi en wit met die landswapen in die middel.

Die Brandenburgse arend en die wapen dateer uit die 12de eeu en het vir die eerste keer in die standbeeldseël van die Askaniër Otto I van Brandenburg, die seun van Albrecht I, uit die jaar 1170 verskyn. Tot by die einde van die Tweede Wêreldoorlog is 'n aantal bykomende elemente soos swaard en borsskild by die wapen gebruik.

[wysig] Taal

Naas Hoogduits word veral Mark-Brandenburgse en Berlyn-Brandenburgse dialekte gepraat. In die grensgebied van Brandenburg met Sakse en Sakse-Anhalt speel Thuringies-Opper-Saksiese dialekte soos Anhalties 'n belangrike rol. Ander belangrike dialekte van Brandenburg word in Neder-Lausitz en Barnim gepraat.

In die oostelike deel van Neder-Lausitz praat sowat 20 000 mense Neder-Sorbies, 'n Wes-Slawiese taal. Die gebied is amptelik tweetalig.

Die woordeskat van die Brandenburgse dialekte is saamgestel en beskryf in die Brandenburgs-Berlynse Woordeboek (Brandenburg-Berlinisches Wörterbuch).

[wysig] Ekonomie

Die Federale Snelweg A 10 of Berliner Ring
Die Federale Snelweg A 10 of Berliner Ring

Brandenburg se nywerhede en dienstesektor is langs die Federale Snelweg A 10 gekonsentreer, wat Berlyn omring, en in 'n aantal nywerheidsentrums.

Naby Eisenhüttenstadt aan die Oder en Brandenburg aan die Havel is staanaanlegte opgerig. Die laasgenoemde stad beskik daarnaas oor belangrike nywerhede soos 'n drukmasjienefabriek van die Heidelberger Druckmaschinen AG en 'n ratkasfabriek van ZF Friedrichshafen.

Oopgroefmynbou naby Welzow
Oopgroefmynbou naby Welzow

'n Ander belangrike nywerheidsentrum is Schwedt aan die Oder in die noordooste van Brandenburg met 'n olieraffinadery (PCK Raffinerie GmbH) en twee papierfabrieke.

In die res van Brandenburg is voedselverwerking, die houtbedryf en landbou die vernaamste ekonomiese sektore. In die suide van die land word bruinkool in dagboumyne ontgin, wat as brandstof vir die termiese kragsentrales van Vattenfall Europe AG dien.

Die uitvoere, wat sterk begin groei het, is tans een van die belangrikste dryfkragte agter die ekonomiese ontwikkeling van die deelstaat. Brandenburgse handelskantore is onder meer in die Russiese hoofstad Moskou, die Lettiese hoofstad Riga en in die Verenigde Arabiese Emirate geopen.

In 2005 het uitvoere 6,6 miljard € (61,5 miljard ZAR) beloop, 'n styging van 21,6 persent teenoor dié van die vorige jaar. Sedert die jaar 1995 het uitvoere met 258 persent gestyg.

Die belangrikste uitvoergoedere in 2005 was farmaseutiese produkte ter waarde van 520 miljoen € (4 858 miljoen ZAR), vliegtuie, olieprodukte, plaatstaal, houtprodukte en yster- en staaldrade. Die hoofsaaklike handelsvennote is Pole (858,1 miljoen € / 8 015 miljoen ZAR), Nederland (550,2 miljoen € / 5 139 miljoen ZAR), die Verenigde State, Italië, die Verenigde Koninkryk en Oostenryk.

Die toekomstige ekonomiese ontwikkeling sal veral op die toerisme steun.

[wysig] Kookkuns

Teltower Rübchen is ondanks hulle naam nie aan worteljies verwant nie
Teltower Rübchen is ondanks hulle naam nie aan worteljies verwant nie

Die Brandenburgse kookkuns konsentreer veral op plaaslike landbouprodukte en bewaar ook die kulinêre erfenis van die oorspronklike Slawiese bevolking. Konvensionele en biologiese boerdery lewer produkte van eersterangse gehalte op, wat as inspirasie vir plaaslike sjefs dien.

Danksy die talle klein en groot mere neem visgeregte 'n belangrike plek op Brandenburg se spyskaarte in. Snoek, snoekbaars, paling en karper is die gewildste soorte vis.

Brandenburg staan tradisioneel as "Berlyn se groentetuin" bekend. In die omgewing van Beelitz word veral aspersie verbou, wat in Berlyn en Brandenburg as die beste in die gebied beskou word. As Beelitzer Spargel het hierdie groente intussen 'n beskermde "aspersie van oorsprong" geword.

Fürst-Pückler-roomys
Fürst-Pückler-roomys

Ander bekende groentesoorte is Teltower Rübchen ("worteltjies uit Teltow"), komkommers, kool en radys uit die Spreewald.

Ook aartappels speel 'n sentrale rol in die kookkuns van Brandenburg. Die gewas, wat oorspronklik uit Amerika ingevoer is, is danksy die invloed van die Pruisiese koning Frederik die Grote sedert die 18de eeu grootskaals aangeplant. Die toerismeraad van die streek Fläming bied selfs 'n "Kulinêre Aartappelroete" vir belangstellendes aan, en plaaslike gashuise en restourante spog met nuwe kulinêre aartappelgeregte vir fynproewers.

In die bosgebiede soos Schorfheide en die natuurpark Hoher Fläming word uitstekende wildsvleis- en sampioengeregte aangebied.

'n Spesialiteit van die streek Neder-Lausitz is Plinsen, 'n soort pannekoeke. Orals in Brandenburg word uitstekende tert- en koekspesialiteite en nageregte bedien. Veral die plaaslike Fürst-Pückler-roomys, wat oorspronklik deur 'n Berlynse banketbakker bedien is, het internasionale bekendheid verwerf.

Brandenburg spog met 'n aantal brouerye, waaronder die kloosterbrouery Neuzelle met sy beroemde swartbier. Werder aan die Havel is die sentrum van die plaaslike vrugtebedryf. Hier word die mees noordelik geleë wyn van oorsprong, die Werderaner Wachtelberg, brandewyn en veral vrugtewyne geproduseer.


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -