Skotland
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
|
|||||
Leuse: Nemo me impune lacessit (Engels: No one provokes me with impunity) |
|||||
|
|||||
Die ligging van Skotland in die Verenigde Koninkryk |
|||||
Tale | Engels, Skots-Gaelies, Skots | ||||
Hoofstad | Edinburg | ||||
Grootste stad | Glasgow | ||||
Eerste Minister | Alex Salmond | ||||
Oppervlakte - Totaal - % water |
Geranglys 2de in die VK 78 782 vk km 1,9% |
||||
Bevolking - Totaal (2001) - Bevolkingsdigtheid |
Geranglys 2de in die VK 5 062 011 64/vk km |
||||
Vereniging | 843 deur Kenneth I | ||||
BBP (KKP) • Totaal • Per capita |
2002 (skatting) $130 miljard $25 546 |
||||
Geldeenheid | Pond sterling (£) (GBP) | ||||
Tydsone - Somer (Somertyd) |
GMT (UTC+0) BST (UTC+1) |
||||
Beskermheilige | Sint Andrew | ||||
Volkslied | Geen | ||||
Nasionale blom | Dissel | ||||
Internet TLD | .uk | ||||
Skakelkode | 44 |
Skotland (Engels: Scotland, Skots-Gaelies: Alba [ˈaləpə], Latyns-Kelties: Caledonia) is 'n deelstaat in die noordweste van Europa en vorm een van die vier deelstate van die Verenigde Koninkryk. Die hoofstad, Edinburg, is een van die belangrikste finansiële sentrums in Europa.
Skotland beslaan met 78 772 vierkante kilometer sowat een derde van Groot-Brittanje se oppervlak en grens aan Engeland in die suide. Die grenslyn loop oor 'n afstand van 96 kilometer tussen die Tweedrivier aan die ooskus en die Solway Firth in die weste. In die ooste word Skotland deur die Noordsee begrens, in die noorde en weste deur die Atlantiese Oseaan, en in die suidweste deur die Noordelike Kanaal en die Ierse See. Die eiland Ierland lê sowat 30 kilometer van Skotland se mees suidwestelike landtong af.
Naas die vastelandse gebied is daar meer as 790 eilande. Skotland beskik oor die grootste reserwes van ru-olie in die Noordelike Atlantiese Oseaan en die Noordsee.
Die Koninkryk van Skotland het tot 1 Mei 1707 as 'n onafhanklike staat bestaan en het daarna volgens die Wet van Vereniging (Acts of Union) met die Koninkryk van Engeland saamgesmelt om die Koninkryk van Groot-Brittanje te vorm.
Inhoud |
[wysig] Geografie
Die Skotse vasteland bestaan uit drie landskapsvorme: Die Skotse Hoogland in die noorde, die Sentraal-Skotse vlaktes en die heuwelagtige Southern Uplands in die suide. Die Hoogland is 'n bergagtige streek met die Great Glen as sentrale vallei. Die hoogste bergspitse van die Verenigde Koninkryk maak deel uit van die Skotse Hoogland, soos byvoorbeeld die Ben Nevis naby Fort William, wat met 1 344 meter die hoogste piek in die land is.
Die vlaktes van Sentraal-Skotland vorm die digbevolkte hartland met die stad Glasgow in die weste en die hoofstad Edinburg in die ooste. Die vlaktes is ook die nywerheidsentrum van Skotland.
Die heuwelland van die Southern Uplands strek oor 'n afstand van naastenby 200 kilometer van Stranraer aan die Ierse See tot by Oos-Lothian en die Noordsee. Hierdie streek speel 'n kleiner rol as toeristebestemming, maar is nogtans 'n mooi berggebied met talle bergspitse soos die Merrick in Galloway met 'n hoogte van 843 meter. Hy bied 'n pragtige uitsig oor die noordelike Hoogland, die plato van Noord-Ierland in die weste en die Engelse Lake District (Meer-distrik), die Pennines-bergreeks en die eiland Man in die suide.
Daar is meer as 790 eilande langs die Skotse kus, met die Shetland-, Orkney- en Hebride-eilande as die drie belangrikste eilandgroepe. 'n Groot aantal eilande lê ook in die riviermondings Firth of Clyde en Firth of Forth. Sint-Kilda is die mees afgeleë van die bewoonde eilande en lê meer as 160 kilometer van die vasteland af.
[wysig] Klimaat
Skotland staan bekend vir sy nat en koel, maar matige klimaat, wat veral deur die oseaan beïnvloed word. Die land trek ongeag sy subarktiese ligging voordeel uit die warme Golfstroom en het baie warme temperature in vergelyking met ander Europese gebiede, wat op dieselfde breedtegraad lê soos byvoorbeeld die omgewing van die Noorse hoofstad Oslo.
Die weer is dikwels onvoorspelbaar, en temperature is ondanks die matige Golfstroom-invloed laer as in die res van die Verenigde Koninkryk. Die gemiddelde maksimale temperatuur in die winter is 6 °C, terwyl die hoogste gemiddelde temperature in die somer tot sowat 18 °C styg. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur op die berg Ben Nevis is vriespunt.
Wes-Skotland is danksy die oseaniese strome gewoonlik warmer as die ooste, wat deur die kouer temperature van die Noordsee beïnvloed word. Tiree op die Hebride-eilande word as die sonnigste plek in die land beskou; dit het in 1975 300 sonskyndae gehad.
Die gemiddelde jaarlikse reënval varieer in die verskillende streke; die westelike hoogland is die natste gebied met meer as 3 000 millimeter reën per jaar, terwyl die reënval in die vlaktes meesal tot minder as 800 millimeter beperk bly. Hoër geleë gebiede word in die winter deur koue en sneeuval gekenmerk. Die dorp Braemar het sowat 59 sneeudae per jaar, terwyl die kusgebiede sneeuval gewoonlik op minder as tien dae per jaar het.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Vroeë geskiedenis
Die eerste groep van jagters en versamelaars het hulle sowat 11 000 jaar gelede in Skotland gevestig, nadat die yslaag van die laaste ystydperk begin terugwyk het. Die eerste permanente huise is sowat 9 500 jaar gelede opgerig, en die eerste noemenswaardige dorpe het sowat 6 000 jaar gelede ontstaan.
Die geskiedskrywing van Skotland het in die Romeinse tydperk begin, toe die Romeine Engeland en Wallis verower en as die provinsie Britannia by hulle ryk ingelyf het. 'n Gedeelte van Suid-Skotland het 'n tyd lank onder Romeinse invloed gekom, tog het die Romeine die noorde van Skotland, wat as Caledonia bekend gestaan het, nooit verower nie. Caledonia was destyds die tuisland van die Pikte, terwyl die Gaeliese stamme van Dál Riata, wat oorspronklik vanaf Noord-Ierland na Skotland gekom het, Argyll bewoon het.
Ná die einde van die Romeinse heerskappy in Brittanje het Skotland uit vier koninkryke bestaan: Dál Riada in die noorde; die Ryk van die Pikte, wat noord van die Firth of Forth gelê het; Strathclyde, die ryk van die Britoniese Kelte; en Bernicia, die ryk teen die Tweedmonding, wat deur die Germaanse Angele bewoon is.
[wysig] Die Wikings in Skotland
In die laat 8de eeu het die Wiking-aanvalle op die Keltiese klooster Iona die beginpunt van die Skandinawiese magsuitbreiding na Skotland gevorm, en binne enkele jare het Nordiese setlaars tot 'n beduidende magsfaktor in die politieke lewe ontwikkel. Die noordelike eilandgroepe van Orkney en Shetland is selfs tot by die middel van die 15de eeu deur Skandinawiese bewoners oorheers.
Die eerste Wiking-aanval op die klooster Iona in 795 was net die begin van 'n reeks aanvalle wat tot by die jaar 825 voortgeduur het. Veral die noordelike eilandgroepe Orkney en Shetland het 'n teiken vir die Wikings geword, en ook die Pikte aan die Skotse Noordseekus, wat 'n vryheidsstryd teen die Skotte uit die weste gevoer het, is deur Wiking-aanvalle tot so 'n mate verswak dat hulle uiteindelik 'n nederlaag gely en in 841 met die Skotse ryk verenig het.
Orkney en Shetland is omstreeks 800 by die Noorse magsgebied ingelyf, en binne 'n dekade het ook vastelandse gebiede tot by Caithness en Sutherland in die suide en tot by die Hebride-eilande in die weste in die Noorse magsfeer beland.[1] Die Nore het hulle ná die inlywing van die Pikteryk by Skotland veral op magskonsolidasie in die verowerde gebiede gekonsentreer, maar nogtans verskeie kere regstreeks by die Skotse politiek ingemeng. Die Nordiese koning Olaf van Dublin het in 860 oorlog in Sentraal-Skotland gevoer, en die Skotse Wikings het tot by die 10de eeu verskeie kere rooftogte in die suide uitgevoer om skatte en slawe as 'n buit weg te voer. Afhangende van die politieke situasie het Noorse of Nordies-Ierse krygers daarnaas militêre steun aan óf die Skotse monarge óf hul teenstanders verleen.
Onder die heerskappy van Malcolm I van Skotland (943-954) het 'n Nordies-Ierse leër in die naam van die Skotse koning teen die Saksers geveg en 'n nederlaag gely. Kenneth II (971-995) het 'n Deense inval in die ooste van die land afgeweer. Sy nasaat Malcolm II (1005-1034) het sy dogter met graaf Sigurd die Dikke van Orkney laat trou om die noordelike grens van Skotland te beskerm. Alhoewel Skotse en Nordiese adellikes onder mekaar vir die oorheersing van die Skotse hoogland en die eilande gebaklei het, was die verhouding tussen Skotte en Nore in hierdie periode deur 'n vreedsame naasbestaan gekenmerk.
[wysig] Kwynende Nordiese invloed
Toe Sigurd die Dikke in die Slag van Clontarf gesneuwel het, is sy landbesit onder sy Noord-Skotse nakomelinge verdeel om sodoende die politieke alliansie tussen die graafskap Orkney en Skotland te bevestig. 'n Ooreenkoms tussen die grawe van Orkney en die mormaer (graaf) Macbeth van Moray het daartoe gelei dat Macbeth danksy die Nordiese steun die Skotse troon kon bestyg.
Die heerskappy van Malcolm III Canmore (1058-1093) was 'n periode van politieke stabiliteit, en as gevolg van die kwynende militêre en ekonomiese magsbasis van Orkney en die verswakkende bande met Noorweë het die Wikings 'n al hoe kleiner rol in die politiek van Skotland gespeel.
In 1263 het die Noorse koning Haakon IV 'n duur, maar onsuksesvolle strafekspedisie teen die Skotte gelei. Sy verpletterende nederlaag in die Slag naby Largs het die einde van die Nordiese invloed in Skotland bestempel. Haakon is op pad terug na Noorweë op Orkney oorlede, en die Noorse Kroon het vanweë sy finansiële moeilikhede besluit om die Skotse eilande prys te gee. Die Hebride-eilande is in 1266 aan die Skotse koning verkoop. Orkney en Shetland het nog tot by die jaar 1460 'n Noorse besitting gebly, maar in politieke en ekonomiese opsig geen noemenswaardige rol meer gespeel nie sodat die Skotse beleid nou op die Engelse bure in die suide begin konsentgreer het.
[wysig] Die Koninkryk van Skotland
Volgens die tradisionele oorlewering het die geskiedenis van die Koninkryk van Skotland 'n aanvang geneem met Kenneth I van Skotland, wat in 843 koning van die Pikte en Skotte geword het. Die Koninkryk van Skotland het in die volgende meer of min na sy huidige grense uitgebrei. Terwyl die ryk goeie en nou betrekkinge met die heersers van Engeland gehandhaaf het, is die binnelandse politiek deur 'n hewige magstryd binne die heersende dinastie oorskadu.
Met die Normandiese verowering van Engeland in 1066 het Skotland geleidelik begin wegbeweeg van sy Gaelies-Keltiese kultuur. Koning Malcolm III het getrou met Margaret, die suster van Edgar Ætheling, 'n Angel-Saksiese adellike wat aanspraak op die Engelse troon gemaak het. Margaret het veral die invloed van die Keltiese kerk verminder.
Met die troonbestyging van haar jongste seun David I is die feodale stelsel in Skotland ingevoer en die immigrasie van setlaars uit die Nederlande bevorder. Hierdie beleid was veral daarop gemik om die handelsbande met die vasteland van Europa en Skandinawië te versterk. In die laat 13de eeu het baie Normandiese en Anglo-Normandiese gesinne landgoedere in Skotland ontvang. In hierdie tydperk het ook die Skotse parlement vir die eerste keer vergader.
Ná die dood van die Jonkvrou van Noorweë, die laaste afstammeling en erfgenaam van Alexander III van Skotland, het die Skotse adel Edward I van Engeland om bemiddeling tussen die verskillende troonpretendente gevra. Die Engelse heerser het nogtans liewer geprobeer om 'n marionetmonargie onder sy invloed te vestig.
Die Skotte het weerstand teen die Engelse planne gebied en onder die leiding van Sir William Wallace en Andrew de Moray eers John Balliol en later Robert Bruce as moontlike troonopvolger ondersteun. Bruce is op 25 Maart 1306 as die nuwe Skotse koning Robert I bekroon en het op 23 en 24 Junie 1314 in die Slag van Bannockburn 'n beslissende oorwinning oor die Engelse behaal.
Die oorlogshandelinge het egter ná sy dood tydens die Tweede Skotse Onafhanklikheidsoorlog (1332-1357) weer opgevlam met Edward Balliol se vergeefse poging om Bruce se erfgename met Engelse steun van die troon te verdryf. Die politieke situasie in Skotland het met die opkoms van die Stewart-dinastie in die sewentigerjare van die 14de eeu begin stabiliseer.
Teen die einde van die Middeleeue was Skotland in kulturele opsig verdeel in die oorwegend Skotstalige vlaktes en die Gaeliessprekende hoogland. Die vlaktes was histories nouer ingeskakel by die hoofstroom van die Europese kultuur as die hoogland, wat veral deur sy clan-stelsel gekenmerk is. Die magtige clans het die hoogland tot by die Wet van Vereniging in 1707 oorheers.
In 1603 het die Skotse koning Jakob VI die erfgenaam van die Engelse troon geword en ook as koning Jakob I van Engeland geregeer. Met die uitsondering van die tydperk van die Protektoraat het Skotland 'n selfstandige staat gebly, tog was daar geskille oor die bestuur van die kerk. Ná die Glorieryke Rewolusie en die val van die Rooms-Katolieke Jakob VII het Skotland vir 'n tyd lank gedreig om 'n ander Protestantse monarg uit Engeland te kies. Die Engelse het op hulle beurt met 'n handelsboikot en die sluiting van die grens gedreig, maar uiteindelik het die parlemente van Skotland en Engeland die gemeenskaplike Wet oor die Vereniging aanvaar, waardeur die Koninkryk van Groot-Brittanje geskep is.
Twee Jakobiete-opstande in die weste van Skotland het in 1715 en 1745 nie daarin geslaag om die Huis Hanover van die Britse troon te verdryf nie.
Skotland het in die tydperk van die Skotse verligting en die Industriële Rewolusie tot een van die intellektuele, handel- en nywerheidsentrums van Europa ontwikkel. Veral ná die Tweede Wêreldoorlog het die land gebuk gegaan onder die proses van de-industrialisering. Die land het desondanks in die afgelope dekades 'n soort kulturele en ekonomiese hergeboorte beleef, wat gedeeltelik te danke was aan die inkomste uit die olie- en gasontginning in die Noordsee, die vinnige groei van die elektroniese bedryf en die finansiële sektor en die skepping van die Skotse Parlement volgens die Skotland-wet van 1998.
[wysig] Ekonomie
Die Skotse ekonomie is stewig verweef met dié van Europa en ander gebiede van die Westerse wêreld en sterk uitvoergerig. Dit is in wese 'n markekonomie, alhoewel daar tot 'n beperkte mate staatlike inmenging in die ekonomiese gebeure is.
Ná die nywerheidsomwenteling begin die Skotse ekonomie hom op die swaar nywerhede toespits, met die skeepsbou, steenkoolmynbou en staalvervaardiging as die belangrikste bedrywighede. As 'n deel van die Britse Ryk vind Skotse uitvoergoedere maklike toegang tot die wêreldwye markte.
Met die verskuiwing na hoë-tegnologie en dienste verminder die swaar nywerhede se belangrikheid in die laat 20ste eeu. Die tagtigerjare is gekenmerk deur 'n ekonomiese opswaai in die sogenaamde Silicon Glen-korridor tussen Glasgow en Edinburg, en 'n groot aantal tegnologiese ondernemings het hulle in Skotland gevestig. Ook die ontdekking van olievelde langs Skotland se Noordseekus bevorder die transformasie van die plaaslike ekonomie.
Edinburg het tot Skotland se belangrikste en Europa se sesde grootste finansiële sentrum ontwikkel. Die stad huisves die hoofkwartiere van die Koninklike Bank van Skotland (Royal Bank of Scotland, die tweede grootste bank in Europa), HBOS (die eienaars van die Koninklike Bank van Skotland) en Standard Life.
Glasgow is Skotland se grootste seehawe en die vierde belangrikste nywerheidsentrum in die Verenigde Koninkryk. Die stad lewer meer as sestig persent van Skotland se uitvoere van nywerheidsprodukte op. Alhoewel sy omvang verminder het, is die skeepsbou nog steeds een van die grootste plaaslike nywerhede. Glasgow beskik daarnaas oor Skotland se mees uitgestrekte en ekonomies belangrikste sakesentrum. Dit is een van Europa se twintig belangrikste finansiële sentrums en huisves die hoofkwartiere van baie belangrike Britse maatskappye.
Aberdeen, wat soms ook die olie-hoofstad van Europa genoem word, dien as die sentrum van die olienywerheid. Tekstiele, chemiese produkte, distillerye, brouerye, toerisme en vissery is eweneens belangrike bronne van inkomste.
Skotland se uitvoere beloop in 2003 sowat £18,7 miljard (R231,7 miljard), waarvan sewentig persent of £13,1 miljard (R162,3 miljard) nywerheidsprodukte. Die belangrikste Skotse uitvoergoedere is whisky, elektroniese toerusting en finansiële dienste, met die Verenigde State, Duitsland en Frankryk as die belangrikste bestemmings.
Die bruto binnelandse produk van Skotland (BBP) beloop in die jaar 2002 £74 miljard (R917 miljard) of £14 651 (R181 558) per capita.
Slegs sowat 'n kwart van Skotland se oppervlak is agrariese gebiede, met graan en groentes as die hoofgewasse. Skaapteelt is egter 'n belangrike bedryf in gebiede soos die Skotse Hoogland en die eilandgroepe, wat minder geskik is vir akkerbou. Die meeste landgoedere word deur 'n relatief klein aantal mense beheer (350 mense besit meer as die helfte van die land). Die Skotse Parlement het in 2003 'n wetsontwerp, die Wet oor Landhervorming (Land Reform Act), goedgekeur, wat die aankoop van land vir plaaslike gemeenskappe en boere op huurboerderye moontlik maak, selfs in die geval dat die eienaars onwillig sou wees om te verkoop.
[wysig] Bevolking en tale
Skotland se 5,1 miljoen inwoners is meestal van Keltiese, Angel-Saksiese en Skandinawiese afkoms. In die laaste jare het ook 'n groter aantal immigrante uit Oos-Europa hulle in Skotland gevestig, waaronder sowat 20 000 Pole.
Alhoewel die oorgrote meerderheid Skotte Skotse Standaardengels praat, is byna een derde van die bevolking ook een van die inheemse tale Skots en Gaelies magtig.
Skots-Gaelies (Gaelies: Gàidhlig) word nog deur sowat een persent van die Skotte gepraat, meestal naas Engels. Volgens die sensus van 1971 was daar net 477 mense eentalig Gaelies. Die Gaeliese taalgebied, die Gàidhealtachd, beslaan veral die noord-westelike hooglandgebiede en die eilande langs die weskus. Gaelies staan onder meer sterk op die Hebrides, in die distrikte Ardnamurchan, Wester Ross en West Sutherland aan die weskus en in klein gemeenskappe in Perthshire (Gaelies: Peairt), Invernessshire (Inbhirnis), Sutherland (Cataibh), Ross en Cromarty (Ros is Cromba), Argyll (Earra-Ghaidheal), Nairn (Narunn) en Bute (Boid). Die taal word as 'n streektaal erken.
Skots, 'n Germaanse taal wat nou verwant is aan Engels, word deur sowat dertig persent van die bevolking gepraat. Die taal was oorspronklik 'n Angel-Saksiese dialek en het ook 'n literêre tradisie, nogtans het belangstelling in Skots eers in die afgelope jare weer duidelik toegeneem. Skots word net soos Gaelies as 'n streektaal erken.
[wysig] Verwysings
- ^ Konstam, Angus: Die Wikinger. Geschichte, Eroberungen, Kultur. Wene: tosa/Carl Ueberreuther 2007, bl. 138
Keltiese gebiede in Europa | ||
---|---|---|