Skots-Gaelies
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Skots-Gaelies (Gàidhlig /ˈgaːlʲigʲ/; vroeër ook Ersies genoem) is die inheemse Keltiese taal van Skotland en word vandag veral nog op die Hebride-eilande, in die westelike Skotse Hoogland en in Glasgow gepraat. Baie mense praat Gaelies egter nie as hulle moeder- of eerste taal nie. Veral in Glasgow word Skots-Gaelies oorwegend as 'n tweede taal gebesig. Die meeste Gaeliessprekers is ook Engels magtig.
Skots-Gaelies maak deel uit van die Goideliese groep van Eilandkeltiese tale en is nou verwant met Iers en Manx. Die nou taalverwantskap met Iers is te danke aan die immigrasie van Ierse Skote sedert die 4de eeu.
Skots-Gaelies moenie verwar word met Skots nie, die Germaanse omgangstaal van Skotland, wat uit die Angel-Saksiese dialekte van Suid-Skotland ontwikkel het.
Die ou naam Ersies verwys na die feit dat Skots-Gaelies deur moedertaalsprekers tot by die 17de eeu as 'n soort Iers beskou is. Iers het destyds in Skotland selfs as skryftaal vir die Skots-Gaeliese dialekte gedien. Die naam Ersies (Engels: Erse) is afgelei van "Iers".
[wysig] Geskiedenis
Gedurende die 4de eeu het Iers-Gaeliese setlaars veral uit die klein koninkryk van die Dál Riata in die noorde van Ierland hulle in die nabygeleë Skotland gevestig. Twee koninkryke met hierdie naam het eeue lank in Ierland en Skotland bestaan. Alhoewel die Ierse immigrante groot dele van Skotland verower het, het die Ierse of Skots-Gaeliese taalgebied nooit die hele Skotland beslaan nie.
Die eerste bronne, wat 'n selfstandige ontwikkeling van die Skots-Gaeliese taal aandui, is in die Book of Deer uit die 10de eeu bewaar. Sy inkonsekwente spelling bevat besonderhede van die afwykende Skotse uitspraak, alhoewel Skots-Gaelies in hierdie tydperk eerder as 'n Ierse dialek beskou moet word. Die eerste bron, wat as bewys vir die ontwikkeling van 'n selfstandige Skotse taal naas Iers-Gaelies kan dien, is die Book of the Dean of Lismore uit die vroeë 16de eeu. Die boek bevat Skots-Gaeliese tekste met 'n spelling, wat sterk op die destydse uitspraak van Skots steun. Hierdie besonderheid stel taalnavorsers in staat om die destydse uitspraak nader te ondersoek.
Daar word nou algemeen aanvaar dat Skots-Gaelies tussen die 10de en 12de eeu sy eie kenmerke ontwikkel het en vanaf die 14de of 15de eeu as 'n selfstandige taal begin ontwikkel het.
Terwyl Skots-Gaelies in die suidelike en oostelike gebiede van Skotland dikwels reeds in die Middeleeue deur Engels verdring is, het die verengelsing van die westelike hoogland eers in die 18de of 19de eeu begin. Veral eksterne invloede soos die neergang van die clan-stelsel na 1745 en skoolplig, wat in 1872 ingevoer is en alle kinders uitsluitlik aan Engels as onderwystaal blootgestel het, word as die hoofredes vir die agteruitgang van Skots-Gaelies aangevoer. Kinders is dikwels selfs gestraf sodra hulle op skool Gaelies gepraat het.
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Keltiese tale | ||
---|---|---|
Eiland-Keltiese tale | ||
Goidelies: | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies (Skotland • Kanada) | Manx-Gaelies | Galweegse-Gaelies † | |
Britonies: | Wallies | Kornies | Bretons | Cumbries † | Piekties † | |
Vasteland-Keltiese tale | ||
Vasteland-Keltiese tale: | Gallies †: | Leponties † | Galaties † Keltiberies † |
|
Gemengde Tale | ||
Gemengde Tale: | Shelta | Bungee † | |
† Uitgestorwe |