Iers-Gaelies
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Ierse taal (Iers: Gaeilge of Gaeilge na hÉireann, "Iers-Gaelies") vorm saam met Skots-Gaelies en Manx, die taal van die eiland Man, die Gaeliese of Goideliese groep van die Keltiese tale. Die woord "Goidelies" is afgelei van die Oud-Ierse goídel "Ier".
Iers is die oudste taal van die Goideliese groep en bestaan reeds in die vroeë Middeleeue as 'n literêre taal, terwyl Skots en Manx voor die sewentiende eeu nie as selfstandige skryftale beskou word nie.
Iers is vandag danksy sy historiese rol as nasionale taal die eerste ampstaal (an phríomhtheanga oifigiúil) van die Republiek van Ierland, en sowat 1,6 miljoen van die 4,1 miljoen burgers kan tans Iers praat. Daar is ook enkele duisend Ierssprekers in die Verenigde State, Kanada en Australië. Volgens 'n besluit, wat deur die Europese Ministers van Buitelandse Sake op 13 Junie 2005 geneem is, sal Iers vanaf 1 Januarie 2007 ook een van die amptelike tale van die Europese Unie wees.
Behalwe vir klein gebiede in die weste van die Ierse eiland (die sogenaamde Gaeltachtaí) - veral in Waterford, Wes-Kerry, Wes-Cork, Connemara, Mayo en Donegal (Ulster, Noord-Ierland) - word Iers nie meer as moedertaal gepraat nie en is grootliks deur Engels verdring. Iers is die daaglikse omgangstaal vir sowat 120 000 mense. 'n Bykomende 165 000 mense in Noord-Ierland en 25 000 in die Verenigde State het Iers óf as hulle huistaal óf het 'n behoorlike kennis daarvan.
Die Ierse taal word in twee groot dialekgroepe verdeel: Die noordelike dialekte van Oos-Munster (Waterford) en Wes-Munster (Cork en Kerry) en die suidelike van Connacht (Galway en Mayo) en Donegal.
Inhoud |
[wysig] Taalgeskiedenis
Die oudste bekende inskripsies in die sogenaamde Ogham-skrif dateer uit die 4de eeu n.C., die tydperk van die argaïese Ierse taal. Tydens hierdie periode tree drie belangrike verskynsels vir die eerste keer op: Die apokopee (woordverkorting), die sinkopee (die weglating van 'n beklemtoonde klinker binne 'n woord) en die palatalisering (die aanpassing van 'n medeklinker aan die opvolgende klinker).
Tussen 600 en 900 word in Ierland die Oud-Ierse vorm van die taal gepraat, wat in 'n hoë mate as eenheidstaal dwarsoor die eiland gestandardiseer is en deur 'n hoogs ontwikkelde fleksie gekenmerk word. Ierse en Skotse monnike, wat as sendelinge vir 'n tyd lank op die Europese vasteland bly, bring saam met hulle 'n aantal Latynse leenwoorde.
Die Wiking-aanvalle vanaf die einde van die 8ste eeu en die stigting van Skandinawiese nedersettings in die kusgebiede (soos Dublin) begin die oorgang na die Middelierse taal (900 tot 1200) inlui. Met die maatskaplike en politieke omwentelings raak die taal sy eenvormigheid kwyt. 'n Aantal afwykende spellings en grammatikale veranderings soos die verlies van die neutrum (onsydige geslag) en die vereenvoudiging van die fleksie word aan die onluste van die tyd toegeskryf.
Met die inval van die Noormanne vanaf die jaar 1169 begin die vroeë Nieu-Ierse periode van die taal. Die verdrywing van die laaste Iers-Gaeliese adellikes in die 17de eeu staan aan die beginpunt van die Nieu-Ierse taalontwikkeling. Met die industrialisering en verstedeliking vanaf die laat 18de eeu verengels groot dele van die oorspronklik Ierstalige plattelandse bevolking, en tussen 1835 en 1891 krimp die aantal Ierstaliges van sowat vier miljoen tot slegs 680 000.
Vandag het sowat 1,2 miljoen mense kennis van die Ierse taal, en Iers is 'n verpligte skoolvak vir leerlinge, alhoewel dit buite die Gaeltachtaí nouliks as omgangstaal gepraat word. Straatborde en wetgewing is tweetalig. Daar is Ierstalige koerante, tydskrifte, radioprogramme en 'n televisieprogram. Die kulturele lewe verseker dat die betekenis van die Ierse taal steeds groter is as die aantal moedertaalsprekers sou laat vermoed.
[wysig] Woordelys Afrikaans-Iers
melk bainne boek leabhar venster fuinneog Dublin Baile Átha Cliath kat cat bottel buidéal son grian Ierland Éire deur doras vis iasc water uisce Engels (taal) Béarla woord focal geld airgead seun garsún skip long dorp sráidbhaile stad cathair
een a haon twee a dó drie a trí vier a ceathair vyf a cúig ses a sé sewe a seacht agt a hocht nege a naoi tien a deich
[wysig] Gaelies in popkultuur
Die bekroonde solosangeres, Enya, sing baie van haar liedere in Gaelies.
[wysig] Eksterne Skakels
- Gaeilge ar an ghréasán Ierse aanlyne hulpbronne
- Foras na Gaeilge
- Ierse Taal Inligting en Hulpbronne
- ethnologue verslag oor Iers-Gaelies
- Iers - Engels Woordeboek
- Gaeliese Woordeboeke
- Braesicke's Gramadach na Gaeilge (Engelse vertaling)
- Kids.net.au Artikel
Indo-Europese tale: Kentum-tale: Keltiese tale | ||
---|---|---|
Eiland-Keltiese tale | ||
Goidelies: | Iers-Gaelies | Skots-Gaelies (Skotland • Kanada) | Manx-Gaelies | Galweegse-Gaelies † | |
Britonies: | Wallies | Kornies | Bretons | Cumbries † | Piekties † | |
Vasteland-Keltiese tale | ||
Vasteland-Keltiese tale: | Gallies †: | Leponties † | Galaties † Keltiberies † |
|
Gemengde Tale | ||
Gemengde Tale: | Shelta | Bungee † | |
† Uitgestorwe |