Gallies
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Galliese taal is een van vier oorgelewerde Keltiese tale van die Europese vasteland. Danksy 'n groter aantal oorspronklike bronne, wat bewaar gebly het, en Asterix, die gewilde Franse reeks van strokiesverhale, is dit ook die bekendste. Met die geleidelike Romanisering van Gallië het die Galliese taal uiteindelik uitgesterf. Die heilige Gregorius van Tours berig in die 6de eeu dat 'n aantal mense in sy gebied die Galliese taal nog magtig was.
Inhoud |
[wysig] Bronne en taalgebied
Gallies was die taal van 'n aantal Keltiese volke en stamme in Gallië (die huidige Frankryk), Noord-Italië, Switserland en moontlik ook Suidwes-Duitsland, wat deur die Romeine Galli genoem is. Die oudste Galliese bronne dateer uit die 4de eeu v.C. Aangesien die Kelte nie hul eie skrif ontwikkel het nie, is oorspronklike bronne nogal skaars. 'n Aantal tekste is egter in die Griekse en Latynse alfabette geskryf.
Die oorspronklike bronne bestaan onder meer uit inskrifte, wat soms tweetalig Gallies-Latyns in steentafels gebeitel of op stukkies van aardewerk geskryf is, 'n aantal sogenaamde vloekleie, wat van lood gemaak is en die beroemde kalender van Coligny. Alhoewel hierdie tekste taalkundiges in staat stel om die Galliese taal enigsins te rekonstrueer, sal die bronne weëns die gebrek aan verbuigde werkwoorde, byvoeglike naamwoorde en ander belangrike woorde en woords moontlik vir altyd net 'n fragmentariese indruk van Gallies kan gee.
[wysig] Taalkundige kenmerke
Die belangrikheid van Gallies vir die historiese taalwetenskap resulteer veral uit die woorduitgange, wat Keltiese tale soos Gallies byna onveranderd uit die Indo-Europese oertaal oorgeërf het. Daar is ook 'n aantal strukturele ooreenkomste met ander antieke tale soos Latyn.
Gallies behoort tot die sogenaamde P-groep van die Keltiese tale en is nou verwant met die Britanniese groep van Kelties, wat op die eilande van Noordwes-Europa gepraat word.
[wysig] Voorbeeld van 'n Galliese teks
Gallies | Afrikaans | |
---|---|---|
Segomaros Villoneos toutius namausatis eioru Belesamin sosin nemeton. | Segomaros, die seun van Villonos (of Villu), burger (of stamhoof) van Nemausus (Nîmes), het hierdie heiligdom vir die godin Belesama geskenk. |
[wysig] Vergelyking met ander Keltiese tale
Gallies | Bretons | Iers | Wallies | Afrikaans |
biccos | bihan | beacc | bychan | klein |
bitu | bed | bith | byd | wêreld |
maros | meur | mor | mawr | groot |
marvos | marv | marbh | marw | dood |
nimbos | nenv | neamh | nef | hemel |
tav | tud | tuath | tud | nasie |