Strokiesverhaal
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Strokiesverhaal (of tekenprentverhaal) is die generiese term vir opvolgende kuns. Dit bestaan uit opvolgende prente wat in volgorde gerangskik is en wat 'n gebeurtenis beskryf of 'n verhaal vertel. Strokiesverhale is 'n grafiese medium en kan baie, min, of selfs geen woorde bevat nie. Die woorde neem dikwels die vorm van verhalende teks en/of direkte rede aan.
Die Engelse vakterm comic of comic strip dui daarop dat die medium in die verlede hoofsaaklik komiese onderwerpe gehad het, maar die speelruimte van die kuns het mettertyd uitgebrei om alle genres in te sluit en vandag kan kunstenaars hulle op enige manier deur middel van strokiesverhale uitdruk.
Strokiesverhale word algemeen as 'n lae kunsvorm geag, wat as kunsvorm in eie reg sy oorsprong sowel in die letterkunde asook in die beeldende kuns van die laat 19de en vroeë 20ste eeu het. Alhoewel daar baie vorige werke was wat sekere tegnieke gedeel het, veral die vertel van 'n verhaal met behulp van beelde alleen, stem meeste kommentators saam dat die moderne strokiesprent se vorm bepaal is in die komiese strokiesverhale in tydskrifte en koerante van die laat 19de en vroeë 20ste eeu en dat dit bevorder is deur die bloeityd van die drukkersbedryf. Voorgangers van die moderne strokiesprent sluit die Tapyt van Bayeux en die Suil van Trajanus in, asook werke deur Rodolphe Töpffer, Wilhelm Busch, William Hogarth en George Cruikshank.
Bespreking en bestudering van die vorm is 'n meer onlangse verskynsel: alhoewel vroeë kritiek so vroeg as die 1920's geuiter is, het ernstige bestudering eers in die tweede helfte van die 20ste eeu begin plaasvind. Die definisies van die vorm wissel volgens die benadering van die definieerder: sommige voel dat die gedrukte vorm noodsaaklik is, ander benadruk die onderlinge afhanklikheid van beeld en teks en nog ander voel dat dit die opvolgende karakter van die beelde die belangrikste element is.
Verskillende konvensies is dwarsdeur die wêreld aangeneem: van die manga uit Japan tot die gebundelde versamelings strokiesverhale uit Europa en die superhelde van Amerikaanse strokiesverhale.
Alhoewel daar geen amptelike beperkings is nie, gebruik kunstenaars tog sekere vorms en konvensies om verhaling of spraak weer te gee, of om emosionele reaksies op te roep. Teks word dikwels in die vorm van spraakborrels aangebied om dialoog voor te stel, terwyl inligtingsraampies teks bevat wat beskrywende inligting bevat. Panele (met spasies tussenin), uitleg en vloeiende lyne om beweging aan te dui kan help om die verloop van die storie aan te dui.
Die twintigste eeu was 'n bloeityd vir die strokiesverhaal en die medium het 'n hele reeks nuwe genres aangepak: van die humoristiese tot aksie, wetenskapfiksie, speurverhale, romanse, superhelde, outobiografieë en verslaggewing. Die vorm is ook as leermiddel gebruik en sedert die laat-twintigste eeu word uitgebreide verhale as grafiese romans uitgegee.
Die algemeenste vorms van gedrukte strokiesverhale is die strokiesprente (gewoonlik vier panele in 'n tydskrif of koerant) met langer strokiesverhale in strokiesboeke, grafiese romans en strokiesablums.
In Frankryk en België, waar strokiesverhale lankal deel van die kulturele lewe is, word na 'n strokiesverhaal as bande dessinée (getekende strokie) verwys (dikwels word net die afkorting "BD" gebruik). Die Franse letterkundige Francis Lacassin vorm in 1971 die nuwe vakterm negende kuns.
Inhoud |
[wysig] Die geskiedenis van die strokiesverhaal
'n Presiese datum vir die eerste strokiesverhaal is moeilik om te bepaal. Met die definisie van strokiesverhale as sekwensiële kunsvorm kan die rotstekeninge van byvoorbeeld die grotte van Lascaux in Frankryk of soortgelyke tekeninge in Italië, Algerië en Sjina as vroeë strokiesverhale beskryf word, aangesien hulle 'n verhaal met behulp van tekeninge vertel.
Hierdie definisie sluit ook die antieke fresko's van Egipte, Griekeland en Rome in, wat wél as 'n verhaal beskou kan word, wat met 'n reeks beelde vertel word.
In die Middeleeue is die Tapyt van Bayeux sonder twyfel een van die beroemdste strokiesverhale, wat die Normandiese verowering van Engeland met behulp van beelde ook aan ongeletterdes sou kon verduidelik.
[wysig] Aspekte van die strokiesprent en -verhaal
[wysig] Formele aspekte
Oorspronklik het daar vaste reëls ten opsigte van die struktuur en omvang van 'n strokiesprent bestaan. Aangesien hulle in koerante vrygestel is, is die lengte, grootte, aantal prente en die duur van die strokiesverhaal vir 'n lang tyd deur die koerantredakteurs vasgelê.
Tot vandag toe moet 'n strokiesprent 'n vasstaande omvang hê, wat gewoonlik oor 'n lengtesy moet strek. 'n Strokiesverhaal bevat dus tussen drie en vyf prente, met 'n (dikwels komiese) plot aan die slot van die storie. Moderne tekenaars word egter dikwels nie meer deur sulke konvensies gebind nie.
'n Ander beperking het die aantal bladsye in 'n strokiesprent-album betref. Om tegniese redes kon maksimaal 48 bladsye gedruk word, aangesien een vel drukpapier plek bied vir vier bladsye. Die avonture van Kuifie het oorspronklik in 'n aantal aflewerings verskyn, met 'n totale omvang van meer as 100 bladsye. Hergé, die Belgiese skepper van Kuifie, was genoodsaak om die verhale vir die album-uitgawes tot die standaardomvang van 62 bladsye te verkort. Hierdie konvensie word in die sewentigerjare vir die eerste keer deur die tekenaar Hugo Pratt gebreek. Vir die verhale van sy karakter Corto Malese het hy die omvang van elke album self bepaal.
Met die opkoms van die grafiese roman (graphic novel) word hierdie verskynsel algemeen. Die grafiese romans in die vorm van strokiesprente is ten opsigte van hulle literêre aanspraak en indiwidualiteit aan die geskrewe romans gelyk gestel. Tans word strokiesverhale ook in boekvorm uitgegee en bevat soms enkele honderd bladsye.
[wysig] Teikengroep
Daar bestaan 'n aantal misverstande oor die strokiesprent en -verhaal. Een van die oudste clichés veronderstel dat strokiesverhale nie vir grootmense geskryf en geteken sou word nie. Hierdie vooroordeel dateer uit die vroeë tydperk van die genre, toe die eerste Amerikaanse strokiesprente op karakters soos The Yellow Kid en The Katzenjammer Kids gefokus het.
Min mense het egter waargeneem dat selfs die moderne kunsstrominge van dié tyd in strokiesprente ingewerk is (soos byvoorbeeld in Winsor McCay se Little Nemo, wat invloede van die art nouveau-styl toon) en ook vooraanstaande kunstenaars as strokiesprenttekenaars opgetree het (soos byvoorbeeld Lyonel Feininger met sy The Kin-der-Kids). Strokiesprente het daarnaas sowat veertig jaar lank hoofsaaklik in koerante verskyn, wat byna uitsluitlik deur volwassenes gekoop is.
Strokiesprentkunstenaars soos Carl Barks, Hergé, Charles M. Schulz, Morris of Uderzo het soms veertig jaar lank hulle karakters geteken, en die kinders, wat die strokiesverhale gelees het, is dikwels ook as grootmense nog steeds gereelde lesers. Sedert die laat sestigerjare het daar strokiesprente verskyn wat spesifiek op volwasse lesers gemik is, soos die sogenaamde Underground Comix.
Strokiesverhale vir volwasse lesers is vir 'n lang tyd vereenselwig met erotiese of selfs pornografiese prente. Inderdaad het baie skrywers en tekenaars net geleidelik begin om hulle werke aan die belangstellings van 'n volwasse teikengroep aan te pas en hulle lewenservarings te verbeeld en te verwoord. Hierdie strokiesverhale maak nie meer gebruik van wetenskapsfiksie- en fantastiese elemente nie, maar reflekteer eerder die maatskaplike realiteit met persoonlike ervarings.
Desondanks is daar ook strokiesverhale, wat wetenskapsfiksie met erotiese en pornografiese elemente verbind, soos die Morbus Gravis (Latyn: "swaar siekte")-reeks met sy hoofkarakter Druuna, wat deur die Italiaanse strokiesprenttekenaar Paolo Eleuteri Serpieri geskep is.
[wysig] Afrikaanse strokiesverhale
Die vermenslikte bobbejane van Adoons-hulle (1948), wat naas 'n aantal ander tipies Afrikaanse karakters en temas deur die Suid-Afrikaanse strokieskunstenaar Thomas Ochse Honiball (1905-1990) geskep is, behoort tot die bekendste strokiesverhale wat oorspronklik in Afrikaans verskyn het. Honiball het tydens sy verblyf in die Verenigde State kennis met die oorsese koerantstrokies gemaak en na sy terugkeer na Suid-Afrika in 1930 besluit om die strokiesverhaal ook by die Afrikaanse publiek bekend te maak.
'n Ander bekende Suid-Afrikaanse strokiesverhaalreeks, wat ook internasionale erkenning geniet, is Bitterkomix, wat deur die Kaapstadse kunstenaars Anton Kannemeyer en Conrad Botes geskep is en vir die eerste keer in 1992 verskyn het. Die reeks is gemik op volwasse lesers en lewer kommentaar op maatskaplike wantoestande.