Noordsee
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Noordsee is 'n epikontinentale see in die noordweste van Europa. Dit is gevorm deur die styging van die seespieël aan die einde van die ystydperk vanaf 10 000 VAJ. Die diepste gebied, by die Noorse kus, is ongeveer 200 meter, terwyl die gemiddelde diepte 94 meter beloop.
Die see is deel van die Atlantiese Oseaan en grens Brittanje, die Faroëreilande, Noorweë, Denemarke, Duitsland, Nederland, België en Frankryk. Sowat 80 miljoen mense woon in 'n radius van 150 kilometer ringsom die kuslyn, en die Noorsee speel al eeue lank 'n belangrike rol as handelsroete vir die internasionale skeepvaart en Europa se toegang tot die oorsese markte. Die suidelike Noordsee met die Engelse Kanaal is die besigste skeepsroete ter wêreld.
Die grootste deel van Europa se olie- en gasreserves is in die Noordsee en word sedert die 1970's ontgin. Hierdie is een van die grootste vervaardigingsareas in die wêreld wat nie deel is van OPUL nie. Meeste van die reserves is onder water wat behoort aan die Verenigde Koninkryk en Noorweë, met kleiner reserves in die waters van Denemarke, Nederland, en Duitsland.
Die Noordsee beslaan slegs 0,2 persent van die oseane se totale oppervlakte, maar is nogtans een van die visrykste seë.[1] Kommersiële vissery en oorbenutting het die plaaslike visbronne in die afgelope dekades drasties verminder, en die onophoudelike vloei van Noord-Europa se rioolwater, wat regstreeks in die Noordsee gepomp word of deur die aangrensende Oossee hierheen vloei, skep nog steeds 'n groot omgewingsprobleem.
[wysig] Verwysings
- ^ DreiStromLand. Ems - Weser - Elbe. Boekdeel 1. Hamburg: edition nordwest im Europa Verlag 2005, bl. 14