Washington, D.C.
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Federale distrik | Distrik van Columbia |
Koördinate | 38°53' N, 77°02' W |
Stigting | 16 Julie 1790 |
Oppervlak: | |
- Totaal | 177 km2 |
Hoogte bo seevlak | 0-125 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2005) | 582 049 |
- Bevolkingsdigtheid | 3 481/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 8 026 807 |
Tydsone | UTC -5 | Somertyd: UTC -4 |
Burgemeester | Adrian M. Fenty (D) |
Amptelike Webwerf | www.dc.gov |
Washington, D.C. is die administratiewe hoofstad van die Verenigde State van Amerika. "D.C." is 'n afkorting vir die Distrik van Columbia (Engels: District of Columbia), die federale distrik, wat egter feitlik gelykstaan aan die stad Washington. Die stad is vernoem na George Washington, die militêre leier van die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog en die eerste President van die Verenigde State.
Die Distrik van Columbia en die stad Washington word deur dieselfde munisipale regering beheer. Vir die meeste praktiese doeleindes word hulle tans as dieselfde politieke en geografiese eenheid beskou. Nog in 1871 was Georgetown egter 'n selfstandige stad, en daar was verskillende munisipale regsgebiede in die Distrik. Alhoewel daar 'n burgemeester en munisipale regering bestaan, oefen die Kongres die hoogste gesag in die Distrik uit, sodat die burgers 'n ander status en minder verteenwoordiging in die regering het as bewoners van ander deelstate.
Die Distrik van Columbia dien as die sentrum van sowel die wetgewende en uitvoerende asook die regsprekende gesag van die Verenigde State. Die stad huisves daarnaas ook die hoofkwartiere van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie van Amerikaanse State en ander nasionale en internasionale instellings. Washington, en veral sy National Mall, is die plek waar 'n groot aantal betogings en proteste plaasvind.
Washington spog met talle nasionale besienswaardighede, monumente en museums en is 'n gewilde toeristebestemming. Die stad staan in die VSA algemeen bekend as D.C., The District of net Washington. Om verwarring met die deelstaat Washington in die Pasifiese Noordweste te voorkom, word die stad dikwels D.C. genoem en die deelstaat Washington State.
Die Distrik van Columbia het volgens 'n skatting van die VSA se Sensusburo in 2005 582 049 inwoners. Die metropolitaanse gebied van Washington en Baltimore het 'n bevolking van meer as 8 miljoen mense en is die vierde grootste in die land. As 'n selfstandige deelstaat sou Washington, D.C. ten opsigte van sy oppervlak die kleinste na Rhode Eiland wees, die vyftigste ten opsigte van sy bevolking (nog voor Wyoming), die eerste ten opsigte van sy bevolkingsdigtheid nog voor Nieu Jersey en die 35ste ten opsigte van sy bruto geografiese produk.
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die Distrik van Columbia, wat op 16 Julie 1790 gestig is, is volgens die Verenigde State se Grondwet 'n federale distrik, waaroor die Amerikaanse Kongres uiteindelike gesag het. 'n Groot deel van hierdie gesag is egter aan die munisipale owerhede oorgedra. Die land, wat die federale distrik nou beslaan, het oorspronklik van die deelstate Maryland en Virginië gekom. 'n Gebied van sowat eenhonderd vierkante kilometer (39 vierkante myl) is in 1847 aan Virginië teruggegee en maak nou deel uit van die distrik Arlington en die stad Alexandria. Ná 1847 het die gebied van die distrik uitsluitend uit land bestaan, wat vroeër deel uitgemaak het van Maryland.
[wysig] Beplanning
Gedurende die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het die Amerikaanse Kongres meestal in Philadelphia vergader, die grootste stad in die destydse dertien kolonies. Die afgevaardigdes was egter nie oortuig daarvan dat die plaaslike owerhede in staat sou wees om moontlike gewelddadige betogings onder bedwang te bring nie en het in 1783 besluit om 'n nuwe hoofstad op te rig, wat nie deel sou uitmaak van 'n bestaande deelstaat nie. In 1787 het die Amerikaanse stigtingsvaders die idee van 'n federale distrik met 'n oppervlak van tot by eenhoderd vierkante myl ontwikkel, waarin die Kongres die eksklusiewe wetgewende gesag sou uitoefen.
Die Kongres het drie jaar lank 'n aantal voorstelle vir 'n nuwe hoofstad oorweeg. Aanvanklik is geskikte rivierhawens langs die Atlantiese kus in oorweging geneem, waarby die noordelike deelstate ten gunste van 'n plek teen die Delaware- of Susquehannarivier was, terwyl die Suidstate die voorkeur aan die Potomac gegee het.
Gedurende 'n dinee, wat deur Thomas Jefferson gehou is, het James Madison en Alexander Hamilton ooreengekom dat die nuwe hoofstad van die Verenigde State in die suide opgerig sou word - in ruil vir die Suidstate se toestemming tot die oorname van oorlogs-skuldlaste deur die federale regering. Die stad is deur Pierre Charles L'Enfant, 'n majoor in die Amerikaanse leër, in die barokstyl ontwerp, met breë straalvormige lane, hoofstrate en verkeerssirkels, wat pragtige uitsigte op belangrike bakens en geboue gebied het.
Die aanvanklike uitleg van die "Federale Distrik" was in die vorm van 'n gelykvormige diamant met 'n sylengte van sestien kilometer of tien myl en 'n totale oppervlak van 256 vierkante kilometer (100 vierkante myl). Die plek teen die Potomacrivier is deur President Washington gekies - vermoedelik vanweë sy landskapsvorm, wat uiters geskik was vir 'n toekomstige waterweg, en omdat hy self in die Potomacgebied woonagtig was. Dit was bowendien 'n kompromis wat sowel noordelike asook suidelike deelstate tevrede gestel het. Die stad is op 9 September 1791 amptelik "Washington" genoem. Met sy kenmerkende beskeidenheid het George Washington na die hoofstad nooit as Washington verwys nie, maar dit liewer "die Federale Stad" genoem. Alhoewel hy die plek selfgekies en in die nabygeleë Mount Vernon gewoon het, het hy nouliks besoek aan die stad afgelê. Die Federale Distrik is "Columbia" genoem - afgelei van die poëtiese naam Columbia, wat destyds as sinoniem vir die Verenigde State gebruik is.
Aanvanklik het die Distrik van Columbia vier verskillende seksies beslaan, waarvan die stad Washington net een was. Die ander drie was die Alexandria-distrik, Georgetown en die Washington-distrik. Georgetown het binne sy huidige grense gelê. Alexandria het uit gedeeltes van die huidige stad Alexandria, asook die huidige Arlington-distrik in die deelstaat Virginia bestaan. Die stad Washington het die grootste deel van sy huidige gebied beslaan, maar het in die weste slegs tot by die huidige Rock Creek Park en in die noorde slegs tot by Floridalaan en Benningstraat gestrek. Floridalaan is destyds Boundary Street genoem. Die Washington-distrik het die res van die gebied beslaan.
In 1791-92 het Andrew Ellicott en Benjamin Banneker die grense van die Distrik met Maryland en Virginia opgemeet en by elke mylpaal grensstene geplaas, waarvan baie tot vandag bewaar is. Die hoeksteen van die Withuis, die eerste nuut opgerigte gebou van die nuwe hoofstad, is op 13 Oktober 1792 gelê - een dag ná die eerste plegtige viering van Columbusdag op die 300ste verjaarsdag van die ontdekking van Amerika.
[wysig] Die 19de eeu
In een van die merkwaardigste strooptogte van die Engels-Amerikaanse Oorlog van die jaar 1812 het die Britte op 24 Augustus 1812 die Amerikaanse hoofstad aan die brand gesteek - as vergelding vir 'n Amerikaanse aanval in die winter, waartydens die stad York (die huidige Toronto) geplunder en neergebrand is en wat talle Kanadese dakloos gelaat het. President Madison en die Amerikaanse troepe het gevlug voordat die Britse soldate Washington ingeneem en sy openbare geboue, waaronder die Kapitool, die Wit Huis en die gebou van die Departement van Finansies, neergebrand het.
Die arsenaal van die Amerikaanse Vloot is deur matrose neergebrand om te voorkom dat die skepe en voorrade in Britse hande sou val. Die huis van die Kommandant van die Marienekorps is as een van min regeringsgeboue deur die Britse soldate gespaar - as 'n teken van respek. Dit is tans een van die oudste openbare geboue, wat nog steeds in gebruik is.
Tydens die besetting het 'n orkaan, wat ook 'n tornado ingesluit het, oor die gebied getrek en sowel skade by die Britse troepe asook in die Amerikaanse hoofstad berokken. Die storm het vinnig afgeswak, maar was voldoende om die vlamme te blus. Die Britte het Washington 26 ure lank beset en was daarna binne 'n week op pad na hul volgende teiken, Baltimore.
Gedurende die 1830's is een van die grootste slawehandelstransaksies in die land in die Federale Distrik deurgevoer. Die hawestad Georgetown was 'n groot mededinger vir Alexandria, en uit vrees dat die slawerny in die hoofstad afgeskaf sou word, het die bevolking van die Alexandria-distrik in die jaar 1846 in 'n referendum gestem waarmee die Kongres oorreed is om Alexandria op 9 Julie van daardie jaar weer by die deelstaat Virginia in te lyf.
Tot by die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861 het Washington 'n klein stad gebly - volgens die sensus van 1860 het sy bevolking 75 000 mense beloop. As gevolg van die krygsvoering en die gepaardgaande administratiewe laste het die bevolking vinnig toegeneem. In 1870 was daar reeds 132 000 inwoners in die distrik.
In Julie 1864 het Gekonfedereerde troepe onder die bevel generaal Jubal Anderson Early 'n aanval op Washington geloods, maar hulle is in die Slag van Fort Stevens afgeweer, en Early het uiteindelik na die Shenandoahvallei teruggekeer. Dit was die enigste slag in die Verenigde State, waartydens 'n president, Abraham Lincoln, onder vyandelike vuur gekom het.
In die vroeë 1870's het Washington 'n streekregering gekry, maar die goewerneur Alexander Robey Shepherd het bekend gestaan vir verkwisting, en uiteindelik het die Kongres sy amp afgeskaf en die hoofstad weer regstreeks beheer - 'n politieke toestand wat vervolgens 'n eeu lank voortgeduur het. In 1878 het die Kongres 'n Organiese Wet goedgekeur waarmee die grense van die stad Washington en dié van die Distrik van Columbia saamgeval het. Die distrik Washington is hierdeur ontbind, terwyl Georgetown tenminste nominaal 'n aparte gebied gebly het, totdat dit in 1895 met Washington versmelt het.
Die Washington-monument is in die jaar 1888 ingewy. Daar was planne om die monumentele aspekte van die stad deur argitektoniese bydraes van bekende persoonlikhede soos Frederick Law Olmsted en Daniel Burnham verder te ontwikkel. Die boubedrywighede vir die Lincoln-gedenkteken en ander geboue op die National Mall het egter eers in die vroeë 20ste eeu begin.
[wysig] Die 20ste eeu
Die bevolking van die Federale Distrik het in 1950 sy historiese maksimum van 802 178 bereik. Washington was destyds op ag na die grootste stad in die VSA, nog voor Boston en op een na St. Louis (Missouri). As gevolg van die grootskaalse verhuising na die voorstede het die inwonerstal in die volgende dekades net soos in ander ouer stedelike sentrums begin krimp.
Met die 22ste verandering aan die Amerikaanse Grondwet, wat op 29 Maart 1961 bekragtig is, het die inwoners van Washington stemreg in die presidentsverkiesings gekry, en hulle stemme is voortaan in die Amerikaanse kieskollege getel, so lank as wat Washington nie meer stemme in die kieskollege het as die deelstaat met die kleinste bevolking nie.
Ná die moord op die burgerregte-aktivis Martin Luther King, Jr. in Memphis (Tennessee) op 4 April 1968 het in sommige dele van die stad swaar onluste uitgebreek. Die geweldpleging het vier dae lank voortgeduur, en 'n aantal geboue is aan die brand gesteek. Op een punt het die geweldplegers tot by twee straatsblokke van die Wit Huis af genader. President Lyndon Johnson het 13 000 federale troepe ontplooi wat die hoofstad beset het - die grootste dergelike operasie in die VSA sedert die Burgeroorlog. Dit het Washington jare geneem om van dié onluste te herstel.
Een van die belangrikste projekte, wat mense hulle weer na die middestad laat vestig het, was die bou van Washington se moltreinstelsel. Sy eerste lyn met 'n lengte van 7,4 kilometer (4,6 myl) is op 27 Maart 1976 geopen.
In die jaar 1973 het die Kongres die selfregering van die Distrik van Columbia en die reorganisasie van die munisipale bestuur verorden, wat op 'n nuwe stelsel met 'n verkose burgemeester en 'n stadsraad vir die Distrik uitgeloop het. Walter Washington het in 1975 die eerste verkose burgemeester van die Distrik geword. Marion Barry, wat in 1979 as sy opvolger verkies is, is op 18 Januarie 1990 deur die federale polisie FBI in hegtenis geneem en is later ses maande tronkstraf opgelê. Barry se opvolger, Sharon Pratt Kelly, het die eerste vroulike burgemeester in 'n groot Amerikaanse stad geword, maar is deur Barry in die voorverkiesing van die jaar 1994 verslaan. Barry is vervolgens vir 'n vierde ampstermyn verkies, waartydens Washington byna insolvent geraak het en gedwing is om sy munisipale gesag gedeeltelik aan 'n finansiële kontrolebestuur af te staan, wat deur die Kongres benoem is. Anthony A. Williams, wat in 1998 as burgemeester verkies is, het die stad weer op 'n pad van fiskale dissipline gebring.
[wysig] Geografie en klimaat
Volgens die Verenigde State se Sensusburo het die stad 'n totale oppervlak van 177 vierkante kilometer (68,3 vierkante myl), waarvan 159 vierkante kilometer (61,4 vierkante myl) land en 18 vierkante kilometer (6,9 vierkante myl) of 10,16 persent water.
Washington word begrens deur die deelstate Maryland in die suidooste, noordooste en noordweste en Virginia in die weste. Die stad onderbreek dié twee deelstate se gemeenskaplike grens langs die Potomacrivier se suidoewer. Die rivierloop van die Potomac maak hier heeltemal deel uit van die Distrik van Columbia. Die twee ander natuurlike strome in die Distrik, Anacostia en Rock Creek, is takriviere van die Potomac. Mensgemaakte damme sluit Dalecarlia Reservoir aan die noordwestelike grens met Maryland, McMillan Reservoir naby die Howard-Universiteit en Georgetown Reservoir noord van Georgetown in.
Die hoogste punt van die Distrik van Columbia met 'n hoogte van 125 meter (410 voet) bo seevlak lê in Tenleytown. Seevlak is die laagste punt langs die oewers van die Anacostia- en Potomacriviere. Die Tidal Basin, wat op seevlak lê, het tydens Orkaan Isabel op 18 September 2003 met elf voet gestyg.
Belangrike geografiese plekke in die Distrik is Theodore Roosevelt-eiland, Columbia-eiland, die Drie Susters (Three Sisters) en Hains-punt.
Washington is geleë op die noordelike periferie van die humiede subtropiese klimaatsone, en sy klimaat het die tipiese kenmerke van die Mid-Atlantiese Streek van die VSA, met vier vasgestelde seisoene. Die somers is gewoonlik baie warm en vogtig, met gemiddelde maksimum-temperature tussen 30 en 33 °C in Julie en Augustus. Weens die kombinasie van hitte en lugvogtigheid ervaar die gebied in die somer talle donderstorms, waarvan sommige tot tornados kan ontwikkel. Lente en najaar word deur gematigde temperature gekenmerk, met gemiddelde maksimum-temperature van sowat 20 °C in April en Oktober.
Koel temperature oorheers in die winter, en daar is soms sneeuvalle. Temperature beweeg van mid-Desember tot by mid-Februarie tussen 'n gemiddelde minimum van -6 tot -2 °C en 'n gemiddelde maksimum van 4 tot 8 °C. Die gemiddelde jaarlikse sneeuvalle is 381 millimeter (15 duim). Die hoogste temperatuur, wat ooit aangeteken is, was 41 °C (106 °F) op 20 Julie 1930 en 6 Augustus 1918, die laagste -26 °C (-15 °F) op 11 Februarie 1899.
Lentetyd tussen laat Maart en die middel van Mei is gewoonlik baie aangenaam, met 'n lae lugvogtigheid, gematigde temperature en skouspelagtig mooie bloeisels van onder meer Washington se Japannese kersiebome. Terwyl orkane in die laat somer en vroeë najaar dikwels deur die gebied van Washington trek, het hulle meestal reeds afgeswak voordat hulle die Federale Distrik bereik.
[wysig] Demografie
Volgens 'n skatting van die Amerikaanse Sensusburo het Washington in 2005 582 049 inwoners getel. Die bevolking van die metropolitaanse gebied van Groter Washington, wat ook aangrensende gebiede in Maryland en Virginia behels, het in 2003 5,8 miljoen mense beloop. Weens die groot aantal pendelaars (410 000) uit ander deelstate styg die plaaslike bevolking bedags tot meer as 980 000 mense - dit is die grootste relatiewe persentasie pendelaars in vergelyking met die totale beroepsbevolking van alle groot Amerikaanse stede. Die gemiddelde jaarlikse inkomste van 'n huishouding was VSA-$ 40 127, dié van 'n gesin VSA-$ 46 283 en die per-capita-inkomste VSA-$ 28 659. Sowat 20,2 persent van die totale bevolking en 16,7 persent van alle gesinne het onder die broodlyn geleef.
Van die bevolking was 58,04 persent Swartes, 39,02 persent Blankes, 3,59 persent Asiate, 0,92 Indiane en 0,14 persent Pasifiese Eilanders. Die meeste Blankes is van Britse afkoms. Volgens die sensus van 2000 praat 83,42 persent van die bewoners, wat vyf jaar of ouer is, Engels, 9,18 persent Spaans, en 1,67 persent gebruik Frans as huistaal. Danksy die meer as 180 ambassades en enkele honderd internasionale organisasies, asook die internasionale gewildheid van die plaaslike universiteite onder buitelandse studente, is daar 'n relatief groot aantal buitelanders in die stad. In 2001 was 72 persent van die bevolking Christene (waarvan 27 persent Rooms-Katolieke, 19 persent Baptiste, en 26 persent lede van ander Protestantse denominasies), 13 persent ongebonde, 4 persent Boeddhiste, 2 persent Moslems en 1 persent Jode.
[wysig] Bekende bakens en museums
Washington spog met talle nasionale monumente en is een van die gewildste toeristebestemmings in die Verenigde State. Die National Mall is 'n uitgestrekte oop ruimte met baie monumetnte van Amerikaanse leiers aan weerskante. Daarnaas dien dit as 'n regstreekse verbinding tussen die Wit Huis en die Kapitool-geboue. In die sentrum van die Mall lê die Washington-monument. Ander belangrike besienswaardighede in die gebied sluit die Jefferson-monument, die Lincoln-monument, die Franklin Delano Roosevelt-monument, die Nasionale Monument van die Tweede Wêreldoorlog, die Monumente vir die Veterane van die Koreaanse en die Viëtnam-Oorlog, die Oorlogsmonument van die Distrik van Columbia en die Albert Einstein-gedenkteken.
Die wêreldbekende Smithsonian Institution is tans 'n vereniging van museums, waaronder die Anacostia-museum, die Arthur M. Sackler-galery, die Hirshhorn-museum, die Nasionale Lug- en Ruimtevaartmuseum, die Nasionale Museum van die Amerikaanse Geskiedenis, die Nasionale Museum van die Amerikaanse Indiane, die Nasionale Natuurhistoriese Museum, die Nasionale Portretgalery, die Nasionale Posmuseum, die Smithsonian-museum vir Amerikaanse Kuns, die Renwick-galery en die Nasionale Dieretuin.
Washington spog met 'n groot aantal verdere kunsmuseums soos die Nasionale Kunsgalery, die Nasionale Museum van Vroue in die Kunslewe, die Corcoran-Kunsgalery en die Phillips-Versameling.
Die Kongresbiblioteek en die Nasionale Argiewe huisves duisende dokumente uit elke tydperk van die Amerikaanse geskiedenis, waaronder die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring, die Amerikaanse Grondwet en die Wet van Menseregte (Bill of Rights).
Die Distrik van Columbia beheer sy eie biblioteekstelsel met 27 takbiblioteke dwarsoor die stad. Die hoofbiblioteek, 'n merverdiepinggebou van staal en glas by die kruispunt van 9de en G-Straat, Noordwes, is deur die modernistiese Duits-gebore argitek Ludwig Mies van der Rohe ontwerp en staan bekend as Martin Luther King Jr.-Gedenkbiblioteek. 'n Groot muurskildery in die hoofsaal beeld die burgerregte-aktivis uit.
Ander bekende besienswaardighede in Washington is die Arena Stage, die Basiliek van die Nasionale Heiligdom van die Onbevlekte Ontvangenis, die Blair-huis, die Katedraal van Sint-Mattheüs die Apostel, die Folger-Shakespeare-biblioteek, die Ford-teater, die Nasionale Historiese Frederick Douglass-monument, die Internasionale Spioenmuseum, die Nasionale Boumuseum, Die National Geographic Society, die Awakening at Hains-punt, die Ou Poskantoor, Theodore-Roosevelteiland, die Verenigde State se Holocaust-Gedenkmuseum en die Nasionale Katedraal van Washington.
[wysig] Verwysings
- Abbott, Carl: Political Terrain: Washington, D.C., from Tidewater Town to Global Metropolis. Chapel Hill: University of North Carolina Press 1999
- Bowling, Kenneth R.: The Creation of Washington, D.C.: The Idea and Location of the American Capital. Fairfax, Va.: George Mason University Press 1991
- Cary, Francine (uitg.): Urban Odyssey: A Multicultural History of Washington, D.C. Washington, D.C.: Smithsonian Institution Press 1996
- Reps, John William: Washington on View: The Nation's Capital Since 1790. Chapel Hill: University of North Carolina Press 1991