See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Genua - Wikipedia

Genua

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Genua

Kaart Wapen
Vlag
 Land Italië
 Gewes Ligurië
 Provinsie Genua (GE)
 Koördinate 44° 24' N, 08° 55' O
 Stigting Antieke oudheid
 Oppervlak:  
 - Totaal 243 vk km
 Hoogte bo seevlak 20 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2006) 614 141
 - Bevolkingsdigtheid 2 527/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 Klimaat  
 - Tipe Gematigde seeklimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 15,6 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie 8,0 / 23,9 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 1072 mm
 Burgemeester Marta Vincenzi
 Amptelike Webwerf genova.it

Genua (Italiaans: Genova) is 'n belangrike hawestad in Noord-Italië, hoofstad van die historiese landskap en administratiewe gebied Ligurië en van die huidige provinsie Genua, met sowat 614 000 inwoners. Die agglomerasie van Genua het sowat 800 000 inwoners (2007). Die stad is die setel van 'n aartsbiskop en 'n universiteit met sowat 40 000 studente. Die ou stadskern behoort tot die grootstes in Europa, en die stad spog met talle historiese paleise in 'n verskeidenheid boustyle.

Naas die hawe is die skeepsbou en die yster-, staal-, papier-, tekstiel- en chemiese nywerheid die ekonomiese basis van die stad. Ook voedselverwerking en handel lewer 'n groot bydrae tot Genua se ekonomie.

[wysig] Geskiedenis

As 'n visserdorpie bestaan Genua reeds in die 5de eeu v.C. onder die antieke naam Xenova. Die eerste verwysing na die stad Genua dateer uit die jaar 218 v.C.. Genua ontwikkel in die antieke tydperk tot die belangrikste hawestad in Ligurië en hanteer veral invoere soos speserye, Oosterse tapyte, sy en Afrikaanse edelmetale.

Die Piazza de Ferrari
Die Piazza de Ferrari

Genua ontwikkel tydens die 10de eeu tot 'n onafhanklike stadrepubliek en eersterangse see- en handelsmag, wat ook groot dele van sy agterland oorheers. In 934 verwoes die Arabiese Sarasene die stad, tog verslaan Genua in 1016 saam met die stad Pisa die Sarasene in 'n seegeveg.

Genua verdank 'n groot deel van sy politieke en ekonomiese mag net soos Pisa aan die tydperk van die kruistogte. Albei stede se vlote neem aan die Eerste Kruistog deel en voorsien die kruisvaarderleërs tydens die beleg van Jerusalem in 1099 met voorrade. In 1105 word aan Genua die reg toegestaan om in die hawestad Akko 'n handelspos op te rig, wat van die meeste doeanes vrygestel word.

Danksy die monopolie in die handel met die oosterse gebiede van die Middellandse See verwerf Genua rykdom en politieke mag. As die hoofstad van 'n aansienlike koloniale ryk groei Genua tydens die 12de eeu vinnig tot meer as 100 000 inwoners. Na 'n honderdjarige oorlog word ook Pisa as Genua se belangrikste mededinger uit die weg geruim. Pisa verloor tot by die einde van die 13de eeu 'n aansienlike deel van sy magsgebied, insluitende Korsika, Elba en Sardinië.

Genua word die magtigste staat in die westelike deel van die Middellandse See en win die Griekse keiser van Byzantium as 'n bondgenoot vir sy magsuitbreiding in die oostelike deel. Sedert 1256 is Venesië en Genua felle teenstanders. 1261 werp Genua in ruiling vir handelsvoorregte in Konstantinopel die Latynse Keiserryk omver, 'n bondgenoot van sy mededinger Venesië. Genua slaag vervolgens daarin om Venesië as vernaamste Europese handelsmag in die oostelike seegebied af te los.

'n Monument vereer die bekendste boorling van die stad, Christophorus Columbus
'n Monument vereer die bekendste boorling van die stad, Christophorus Columbus

'n Aantal Griekse eilande soos Rhodos en Samos word vorstedomme onder die heerskappy van Genuese adellikes, en die stad stig winsgewende kolonies langs die kus van die Swart See, onder meer op die Krim-skiereiland.

Die binnelandse magstryd tussen keiser- en pousgesinde Ghibelline en Guelfe, aristokratiese en demokratiese politieke vleuels en die leidende adellike gesinne, soos die Doria, Fieschi en Grimaldi, verswak die Genuese magsposisie op die internasionale toneel.

Na 'n wysiging van sy grondwet word Genua vanaf 1339 deur doges regeer, die heersertitel word erflik. Na 1353 kom Genua onder die invloed van afwisselend Frankryk en die Italiaanse stad Milaan.

Die stryd teen Venesië eindig met Genua se neerlaag in die jaar 1381. Die Genuese vloot word naby Chioggia vernietig. Ook op ekonomiese gebied ervaar Genua teenspoed; die Turke begin geleidelik die handel met die Levant oorneem. Na die Turkse verowering van Konstantinopel raak Genua sy besittings in die ooste volledig kwyt.

Genua is een van die sentrums van die vroeë kapitalisme en beskik oor hoogs ontwikkelde banke en handelsmaatskappye. Om die ekonomiese verval te keer, probeer Genua nuwe handelsroetes te ontwikkel. Na die ontdekking van Amerika begin die ekonomiese swaartepunt egter van die Middellandse See en sy handelsmonopolies wegbeweeg. Genua se posisie verswak dus verder.

Frankryk word Venesië se opvolger as grootste buitelandse bedreiging en begin Genua feitlik oorheers. In 1529 word die Franse maghebbers deur Andrea Doria verdryf, sameswerings lei egter weer tot politieke instabiliteit. Frankryk trek voordeel uit die onluste. 1684 word Genua deur Franse oorlogskepe onder vuur geneem. In 1768 moet Genua die eiland Korsika aan Frankryk verkoop. 1797 stig Napoléon I Bonaparte die Liguriese Republiek, 'n satellietstaat van Frankryk. 1805 word Genua by die Franse keiserryk, tien jaar later by Piemont-Sardinië ingelyf.

Tydens die 19de en 20ste eeu beleef Genua 'n ekonomiese opbloei en ontwikkel tot 'n moderne hawestad, wat die nywerhede van die Po-vlakte rondom Milaan en Turyn met die wêreld verbind. Genua se hawe is een van die belangrikste aan die Middellandse See en die die derde grootste houerhawe na Algeciras in Spanje en die Italiaanse Gioia Tauro in Kalabrië.

Die ekonomiese konferensie van 1922 is die eerste internasionale byeenkoms na die Eerste Wêreldoorlog, waaraan Duitsland weer mag deelneem. Ondanks Frankryk se bedenking geniet die Duitse delegasie die gelyke regte. As gevolg van die konferensie sluit Duitsland en die Sowjetunie, wat destyds op internasionale vlak nog geïsoleer bly, die ooreenkoms van Rapallo.

[wysig] Besienswaardighede

Voormalige magasyne in die Porto Antico
Voormalige magasyne in die Porto Antico
  • Ter geleentheid van die Kolumbus-jaar 1992 is die ou hawe (Porto Antico) deur die bekende argitek Renzo Piano, 'n boorling van Genua, herontwerp en vergroot. Die hawe is nou in staat om selfs groot oseaan- en kruisvaartskepe te hanteer. Die hawebuurt met 'n oppervlakte van 225 hektaar bied werkgeleenthede vir sowat 40 000 mense. Ou katoenmagasyne is herskep tot restourante, winkels en museums. Daarnaas lok die grootste akwarium in Europa besoekers.
  • Die Via Garibaldi (vroeër Strada Nuova) bekoor met sy talle historiese paleise soos die Palazzo Tursi, die Palazzo della Meridiana, die Palazzo Bianco en die Palazzo Rosso. Die twee laasgenoemde huisves nou museums.
  • Die Lanterna, 'n vuurtoring met 'n hoogte van 117 meter, is al eeue lank die bekendste baken van Genua.
'n Panoramiese uitsig oor die stad en sy hawe
'n Panoramiese uitsig oor die stad en sy hawe


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -