Armeense volksmoord
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Armeense Volksmoord verwys na die grootskaalse ontruiming en verwante sterftes van honderde duisende tot dalk meer as 'n miljoen Armene tydens die regering van die Jong Turke van 1915 tot 1916 in die Ottomaanse Ryk.
Die Republiek van Turkye verwerp die idee dat die gebeure 'n volksmoord was en beweer dat die sterftes onder die Armene die gevolg was van inter-etniese geweld, siektes en hongersnood tydens die chaos van die Eerste Wêreldoorlog. Die meeste Armeense, Russiese, Westerse en 'n toenemende aantal Turkse geleerdes is dit eens dat dit wel 'n volksmoord of 'n veldtog van staatsgesteunde etniese suiwering en grootskaalse uitwissing was. Sommige Westerse bronne wys op die groot aantal sterftes as bewys van 'n sistematiese, georganiseerde plan om Armene uit te wis. Die gebeure is waarskynlik ook die tweede mees bestudeerde geval van 'n volksmoord[1] en word dikwels met die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog vergelyk. Tans erken 21 lande amptelik die Armeense volksmoord.
[wysig] Ottomaanse Armeense Bevolking
Volgens bronne was daar in 1914, voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, 'n geskatte twee miljoen Armene in die Ottomaanse Ryk. Die oorgrote meerderheid Armene het aan die Armeense Apostoliese geloof behoort met 'n kleiner aantal Armeense Katolieke en Protestante. Die Armeense bevolking in oostelike Anatolië (ook genoem Westelike Armenië) was groot en gekonsentreerd, maar daar was ook groot getalle wat in die westelike deel van die Ottomaanse Ryk gewoon het, baie van hulle in die hoofstad, Konstantinopel.
[wysig] Die status van die Ottomaanse Armene
Tot laat in die 19de eeu is daar na Armene verwys as millet-i sadika (lojale volk) deur die Ottomane.[2] Armene, Grieke en ander Christene, asook Jode en ander minderheidsgroepe is aan ander wette onderwerp en het minder wetlike regte gehad as die Moslem-bevolking. Daar is talle beperkinge op hul regte in die ryk geplaas: Armene is verbied om by die weermag aan te sluit, hul getuienis teen nie-Armeense Moslems in Islamitiese howe is as ongeldig beskou en hulle is nie toegelaat om hulle te bewapen nie.