NAVO
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie is 'n militêre bondgenootskap wat tot stand gekom het met die ondertekening van die Noord-Atlantiese Verdrag op 4 April 1949. Die organisasie se hoofkantoor is in Brussel in België. Die organisasie het 'n stelsel van gemeenskaplike verdediging daargestel waar die lidlande instem om mekaar te verdediging in geval van 'n aanval deur 'n eksterne party. Hierdie verdrag het 'n militêre bondgenootskap gesluit wat later die Westerse Europese Unie sou word.
[wysig] Geskiedenis
[wysig] Begin van die organisasie
Die Verdrag van Brussels wat op die 17de Maart 1948 tussen België, Nederland, Luxemburg, Frankryk en die Verenigde Koninkryk onderteken is, word allerweë as die voorloper van die NAVO verdrag beskou. Die deelname van die Verenigde State is egter as nodig geag om as teenvoeter te dien vir die militêre mag van die Sowjet-Unie en daarom is samesprekings feitlik onmiddelik na die ondertekening van bogenoemde verdrag begin. Hierdie samesprekinge het gelei tot die stigting van die Noord-Atlantiese Verdrag wat op die 4de April 1949 onderteken is. Dit het die lande van die Brussels verdrag ingesluit asook die Verenigde State, Kanada, Portugal, Italië, Noorweë, Denemarke en Ysland. Drie jaar later op die 18de Februarie 1952 het Griekeland en Turkye ook aangesluit. Die insluiting van Wes-Duitsland op die 9de Mei 1955 is as 'n beduidende keerpunt in die geskiedenis van die Europese kontinent beskryf deur die destydse Minister van Buitelandse sake van Noorweë, Halvard Lange[1]. Die stap het inderdaad gelei tot die sluiting van die Warskou Verdrag, wat op die 14de Mei 1955 deur die Sowjet-Unie en sy sattelietstate onderteken is. Sodoende is die twee kante van die Koue Oorlog afgebaken.
[wysig] Aanvang van koue oorlog
NAVO-eenheid is vroeg in sy bestaan bedreig tydens Charles de Gaulle se presidentskap van Frankryk vanaf 1958 en later. De Gaulle het beswaar aangeteken teen die Verenigde State se oorheersende rol in die organisasie en wat hy beskou het as 'n spesiale verhouding tussen die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk. In 'n memorandum wat de Gaulle aan President Dwight D. Eisenhower en Eerste Minister Harold Macmillan gestuur het op 17 September 1958, het hy vertoë gerig vir die skepping van 'n drieledige direktoraat wat Frankryk op 'n gelyke grondslag as die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk sou plaas en ook dat die geografiese gebiede van belang uitgebrei moes word na wêrelddele wat vir Frankryk van belang was, soos onder andere Algerië, waar Frankryk in 'n teeninsurgensieveldtog betrokke was en waarvoor hulle NAVO ondersteuning wou hê.
De Gaulle het die antwoord onbevredigend gevind en begin om 'n onafhanklike verdedigingsmag vir sy land te bou. Op 11 Maart 1959 het Frankryk sy Middelandse vloot vanuit NAVO-bevel onttrek; drie maande later het de Gaulle die plasing van buitelandse kernwapens op Franse grondgebied verban. Dit het daartoe gelei dat die Verenigde State in 1967 tweehonderd militêre vliegtuie onttrek het en die beheer van tien lugmagbasisse, wat hulle sedert 1950 beheer het, weer aan die te oorhandig.
Frankryk het ook intussen begin werk aan 'n onafhanklike kernprogram. Frankryk het hulle eerste kernwapen op die 13de Februarie 1960 getoets.
Ten spyte van Frankryk se solidariteit met die res van NAVO tydens die Kubaanse missielkrisis in 1962, het de Gaulle voortgegaan met sy strewe na 'n onafhanklike verdedigingsmag en Frankryk se Atlantiese- en Engelse Kanaalvloot vanuit NAVO-bevelstrukture verwyder. In 1966 is alle Franse gewapende magte vanuit NAVO-bevel verwyder en is alle nie Franse NAVO troepe gevra om Frankryk te verlaat.
Frankryk het egter 'n lid van NAVO gebly en het in 1995 weer by NAVO se Militêre Komitee aangesluit en werksverhoudinge met NAVO se militêre strukture versterk.
Die skepping van NAVO het dit noodsaaklik gemaak dat militêre tegnologie gestandardiseer moes word en dat daar 'n eenvormige strategie, deur Bevel-, Beheer- en Kommunikasiesentrums ontwikkel moes word. Daar is gevolglik 'n standaardisasie ooreenkoms gesluit. Die 7.62x51 NAVO rondte is toe onder andere in die 1950's as 'n standaard rondte vir gewere van NAVO-lande in gebruik geneem. Fabrique Nationale se FAL het toe die mees gewilde 7.62 NAVO geweer in Europa geword en diens gedoen tot in die vroeë 1980's. Vliegtuie se bevelseine is ook gestandaardiseer sodat NAVO-vliegtuie op enige NAVO-basis sou kon land.