See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Mein Kampf - Wikipedia

Mein Kampf

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Die Franstalige uitgawe uit die jaar 1934
Die Franstalige uitgawe uit die jaar 1934

Mein Kampf is die grondleggende politieke werk van Adolf Hitler, waarin hy teen die agtergrond van sy outobiografie die grondbeginsels van sy ideologie en sy partypolitieke agenda uiteensit.

Inhoud

[wysig] Ontstaan

Hitler het Mein Kampf in 1924 tydens sy vestingstraf in die gevangenis van Landsberg in Opper-Beiere geskryf. Alhoewel Rudolf Heß die mede-outeur was, het sy naam nie op die omslag verskyn nie.

Hitler het in die werk die ontwikkeling en politieke doeleindes van die destydse Nasionaal-Sosialisme beskryf en onder meer die Protokolle van die Wyses van Sion as bron gebruik. Hierdie anti-Semitiese werk behandel 'n beweerde wêreldwye komplot van Joodse kringe en was destyds lankal as 'n vervalsing ontmasker.

"Mein Kampf" sou oorspronklik onder die titel Viereinhalb Jahre [des Kampfes] gegen Lüge, Dummheit und Feigheit ("Vier en 'n half jaar [se stryd] teen leuens, dommigheid en lafhartigheid") verskyn het. Terwyl die eerste deel deur Hitler tydens sy tronkstraf vir sy medegevangenes Emil Maurice en Rudolf Heß gedikteer is, het die tweede deel ná Hitler se voortydige vrylating in Desember 1924 in 'n villa op die bergspits Obersalzberg ontstaan. Die eerste boekdeel (Eine Abrechnung) het in Julie 1925 verskyn, die tweede (Die nationalsozialistische Bewegung) is in Desember 1926 gepubliseer. Tot by die jaar 1930 was Mein Kampf in twee boekdele teen 'n prys van 12 Reichsmark elk beskikbaar en is daarna in een boekdeel gepubliseer, wat dieselfde formaat soos die meeste Bybel-uitgawes gehad het.

Die oorspronklike teks is gedurende sy twintigjarige wysigingsgeskiedenis tussen 1925 en 1945 verskeie kere verander en uitgebrei. 'n Aantal teksdele, wat op stilistiese en inhoudelike vlak as verwarrend beskou moes word, is blykbaar deur anonieme redigeerders bewerk.

Otto Strasser, wat saam met sy broeder Gregor Strasser en Hitler in Landsberg in die tronk gesit het, het in sy boek Hitler und ich ("Hitler en ek") die eerste uitgawe van Mein Kampf as 'n konglomeraat van "sleg verwerkte politieke lektuur" beskryf, wat onder meer die beskouings van Karl Lueger, Georg von Schönerer, Houston Stewart Chamberlain, Paul de Lagarde en Alfred Rosenbergs ten opsigte van buitelandse beleid, asook "anti-Semitiese woedeuitbarstings van Julius Streicher" bevat het.

By 'n tekskritiese of historiografiese ontleding van Mein Kampf moet dus rekening gehou word met die feit dat Hitler se politieke en literêre opvattings van die 1920's tot by die veertigerjare moontlik verander het.

[wysig] Inhoudelike oorsig

  • Hitler pleit vir die aansluiting van Oostenryk by die Duitse Ryk.
  • Die Nasionaal-Sosialisme se kenmerkende antisemitisme word breedvoerig behandel. Hitler pleit vir die uitwissing van die - volgens sy bewering - "Joodse" marxisme en ontwerp die ideologie van 'n sogenaamde "nasionale sosialisme", waarin "rassestyd" die "klassestryd" sou vervang. Hierdie ideologie sou ook gebruik word om die Hitler-beweging vir Duitse arbeiders aantreklik te maak.
  • Hitler lê daarnaas die klemtoon op die politieke stelsel van die destydse Sowjetunie, wat hy as "bolsjewisme" beskryf en deur middel van 'n militêre veldtog (wat ook rasseoorlog genoem word) wil verpletter.
  • Die verowerde gebiede in die ooste sou as "lewensruimte" vir die Duitse volk benut word.
  • Om 'n oorlog op twee fronte (soos gedurende die Eerste Oorlog) te vermy, pleit Hitler vir 'n politieke ooreenkoms met Engeland.
  • Hitler kritiseer die westelike parlementêre stelsel op 'n polemiese manier en pleit vir die daarstelling van 'n Germaanse leierstaat (die demokratiese stelsel, wat teenstrydig met die ware belange van die "volksgemeenskap" sou wees, moet volgens Hitler afgeskaf word).
  • In die tweede boekdeel word hierdie "gedagtes" vermeng tot die partypolitieke program van die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty (NSdAP).
  • Die outobiografiese teksdele en 'n oorsig oor die geskiedenis van die NSdAP is ná 1924 uit die nuwe uitgawes van Mein Kampf verwyder.

(Bron: nationalsozialismus.de)

[wysig] Verspreiding

'n Advertensie in 'n Nederlandse publikasie. Die Nederlandse vertaling Mijn Kamp het in 1939 verskyn
'n Advertensie in 'n Nederlandse publikasie. Die Nederlandse vertaling Mijn Kamp het in 1939 verskyn

Van die "volksuitgawe", wat in een boekdeel verskyn het, is tot by Hitler se magsoorname in Januarie 1933 287 000 eksemplare teen 'n prys van 12 Reichsmark verkoop. Hitler se tantieme daarop was tien persent. Die boek het daarna 'n blitsverkoper geword. In die tydperk tussen Februarie en 31 Desember 1933 is sowat 1,5 miljoen eksemplare verkoop. 'n Spesiale uitgawe in blindeskrif het in dieselfde jaar verskyn. Vanaf 1936 het Duitse pare by hulle bruilof Mein Kampf in plaas van die Bybel as huweliksgeskenk ontvang.[1] In 1939 het die totale oplaag 5,45 miljoen eksemplare beloop, in 1943 10,24 miljoen. Die boek is grotendeels as huweliksgeskenk deur die staat versprei. Om hierdie winsgewende verkope te beskerm, is danksy Hitler se invloed 'n wet verorden, waarvolgens die boek nie tweedehands verkoop moes word nie - anders sou huwelikspare hulle eksemplare moontlik aan antikwariate verkoop het.

Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog is daar vermoedelik enkele miljoene eksemplare saam met portrette van Hitler en ander herinnerings aan die NSdAP-bewind verniel.

Kavgam, die Turkse vertaling van Mein Kampf, is in laat 2004 byna gelyktydig deur vyftien Turkse uitgewers gepubliseer en teen lae pryse verkoop. Na ramings is tussen 50 000 en 100 000 eksemplare verkoop. In 'n nawoord word die Koerde as 'n etniese groep beskryf wat nou verwant aan die Joodse volk sou wees.

[wysig] Regtelike aspekte

Aangesien Adolf Hitler tot sy dood woonagtig was in Prinzregentenplatz, München, is sy fortuin ná die oorlog deur die geallieerde magte en uiteindelik deur die Duitse deelstaat Beiere gekonfiskeer. Volgens die Beierse owerhede is dié deelstaat ook die eienaar van alle outeursregte ten opsigte van Mein Kampf. Kopiereg op die werk verval volgens Duitse wetgewing op 31 Desember 2015, sewentig jaar ná Hitler se dood. Die deelstaat Beiere inisieer geregtelike stappe teen uitgewers, wat volledige uitgawes of uitgawes sonder kommentaar publiseer.

In Engelssprekende lande, in Israel en in Skandinawië verskyn tans steeds meer herdrukte uitgawes, aangesien Beiere hier nie oor die outeursregte beskik nie. Die verkoop van tweedehandse boeke en die privaatbesit van Mein Kampf is in Duitsland wettig.

[wysig] Verwysings

  1. ^ Der Tagesspiegel (Berlyn): Was erbt Hitlers Familie? (3 April 2003) Besoek op 25 Mei 2007


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -