Gholf
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
-
Vir ander betekenisse van die woord, kyk ook na Gholf (ondubbelsinnigheid).
Gholf is 'n buitelugsport waar individuele spelers of spanne 'n klein bal tot binne 'n gaatjie in die grond moet slaan deur verskeie gholfstokke te gebruik. Dit is ook een van die min spelle wat nie 'n vaste bepaalde spelarea gebruik nie, dit wil sê golfbane verskil in vorm en uitleg. Die spel word bepaal deur die Reëls van Gholf (opgestel deur die Verenigde State se Gholfvereniging) as "die slaan van 'n bal vanaf die bofperk tot in die gaatjie deur een of meer houe onderhewig aan die Reëls".[1] Daar word beweer dat gholf in Skotland ontstaan het en volgens oorlewering is die eerste gholfspel moontlik by die Bruntsfield Links in Skotland in 1456 gespeel, aldus die Royal Burgess Golfing Society.
Gholf, in sy huidige vorm, was wel sedert ten minste 1257 in Nederland en sedert 1672 op Skotland se Musselburgh Links gespeel (die oudste gholfbaan in die wêreld), maar ander weergawes van die spel is al meerdere eeue voorheen dwarsdeur die Britse eilande en die Nederlande van Noord-Europa gespeel.
Alhoewel dit gereeld as 'n elite-tydverdryf gesien word, word gholf nou meer populêr en trek meer spelers aan reg oor die wêreld.
[wysig] Uitleg van 'n gholfbaan
'n Spel bestaan uit die speel van 'n rondte van etlike gaatjies. 'n Gaatjie bestaan uit die slaan van 'n bal vanaf die bofperk ('n gemerkte area wat uitgesit word vir die eerste hou van 'n gaatjie), en opvolgende hou met yster- of houthoue. Sodra die bal die setperk ('n area van kortgesnyde gras) bereik word die bal met sethoue (wat teen die grond langs gespeel word) tot in die gaatjie gespeel. Meeste gholfbane bestaan uit 18 gate, alhoewel sekere 9 het. Die doel — om so min as moontlik houe te gebruik om die bal in die gaatjie te kry — word deur verskeie obstruksies soos sandgate en waterhindernisse bemoeilik.