See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Anglo-Normandies - Wikipedia

Anglo-Normandies

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Titelblad van Kelham se woordeboek van die Normanniese en Oufranse taal uit 1779
Titelblad van Kelham se woordeboek van die Normanniese en Oufranse taal uit 1779

Anglo-Normandies (Frans: L'anglo-Normand, Normandies: l'Anglio-Nouormand Engels: Anglo-Norman) of Anglo-Frans, is die naam van die vorm van Frans wat tydens die middeleeue vir vier eeue in Brittanje gebruik is[1]. Die taal het 'n groot invloed op Engels gehad en sowat 10 000 woorde van Normandiese of Franse oorsprong is in Engels opgeneem. Die term Anglo-Normandies het onstaan uit die opvatting dat dit 'n variasie van Oudnormandies is wat saam met Willem die Veroweraar in Engeland aangekom het.

Daar word egter gemeen dat Willem se weermag heterogeen was en dat mense van oral uit Frankryk hulle in Engeland gevestig het. Uit geskrifte wat behoue gebly het blyk dit ook dat die taal gebruik is deur 'n groot verskeidenheid mense, wat gestrek het van eerstetaalsprekers tot mense wat slegs 'n geringe kennis van die taal gehad het. Sommige vakkundiges meen dus dat die taal eerder as Anglofrans behoort bekend te staan. [2]

Anglo-Normandies is in 1066 na Engeland ingevoer nadat die Hertog van Normandië, Willem die Veroweraar, die Saksiese leër van Koning Harold II in die Slag van Hastings verslaan het. Baie van die Angelsaksiese adellikes het op die slagveld gesneuwel, terwyl die oorlewendes dikwels as verraaiers beskou is. Normandiese adellikes het nou vinnig hulle plekke ingeneem sodat die Engelse adelsklas byna volledig deur Normandiërs vervang is. In 1072 was daar nog net een Angelsaksiese adellike onder Engeland se twaalf earls, wat vier jaar later tereggestel is.[3]

Die nuwe adel het Normandies as die taal van die heersende klas ingevoer, en dié taal het sodoende 'n baie hoër prestige as Engels gehad wat slegs deur die laer klasse gepraat is. Die verskil in prestige het die gebruik van beide tale bepaal: Anglo-Normandies het groot agting geniet en is saam met Latyn as skryftaal gebruik en was die administratiewe en hoftaal, terwyl Engels slegs mondelings as omgangstaal deur die laer klasse gebruik is. [1] Aangesien die Anglo-Normandiese adellikes en die Engelse bevolking min kontak gehad het, het die Franse dialek aanvanklik min invloed op die omgangstaal, Engels, uitgeoefen. Tussen 1066 en ongeveer 1120 is daar dus slegs 900 Anglo-Normandies woorde in Engels opgeneem.

Binne vyftig jaar het die twee bevolkingsgroepe egter begin vermeng. Normandiese soldate wat na Engeland gebring is het aangebly en met Engelse vrouens getrou en die Engelse het gewoond geraak aan hulle heersers. Engelse dienaars moes die taal van hulle Normandiese here leer en kinders uit gemengde huwelike het tweetalig groot geword. Ongeveer 10 000 Anglo-Normandies en Sentraal-Franse woorde is sodoende voor die 15de eeu in Engels opgeneem. Die taal se invloed op Engels was veral sterk in gebiede soos godsdiens, regering, die reg, weermag, mode, onderwys, kultuur sosiale lewe, kuns, kookkuns en medisyne. [1] As gevolg van die Normandiërs se Skandinawiese bande is ook Oud-Noorse woorde soos Kanna (koppie) deur Anglo-Normandies as Can in Engels opgeneem. Ander voorbeelde sluit in Cabbage, van Caboche, Fashion, van Faichon, Mug van Mogue, Catch van Cachi, Cater van Acater en baie ander.[4]

Alhoewel Anglo-Normandies slegs deur 'n klein breukdeel van die Engelse bevolking gepraat is, het dit vir vier eeue oorleef en het dit 'n groot invloed op die meerderheidstaal gehad, as gevolg van die hoë prestige van die taal. Die Engelse kroon se verlies van Normandië in 1204, toe die Franse koning Filips II die Hertogdom van Normandië geannekseer het en vastelandse Normandië van Normanniese-Engeland geskei het, het egter die agteruitgang van die taal in Engeland ingelui.[4] In gesinne van Normandiese oorsprong, en selfs onder die koninklikes, was Anglo-Normandies baiekeer nie meer die kinders se moedertaal nie en is dit as 'n vreemde taal aan hulle geleer. Verder is die Sentraal-Frans van Parys vanaf die 13de eeu al hoe meer gesien as die taal van die onderwys en kultuur en is Anglo-Normandies as 'n snaakse Franse dialek beskou. Aangesien die taal se instandhouding juis van sy prestige afhanklik was het die taal se ondergang dus waarskynlik vinnig plaasgevind. Sommige Anglo-Normandies leenwoorde is deur Sentraal-Franse woorde vervang. [1] Terselfdertyd was die prestige van die Engelse taal aan die opkoms as gevolg die verbeterende toestande van die Engelse werkersklas. Engels is nou ook as skryftaal gebruik en is in regeringsdokumente gebruik. Teen die 14de eeu is Engels wyd gebruik en deur almal verstaan. Selfs in die koningshuis was Frans nie meer die moedertaal nie en Henry IV was die eerste enkeltalige Engelssprekende Engelse koning.

In behoudende kringe soos sekere adelikes, kerklui en in universiteite is pogings aangewend om die taal te behou. Dit het die aanleer van Frans as tweede taal ingelui asook reëls dat studente in Frans of Latyn met mekaar moes praat en parlementêre uitvaardigings dat adellikes hulle kinders Frans moes leer. Frans het egter geleidelik sy status as administratiewe en hoftaal verloor en teen die 15de eeu was Frans 'n vreemde taal in Engeland. Vandag is die enigste oorblyfsels van die taal onder die Engelse kroon te vinde in die hoogsbedreigde tale van die Kanaaleilande, Guernésiais, Jèrriais en Sercquiais. [1]


[wysig] Verwysings

  1. ^ 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 England in the Middle Ages - A Medieval Tourist Guide, English-French language contact, Besoek op 20 Mei 2007
  2. ^ The Anglo-Norman On-Line Hub, [1], Besoek op 20 Mei 2007
  3. ^ Van Dyke Shelly, Percy: English and French in England, 1066-1100. Doktorale tesis, Universiteit van Pennsylvanië, Philadelphia 1921, bl. 32
  4. ^ 4,0 4,1 Scandinavica.com, Scandinavians in Normandy, Besoek op 20 Mei 2007


Italiese tale
Italiese groep: Oskies | Umbries | Faliskies | Latyn
Romaanse tale
Iberoromaans: Asturies | Galicies | Katalaans | Portugees | Spaans
Galloromaans: Langues d'oil: Frans | Gallo | | Lorreins | | Normandies (Auregnais | Guernésiais | Jèrriais | Sercquiais) Pikardies | Champenois | Wallonies | Anglo-Normandies
Oksitaans: Aranees | Auvergnat | Gaskons | Languedokies | Limousin | Provensaals
Frankoprovensaals
Retoromaans: Romansch | Ladinies | Friulaans
Italoromaans: Dalmaties | Italiaans | Napolitaans
Suid-Romaans: Korsikaans Sardies (Campidanies, Galluraans, Logudories, Sassaries)
Balkanromaans: Aroemeens | Istro-Roemaans | Meglenoroemaans | Roemeens
Romaanse
Kunstale:
Interlingua | Interlingue | Lingua Franca Nova


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -