Clanwilliam
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Clanwilliam in die Wes-Kaap is een van die oudste dorpe in Suid-Afrika. Die eerste Voortrekkers het hulle hier reeds in 1732 langs die Olifantsrivier gevestig.
Clanwilliam staan vandag veral vir sy rooibostee bekend, wat uitsluitlik in die sanderige valleie van die Sederberge groei en hier bemark word. Die vrugbare grond van die gebied lewer daarnaas ook sitrusvrugte en wyn op. 'n Dam by die benedeloop van die Olifantsrivier en 'n uitgebreide kanaalstelsel verskaf water vir besproeiing.
Inhoud |
[wysig] Ligging
Clanwilliam is in die Sederberge by die sameloop van die Olifants- en Jan Disselsvleirivier, 232 km noord van Kaapstad en sowat 50 km noord van Citrusdal, by die Clanwilliam-dam geleë.
[wysig] Geskiedenis
Die dorp is op die plaas Jan Disselsvlei uitgelê, en dit was dan ook sy eerste naam. 'n Onder-drosdy is op 1 Februarie 1808 op die plaas gestig met Daniel Johannes van Ryneveld as assistent-landdros. So is die hele gebied wat vandag as die Noordweste bekend staan onder die landdros van Tulbagh geplaas. Op 1 Januarie 1814 verkry dit die status van afsonderlike distrik en is dit tot Clanwilliam herdoop deur sir John Cradock, goewerneur van die Kaap van 1811 tot 1814, ter ere van sy skoonpa, die graaf van Clanwilliam. Die dorpie het vinnig ontwikkel nadat enkele van die 1820-Setlaars hier gevestig is. Dit het munisipale status verkry in 1901. Die eerste burgemeester was Charles Fryer, Ierse afstammeling van die 1820-Setlaars. Elektrisiteit is in 1938 die eerste maal deur die munisipaliteit aangelê.
[wysig] NG gemeente
Hoewel die distrik afsonderlike afgetsig het, het dit kerklik steeds onder die gemeente Tulbagh, wat in 1743 as vierde gemeente aan die Kaap gestig is, geval. Clanwilliam is eers op 26 September 1826 as afsonderlike gemeente afgestig. Aanvanklik het die gemeente die hele Namakwaland, Calvinia en Vanrhynsdorp ingesluit. Die eerste kerkgeboutjie is in 1830 voltooi en die eerste leraar, ds. William Robertson, is op 26 Februarie 1832 bevestig. Veel is hier verrig tydens die lang dienstydperk van ds. C.F. Leipoldt, vader van die skrywer dr. C. Louis Leipoldt. Twee proponente is tydens die aanbou van die besproeiingskema hier van 1933 tot 1936 met fondse uit die Armesorgkas aangestel om die honderd arbeiders te bedien.
[wysig] Opvoeding
Die dorp is wyd bekend om sy Augsburg Landbougimnasium, wat onstaan het uit die samesmelting in die jare 90 van die hoërskool en landbouskool. Dit lok leerders vanuit die hele Noordweste en Namakwaland.
[wysig] Bronne
- Olivier, ds. P.L., Ons gemeentelike feesalbum, Kaapstad en Pretoria, 1952
- George, K.J. (red.), Official South African Municipal Year Book 1961-1962, Pretoria, 1962.
Provinsie Wes-Kaap |
|
---|---|
Hoofstad: | |
Streke: |
Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Tuinroete | Klein Karoo | Overberg | Weskus |
Grootste stede en dorpe: |
Kaapstad | George | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Vredenburg | Worcester |
Munisipaliteite: |
Beaufort-Wes | Bergrivier | Breederivier | Breederivier/Wynlande | Breedevallei | Kaap Agulhas | Cederberg | Sentraal-Karoo | Kaapstad | Drakenstein | George | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Plettenbergbaai | Prins Albert | Saldanhabaai | Suid-Kaap | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Weskus | Witzenberg | |