See also ebooksgratis.com: no banners, no cookies, totally FREE.

CLASSICISTRANIERI HOME PAGE - YOUTUBE CHANNEL
Privacy Policy Cookie Policy Terms and Conditions
Namakwaland - Wikipedia

Namakwaland

vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.

Namakwaland is 'n distrik in die Noord-Kaap in die mees noordwestelike hoek van die land, antikloksgewys begrens deur die Atlantiese Oseaan, die Noordweste, Boesmanland en Namibië. Die hoofdorp is Springbok en ander vername dorpe is Garies, Port Nolloth, Kamieskroon, Alexanderbaai, Steinkopf, Hondeklipbaai en Leliefontein. Gebiede ten Suide van Namakwaland word dikwels verkeerdelik by die distrik ingesluit. Die dorpies Bitterfontein en Nuwerus is byvoorbeeld die mees noordelike nedersettings in die Noordweste, terwyl Pofadder in die Ooste die hoofdorp van Boesmanland is.

Inhoud

[wysig] Bevolking

Die bevolking word geraam op sowat 70 000, waarvan die meeste sogenaamde bruin mense is, met 'n minderheid wit en swart. Mense is egter een van Namakwaland se grootste uitvoerprodukte sodat die bevolking dekades lank al redelik konstant is. Daar is betreklike groot gemeenskappe van oud-Namakwalanders aan die Kaapse Weskus en ook in Kaapstad. 'n Eiesoortige karaktertrek van alle gebore Namakwalanders is hulle kenmerkende uitspraak en idiomatiese taalgebruik. Omdat die gebied altyd ylbevolk was en die inwoners ongeag ras op mekaar aangewese was, is daar min verskille tussen die uitspraak van die bruin en wit mense. Baie van die bruin Namakwalanders is afstammelinge van die inheemse Namas. Hulle is kenmerkend lig van kleur en redelik kort.

Die grootste bevolkingskonsentrasies is op en om die hoofdorp, Springbok. Van die omliggende gemeenskappe met beduidende inwonerstalle is Nababeep, Okiep, Carolusberg en Concordia. Verder noord is die eertydse geskiedkundige sendingstasie Steinkopf 'n redelike groot dorp, met 'n bevolking wat so te sê geheel en al uit bruin mense bestaan. Port Nolloth en Alexanderbaai is die vernaamste kusdorpe, met Kleinsee, 'n myndorp verder suid, wat ook 'n redelike groot inwonertal het. Daar is in die Suide kleiner gemeenskappies op Garies, Kamieskroon en die die omliggende nedersettings. Weens die aard van Namakwalandse landbou woon daar nie groot bevolkings op die plase nie, omdat skaapboerdery nie veel werksgeleenthede bied nie.

[wysig] Godsdiens

Die ligging van NG gemeentes is 'n goeie aanduiding van waar wit Namakwalanders hulle gevestig het, omdat die wit bevolking byna uitsluitlik Afrikaanssprekend is. Op Springbok is daar twee gemeentes, met die res van die dorpe wat een elk het: Alexanderbaai, Port Nolloth, Kleinsee (die gemeente heet Grootmist), Nababeep (die gemeente heet Simon van der Stel), Kamieskroon en Garies. Vir die administrasiedoeleindes van die NG Kerk, val Pofadder, Aggeneys en Oranjemund net noord van die monding van die Oranjerivier by Alexanderbaai, ook binne die ring van Namakwaland, wat deel is van die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode. Die totale getal (doop- en belydende) lidmate was in 2006 net 4 724, vergeleke met 6 500 in 1994.

Daar is gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk (in chronologiese volgorde van stigting) op Steinkopf, Concordia, Komaggas, Garies-Kamieskroon (gekombineerd), Kuboes, Springbok, Port Nolloth, Okiep en Nababeep. Die VG gemeente Pofadder is ook deel van die ring van Steinkopf. Bruin Namakwalanders behoort ook in groot getalle aan die Anglikaanse Kerk en in 'n mindere mate aan die Rooms-Katolieke Kerk.

[wysig] Ekonomie

Die vernaamste bedrywe is die ontginning van alluviale diamante aan die kus, kopermynbou rondom Okiep en Nababeep en skaapboerdery. Die afwenteling van provinsiale regeringsdienste het in die laaste jare baie tot 'n ekonomiese oplewing op Springbok bygedra. Nuwe mynboumoontlikhede het ook 'n ekonomiese inspuiting vir die dorp meegebring. Spring oorheers die ekonomie van Namakwaland in vele opsigte, aangesien dit die hoofdienssentrum vir die uitgestrekte distrik is en die enigste dorp met 'n hoogs ontwikkelde, eerste-wêreldse ekonomie wat byvoorbeeld kan spog met takke van talle nasionale kleinhandelsgroepe. Die enigste noemenswaardige nywerhede is ook op en om Springbok gevestig.

[wysig] Geskiedenis

Die distrik is in 1685 deur goewerneur Simon van der Stel en sy ekspedisie op soek na koper verken. Die eerste VG kerk is in 1819 op Steinkopf gestig en die eerste NG kerk in 1850 op Bowesdorp, net noord van Kamieskroon, nadat verskeie Sendinggenootskappe lank reeds hier bedrywig was.

[wysig] Eksterne skakels


aa - ab - af - ak - als - am - an - ang - ar - arc - as - ast - av - ay - az - ba - bar - bat_smg - bcl - be - be_x_old - bg - bh - bi - bm - bn - bo - bpy - br - bs - bug - bxr - ca - cbk_zam - cdo - ce - ceb - ch - cho - chr - chy - co - cr - crh - cs - csb - cu - cv - cy - da - de - diq - dsb - dv - dz - ee - el - eml - en - eo - es - et - eu - ext - fa - ff - fi - fiu_vro - fj - fo - fr - frp - fur - fy - ga - gan - gd - gl - glk - gn - got - gu - gv - ha - hak - haw - he - hi - hif - ho - hr - hsb - ht - hu - hy - hz - ia - id - ie - ig - ii - ik - ilo - io - is - it - iu - ja - jbo - jv - ka - kaa - kab - kg - ki - kj - kk - kl - km - kn - ko - kr - ks - ksh - ku - kv - kw - ky - la - lad - lb - lbe - lg - li - lij - lmo - ln - lo - lt - lv - map_bms - mdf - mg - mh - mi - mk - ml - mn - mo - mr - mt - mus - my - myv - mzn - na - nah - nap - nds - nds_nl - ne - new - ng - nl - nn - no - nov - nrm - nv - ny - oc - om - or - os - pa - pag - pam - pap - pdc - pi - pih - pl - pms - ps - pt - qu - quality - rm - rmy - rn - ro - roa_rup - roa_tara - ru - rw - sa - sah - sc - scn - sco - sd - se - sg - sh - si - simple - sk - sl - sm - sn - so - sr - srn - ss - st - stq - su - sv - sw - szl - ta - te - tet - tg - th - ti - tk - tl - tlh - tn - to - tpi - tr - ts - tt - tum - tw - ty - udm - ug - uk - ur - uz - ve - vec - vi - vls - vo - wa - war - wo - wuu - xal - xh - yi - yo - za - zea - zh - zh_classical - zh_min_nan - zh_yue - zu -