Waffen-SS
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Waffen-SS ("Wapen-SS") was die gevegseenheid van die Schutzstaffel. Die Waffen-SS was onder beheer van Reichsführer-SS, Heinrich Himmler, en was deur die hele Tweede Wêreldoorlog bedrywig. 'n Klein aantal van sy amper een miljoen lede is beskuldig van oorlogsmisdade by Nüremberg.
Die Waffen-SS is oorspronklik gestig as 'n beskermingseenheid vir die leiers van die NSDAP (Nationalsozialistische Deutsche Arbeiterpartei, die "Nationale Sosialistiese Duitse Arbeidersparty"), wat later as die Nazi-party bekend sou staan. Die eenheid het mettertyd gegroei tot 'n mag van 38 gevegsdivisies wat uit meer as 950 000 mense bestaan het, insluitende 'n aantal van die elite weermagseenhede. In die getuienis wat tydens die Nuremberg Verhore gegee is, is die Waffen-SS as 'n kriminele organisasie veroordeel, as gevolg van hulle medewerking met die Nazi-party. Waffen-SS-veterane is nie die selfde regte toegestaan as wat aan ander Duitse vegters van die Heer (die Duitse leër), die Luftwaffe of die Kriegsmarine toegestaan is nie. Dienspligtiges is egter van die veroordeling vrygestel omdat hulle tegniesgesproke onwillige vegters was.