Ontlasting
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ontlasting of feses (Latyn: faeces) is die naam vir die onverteerbare reste van die voedsel wat met gereelde tussenpouses deur middel van die anus uit die derms na die buitewêreld verwyder word (stoelgang). Alle diere met 'n dermstelsel produseer ontlasting. By soogdiere en by die mens bestaan die ontlasting naas onverteerbare voedselreste grotendeels uit bakterieë (ongeveer die helfte van die massa), afgeskilferde dermwandselle (tot 10 g per dag) en uit enkele stowwe wat deur die liggaam in die derm afgeskei word, soos galkleurstowwe. Sonder hierdie galkleurstowwe sou ontlasting gryswit van kleur wees.