Winston Churchill
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Heer Winston Leonard Spencer Churchill, (30 November, 1874 - 24 Januarie, 1965) was 'n Britse politikus, veral bekend as Eerste Minister van die Verenigde Koninkryk gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Gedurende sy lewe het hy verskillende beroepe beoefen waaronder soldaat, joernalis, skrywer en politikus. Churchill word allerweë erken as een van Brittanje en die wêreld se mees belangrike leiers.
Churchill se volle van was Spencer-Churchill, maar sy vader, Heer Randolph Churchill, het weggedoen met die voorvoegsel en het altyd net die van Churchill gebruik in sy politieke loopbaan.
[wysig] Belangrikste prestasies
Winston Churchill het as politikus en staatsman vir meer as 'n halwe eeu 'n belangrike en dikwels kontroversiële rol in Brittanje gespeel. Dit was veral as Britse Eerste Minister tydens die Tweede Wêreldoorlog dat sy spesifieke leierskapstyl besonder effektief was. Sy uitmuntende redenaarsvermoë en militêre insig het van hom 'n besielende oorlogsleier van Engeland en die Geallieerdes gemaak. Sy gevierde woorde, "We shall fight on the beaches … we shall never surrender" is alombekend as een van die mees oortuigende propaganda-toesprake ooit. Sy kennis van oorlogsake was soms beter as dié van Stalin en dikwels beter as dié van Roosevelt.
[wysig] 'n Kort lewensgeskiedenis
Sir Winston Leonard Spencer Churchill is gebore in Blenheim Palace, Oxfordshire, op 30 November 1874, die seun van lord Randolph Churchill en Jeanette Jerome, 'n Amerikaner. Hy was 'n moeilike kind wie van jongs af oorlogspeletjies meer as skoolgaan geniet het.
Ná min sukses te Harrow word hy in 1893 'n kavallerie-kadet in Sandhurst. Hier het hy geblom. In 1896 het sy regiment in Brits-Indië gedien.
Churchill se tweede passie in die lewe was skryf en in 1898 skryf hy sy eerste boek, waarin hy openlik kritiek op die leërleiding uitspreek. In dieselfde jaar het hy as verslaggewer deelgeneem aan Kitchener se opmars na Khartoem en aan die slag by Omdoerman.
Met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog is hy deur die Morning Post as verslaggewer na Suid-Afrika gestuur waar hy deur die Boere in Natal gevang is maar op 'n gewaagde wyse weer ontsnap het.
Toe hy in 1900 na Engeland terugkeer, is hy as konserwatiewe lid tot die Laerhuis verkies. In 1904 gaan hy oor na die liberale party omdat hy as vryhandelaar dit nie eens was met die tariefplanne van Joseph Chamberlain nie. Tussen 1905 en 1910 dien hy as onderminister van kolonies en minister van handel en binnelandse sake. In 1911 word hy hoof van die vloot.
Hy het 'n groot bydrae tot die opbou van die Britse vloot gemaak maar toe sy plan om deur 'n landing op Gallipoli die Turke te tref en die deurtog na Rusland moontlik te maak, misluk, moes hy in 1915 uittree. In 1917 het Lloyd George hom as minister van munisie weer in die regering opgeneem. Daarna het hy as minister van kolonies saam met Lloyd George 'n vredesverdrag met die Ierse Sinn Fein leiers probeer sluit, 'n handeling wat die konserwatiewes woedend gemaak het. Nietemin het hy in 1924 teruggekeer na die konserwatiewes en was van 1924 tot 1929 minister van finansies. Churchill was te onafhanklik om partygebonde te wees en het telkens die party ondersteun wat sy oogmerke verteenwoordig het. Van 1929-1939 was hy buite die kabinet. Hy het die konserwatiewe regerings, veral van Baldwin en Neville Chamberlain, herhaaldelik gewaarsku teen die opkomende mag van Hitler se Derde Ryk.
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog is hy weer aangestel as hoof van die vloot en op 10 Oktober 1940 word hy met die Duitse inval in Nederland en België, eerste minister.
In Junie 1945 het sy party by die stembus verloor en word hy leier van die opposisie in die Laerhuis. In dié hoedanigheid het hy 'n belangrike rol gespeel in die politieke skommelinge van die na-oorlogse Europa.
Hy het byvoorbeeld teen Sowjet-imperialisme gewaarsku en aangedring op nouer samewerking met die VSA. Verder het hy wyslik die versoening van die verslane Duitsland met Engeland en Frankryk om die vorming van 'n verenigde Europa te bespoedig, bepleit. In kragtige woorde het hy hom verset teen die "likwidasie" van die Britse ryk deur die arbeidersregering en het onder meer teen die nasionalisasie van die staalfabrieke te velde getrek. Op 25 Oktober 1951 het die konserwatiewe party die verkiesing gewen en het Churchill weer premier geword.
Hy is 1953 tot ridder geslaan. In 1955 het hy weens hoë ouderdom afgetree, maar het tot 1964 lid van die Laerhuis gebly. Kort daarna is hy op 24 Januarie 1965 oorlede.
Churchill was behalwe politikus ook 'n historikus, skrywer en amateurskilder. In 1953 is die Nobelprys vir Literatuur aan hom toegeken vir sy meesterlike hantering van historiese en biografiese beskrywing en vir die rol wat sy besondere redenaarsvermoëns gespeel het in die behoud van menslike waardes.