Wind
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Wind is die horisontale beweging van lug. Dit word veroorsaak deur verskille in lugdruk. Lug beweeg altyd van gebiede met 'n hoër lugdruk na gebiede met 'n laer lugdruk. Hierdie vermoë van die lugmolekule in die atmosfeer om rond te beweeg, is baie belangrik omdat dt weersveranderinge tot gevolg het.
Wind word in terme van rigting en spoed beskryf. Die windrigting word altyd aangegee as de rigting waarvandaan die wind waai. 'n Oostelike wind waai dus van die ooste en beweeg na die weste, terwyl 'n noordelike wind van die noorde suidwaarts beweeg. Windrigting word deur 'n windhaan gemeet. Dit word as punte van die kompas of as grade kloksgewys van die ware of geografiese noorde aangetoon.
Windspoed word met 'n windmeter gemeet. Die windmeter bestaan uit ten minste drie treftervormige bekers of keëls wat aan 'n vertikale spoel vas is. Die wind oefen meer druk uit op die hol kante as op die bolvormige (ronde) kante, wat die bekers laat draai. Die aantal omwentelings wat per tydseenheid gemaak word, is 'n maatstaf van die windspoed. Die spoed van die wind word in meter per sekonde (m·s-1) of as knope aangegee.