Oahu
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Oʻahu The Gathering Island |
|
---|---|
Satellietfoto van Oʻahu |
|
Geografie | |
Ligging | 21°28′N 157°59′W |
Oppervlakte | 1 545,4 vk km |
Geranglys | 3de grootste eiland van deelstaat Hawaiï |
Hoogste punt | Mount Kaʻala 1 220 m |
Demografie | |
Bevolking | 876 151 (2000) |
Bevolkingsdigtheid | 567/vk km |
Amptelike simbole | |
Blom | Ilima |
Kleur | Mele Mele (Geel) |
Oʻahu is die derde grootste eiland in die Amerikaanse deelstaat Hawaiï wat ondanks sy relatief klein oppervlakte van 1 545 vierkante kilometer sowat 80 persent van Hawaiï se bevolking huisves. Met Honolulu is ook die administratiewe, ekonomiese en kulturele sentrum van die deelstaat op Oʻahu geleë. Vanweë Oʻahu se strategiese ligging is sowat 'n kwart van die eiland se landoppervlakte tot militêre spergebied verklaar en nie toeganklik vir besoekers nie.
In teenstelling met die meeste ander eilande beskik Oʻahu nie oor sy eie kleurryke bynaam nie - The Gathering Island ("Die Vergadereiland") is net 'n letterlike vertaling van die inheemse naam Oʻahu, maar het geleidelik as amptelike bynaam ingeburger. Die benaming dateer vermoedelik uit die tydperk toe die verskillende Hawaiïese koninkryke nog oorlog teen mekaar gevoer en die monarge in vredestye op hierdie eiland vir samesprekings vergader het. Aangesien die grootste deel van Hawaiï se bevolking tans op die eiland gekonsentreer is en ook meer as die helfte van die jaarliks ses miljoen toeriste op Oʻahu bly, het die naam ook 'n nuwe moderne betekenis gekry.
Met 'n lengte van 70 kilometer en 'n wydte van 50 kilometer het Oʻahu die vorm van 'n ruit met 'n groot skiereiland in die suidooste waar talle vulkaankraters, die grootste stad Honolulu en 'n groot aantal besienswaardighede geleë is. Twee groot bergreekse strek langs die wes- en die ooskus dwarsoor die eiland: Die Koolau Range met 'n lengt van 50 kilometer en 'n maksimale hoogte van sowat 960 meter, en die Waianae-berge met 'n lengte van sowat 25 kilometer en 'n maksimale hoogte van 1 200 meter.
Die vlakte tussen die twee bergreekse behels vrugbare landbougebiede waar onder meer pynappels en suikerriet verbou word. Die grootste deel van die bevolking is in Honolulu gekonsentreer, en die stadsgebied het lankal begin om na die landbougebiede en langs die kusstroke uit te brei.