Bandopnemer
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
'n Bandopnemer is 'n elektriese oudioapparaat wat analoë oudiogegewens kan stoor en weergee. Bandopnemers gebruik 'n spesiale band, wat van papier, staal of plastiek gemaak en van 'n laag magnetiese stowwe soos ysteroksied, spesiale metaaloksiede of suiwer ysterpoeier voorsien is.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste voorlopers van die bandopnemer is die magnetofoon en die magneetband, wat albei teen die begin van die dertigerjare in die Duitse hoofstad Berlyn ontwikkel is.
Die magnetofoon, 'n uitvinding van die maatskappy AEG, gebruik aanvanklik 'n papierband op 16-millimeter-filmrolle om akoestiese sinjale te stoor. Later is 'n nuwe soort band ingevoer wat soos in 'n filmprojektor beweeg word en sodoende minder gevaar loop om te skeur.
Die eerste moderne bandopnemer word in die jaar 1935 op die Berlynse Funkausstellung, 'n handelskou vir oudio- en videotegnologie, bekend gestel. Danksy die elektromagnetiese stoormetode en die gebruik van 'n nuwe soort band met 'n ysteroksiedlaag is dit die eerste oudioapparaat ter wêreld wat groot hoeveelhede oudiogegewens kan stoor.
Binnekort word die magneetband 'n gewilde stoormedium vir die musiek- en radiobedryf. Radiostasies beskik voorheen alleenlik oor media soos wasplate of gemagnetiseerde draad om klankopnames te kan stoor. Ná die Tweede Wêreldoorlog word die bandopnemer ook die gewildste oudioapparaat vir private hoëtrouklank-entoesiaste.
In 1948 word in die Verenigde State die eerste professionele ateljee-bandopnemer Ampex 200 aangebied, wat ook vir die tuisgebruik geskik is. Die Duitse maatskappye AEG en Grundig bied soortgelyke toestelle vanaf die jaar 1950 aan. 'n Kombinasie van platespeler en bandopnemer, wat in 1952 deur die Duitse vervaardiger Loewe Opta ontwikkel en as Optaphon bemark is, blyk uiteindelik minder suksesvol te wees.
Die verbruikerspubliek gee die voorkeur aan draagbare bandopnemers, wat teen bekostigbare pryse aangebied en danksy nuwe tegnologieë soos die Dolby-Laboratoriums se ruisonderdrukking en opnames met vier klankbane steeds verbeter word. Batteryaangedrewe bandopnemers maak die buitegebruik moontlik.
Alhoewel 'n kompakte versie van die magneetband, die oudiokasset, in 1963 ingevoer word, bly die groot magneetband die eerste keuse vir hoë kwaliteitsvereistes. Bowendien kan eie opnames maklik gesny en in 'n ander volgorde aaneengeheg word.
Klankateljees gebruik die magneetband om die sogenaamde meesterbande op te neem; bandopnemers, wat oudiogegewens op meerdere klankbane stoor, soos vervardig deur die Switserse aanbieder Revox, oorheers die professionele musiekbedryf dekades lank. Die medium blyk ook uiters geskik vir radiodrama's en eksperimentele opnames te wees. Die Britse popgroep The Beatles skryf musiekgeskiedenis met hulle liedjie Strawberry Fields Forever, waar die produsent George Martin bandopnames agteruit speel om 'n vreemde klank te skep.
Magnetiese opnames en stoormedia oorheers vir 'n lang tydperk die mark van die videomasjiene en videokamera's. Met die invoering van die kompakskyf (CD) en DVD bereik die tegnologie langsamerhand sy einde op die verbruikerswaremark. Desondanks bly die elektromagnetiese stoorproses nog steeds die basistegnologie vir die hardeskywe in ons huidige rekenaars: Hardeskywe is feitlik plastiekskywe met 'n magnetiese laag.