Arbeidersparty
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Arbeidersparty was 'n politieke party in Suid-Afrika van 1910 tot ongeveer 1958, hoewel die party nooit amptelik ontbind het nie.
Inhoud |
[wysig] Stigting
Die Arbeidersparty is in Januarie 1910, enkele maande voor Uniewording gestig uit die samesmelting van twee kleiner Arbeiderspartye in die Kaapkolonie en Transvaal. Die eerste leier was kol.F.H.P. Cresswell. Die party het hom daarop toegespits om wit werkers se regte teen dié van gekleurder werkers (swart, bruin, Indiër en Sjinees) te beskerm. Die party was dus uit die staanspoor 'n voorstander van rasseskeiding en -diskriminasie.
[wysig] Pakt-regering
Teen die einde van die 1923, toe die regerende Suid-Afrikaanse Party in die knyp was oor sy hantering van swart onrus en die Randse opstand, het die Arbeidersparty 'n koalisie-ooreenkoms met die Nasionale Party van genl. J.B.M. Hertzog gesluit. In die verkiesing op 17 Junie 1924 verower die party 18 setels en 13,4% van die stemme. Cresswell en Thomas Boydell is in die kabinet ingesluit.
[wysig] Agteruitgang
Die party skeur in 1928 in die sogenaamde Hoofbestuursgroep en die Cresswelliete. Dit was oor 'n verskil in die vertolking van die party se beginselprogram, maar het in werklikheid op persoonlikhede neergekom. In die verkiesing op 18 Junie 1929 word 3 Hoofbestuurslede en 5 Cresswelliete verkies. Hoewel die Nasionale Party toe 'n volstrekte meerderheid geniet het, is twee Cresswelliete nietemin weer in die kabinet ingesluit.
Die verdeeldheid duur voort in die sogenaamde Koalisie-verkiesing op 17 Mei 1933, maar na die samesmelting van die Nasionale Party en Suid-Afrikaanse Party op 5 Desember 1934 in die Verenigde Party, verloor die Arbeidersparty sy relevansie. Twee kandidate van elke groep was in die verkiesing suksesvol, maar in 1938 se verkiesing haal slegs 3 van die weer verenigde party se kandidate die paal.
[wysig] 'n Opflikkering
Die party vaar aansienlik beter in die verkiesing op 7 Julie 1943 toe 9 kandidate slaag. Kandidate slaag in die kiesafdelings Oos-Londen-Stad, Durban-Umbilo, Durban-Noord, Benoni, Germiston, Fordsburg, Krugersdorp, Suid-Rand en Mayfair. In 1948 wen die party 6 setels en in 1953 5, maar trek in 1958 met net 2 kandidate slegs 0,24% van die totale stemme en verdwyn kort daarna van die toneel sonder om formeel te ontbind.
[wysig] Bronne
- Saunders, Christopher C. (raadgewende red.), An Illustrated Dictionary of South African History, Ibis Books and Editorial Services cc, Sandton, 1994.
- Mostert, J.P.C., Politieke Partye in Suid-Afrika, Instituut vir Eietydse Geskiedenis, U.O.V.S., Bloemfontein, 1986.
- Van der Spuy, D.C. (hoofred.), Amptelike Jaarboek van die Republiek van Suid-Afrika (Eerste Uitgawe), Departement van Inligting, Pretoria, 1975.
- Haywood, J.J. L.V. (red.), Die Afrikaner-gids, Die Afrikaner-gids (Edms.) Beperk, Bloemfontein, 1944.