Germiston
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Germiston aan die Oos-Rand van Gauteng is Suid-Afrika se sesde grootste stad. Dit het Suid-Afrika se grootste spoorwegaansluiting en die besigste burgerlike lughawe, die Randse Lughawe.
Dit is gestig in die vroeë dae van die goudstormloop, toe twee prospekteerders, John Jack van die plaas Germiston naby Glasgow in Skotland en August Simmer van Vacha in Duitsland goudneerslae ontdek het op die plaas Elandsfontein. Albei van hulle het ryk geword daaruit en die dorp het ontstaan langs die myn. Die wêreld se grootste raffinadery, die Rand Refinery, is in 1921 op Germiston gestig.
Germiston is nou deel van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit, oos van die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit. Die stad is ook die tuiste van die Wesbank Motor-renbaan (waar die bekende Gosforth Park perde-renbaan geleë was). Op die Germistonmeer word ook verskeie soorte watersport beoefen.