Gliese 581
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Gliese 581 is 'n klein planetêre son in die sterrebeeld Libra, sowat 20,5 ligjare of 193 biljoen kilometer ver van ons Son. Gliese 581 is 'n Rooi Dwerg, wat 500 keer swakker as ons Son straal, en oor drie planetêre satelliete (planemo's) beskik. Ten opsigte van ons eie sonnestelsel is dit een van die honderd mees nabygeleë sterre.
Inhoud |
[wysig] Planete (Planemo's)
[wysig] Gliese 581b: Ontdek in 2005
Gliese 581 b se massa kom ooreen met dié van Neptunus in ons sonstelsel (of 17 keer die massa van die Aarde) en bestaan hoofsaaklik uit swaarmetale. Die planeet wentel elke 5,366 dae in 'n afstand van 6 miljoen kilometer om sy son en is in 2005 deur 'n groep navorsers uit Switserland, Frankryk en Portugal onder leiding van Michel Mayor, Stéphane Udry en Xavier Delfosse ontdek. Weens die klein afstand van sy son word die temperatuur op sy oppervlakte op sowat 150 °C beraam.
[wysig] Gliese 581c: Ontdek in 2007
Dieselfde span van navorsers in die Europese Suidelike Sterrewag (ESO) in La Silla (Chili) het in April 2007 'n tweede planeet ontdek: Gliese 581 c, die kleinste van alle bekendste eksoplanete. Hy is in 'n wentelbaan wat net dertien dae neem om een omwenteling (gelykstaande aan een jaar op Gliese 581 c) te voltooi.
Die planeet is ongeveer 1,5 keer so groot en vyf keer so swaar soos ons Aarde. Die temperatuur op sy oppervlakte word ondanks die klein afstand van sy son op tussen 0 en 40 °C beraam, aangesien Gliese 581 'n swakker straling het. Indien daar water op die planeet se oppervlakte voorkom, sou dit volgens die navorsers se eerste berekeninge vloeibaar wees.
Die planeet en sy son is moontlik in 'n gebonde omwenteling aan mekaar gekoppel - die planeet sou dus net soos die Aarde se maan 'n donker en 'n ligte kant hê. Die sonkant se temperatuur sou gevolglik te hoog wees vir vloeibare water, dié van die teenoorgestelde kant so laag dat water net in die vorm van ys sou voorkom.
Nogtans is Gliese 581 c 'n uiters geskikte navorsingsobjek in verband met buiteaardse lewe. Die planeet is met behulp van die HARPS-spektrometer in La Silla (Chili) ontdek nadat die navorsers rooi- en blouverskuiwings in verband met sy omwenteling van Giese 581 ondersoek het. Van die dertien planete met 'n massa van minder as 20 Aardes is elf met HARPS opgespoor.
Altesaam 200 eksoplanete is sedert 1995 ontdek, waarvan die meeste as gasreuse soos Jupiter geklassifiseer is. Gliese 581 c is die kleinste van alle bekende eksoplanete en word as 'n belangrike bestemming vir toekomstige ruimtesendings en ondersoek in verband met buiteaardse lewensvorms beskou. 'n Wetenskaplike beskrywing van Gliese 581 c verskyn in die vakjoernaal Astronomy & Astrophysics.
Die Potsdam-Institut für Klimafolgenforschung in Potsdam (Duitsland) het op 11 Junie 2007 die resultate van sy berekeninge aangaande die wentelbaan en klimaat van Gliese 581c bekend gestel. Die planeet word nou as baie warm en onbewoonbaar beskou.[1]
[wysig] Gliese 581d: Die eerste planemo wat by Gliese 581 ontdek is
'n Derde planeet, wat ag keer so swaar is soos ons Aarde, wentel in 'n omlooptyd van 84 dae om die dwergster. Hy is eweneens deur navorsers van die ESO in Chili ontdek.
[wysig] Astronomiese gegewens
- Sterrebeeld: Libra
- Afstand: 20,4 ligjare
- Spektraalklas: M3.5
- Sigbare ligkrag: 10.56
- Absolute ligkrag: 0,002 keer dié van ons Son
- Massa: 0,33 keer dié van ons Son
- Radiale snelheid: -9,4 km/sek
[wysig] Eksterne skakels
- ESO Press Release: Astronomers Find First Earth-like Planet in Habitable Zone (25 April 2007)
- Ontleding van die veranderings in Gliese 581 se radiale snelheid: XI. An habitable super-Earth (5 M⊕ ) in a 3-planet system (25 April 2007)