Digitale terrestriële televisie
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die term Digitale terrestriële televisie (DTT; Engels: Digital Video Broadcasting - Terrestrial of DVB-T) verwys na die variant van digitale televisie, wat 'n terrestriële platvorm gebruik om televisie- en radioprogramme uit te saai. DTT maak net soos die analoog-tegnologie gebruik van lugdraadstelsels, maar is in staat om meer televisiekanale op een frekwensie uit te saai.
DTT-tegnologie is ook geskik vir hoë-resolusie-televisie (HDTV) en digitale ruimteklank. DTT is versoenbaar met televisiestelle wat tans in gebruik is, maar spesiale dekodeerders (steltopbokse) is noodsaaklik om DTT-programme op te vang. Plat skerms met geïntegreerde DTT-dekodeerders is reeds beskikbaar. Aangesien digitale data vir die transmissie met DTT duidelik gekompakteer moet word, is hierdie tegnologie - met uitsondering van HDTV-programme - weens die swakker beeldgehalte veral geskik vir mobiele of televisietoestelle met kleiner skerms.
DTT is 'n internasionale standaard, wat in Duitsland ontwikkel is en in Europa, Australië, Namibië en Suid-Afrika gebruik word. Die Verenigde State en Japan het hulle eie digitale terrestriële standaarde ontwikkel, ATSC en ISDB-T.
Die eerste DTT-uitsendings in Suid-Afrika is in 2000 in Johannesburg uitgesaai, en die land se terrestriële televisie sal teen die jaar 2011 of 2012 ten volle oorskakel na DTT.