Allah
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Arabiese woord vir God is Allah - en só word die Een God dan ook deur Moslems genoem. Dié naam vir God is egter nie deur Mohammed uitgedink nie, maar is al eeue voor Mohammed gebruik deur die Lihjaniete en Thamoedeërs - voorgeslagte van die Noord-Arabiere.
Voor Mohammed sy eerste openbaring in 610 nC ontvang het, is die naam Allah ook reeds verbind met die Kaäba in Mekka. Christen-Arabiere gebruik die naam Allah ook om na die Drie-Enige God van die Bybel te verwys.
Dit is interessant dat Mohammed in die gedeeltes van die Koran wat tydens die eerste vyf jaar van sy openbare bediening in Mekka opgeteken is, nie een keer die naam Allah gebruik nie. In dié tyd het hy na God verwys as "Heer" of "Skepper" (Rabb). Sommige waarnemers meen dit is omdat hy nie wou hê dat mense die God wat hy verkondig, verwar met die Allah wat saam met talle afgode by die Kaäba aanbid is nie.
Die naam Allah kom altesaam 2 688 keer voor in die dele van die Koran wat ná Mohammed se vlug na Medina opgeteken is. Die naam Allah is nie net heilig vir Moslems nie, maar hou ook besonderse betekenis in wanneer hulle bid. Wanneer Sy naam in gebed genoem word, is Allah onmiddellik daar teenwoordig.
Daar word ook in die Koran na God verwys as Al-Rahman ("die Barmhartige") - 'n naam wat voorheen deur die Jode in die Babiloniese Talmoed en ook deur Christene gebruik is om na die Een God te verwys. Moslems glo dat daar 99 "wonderlike name" vir God is en herhaal dié name soms tydens gebede.