Ísafjörður
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Ísafjörður (letterlik "Ysfjord") is 'n stad in die noordweste van Ysland met 'n bevolking van 2 742 mense (2006) en maak deel uit van die munisipaliteit Ísafjarðarbær met altesaam 4 098 inwoners. Die stad dien as die administratiewe en ekonomiese sentrum van die Yslandse Wesfjorde-streek.
[wysig] Geografie
Ísafjörður is aan die Skutulsfjörður, 'n sytak van die Ísafjarðardjúp-fjord, geleë en word omring deur die steil berghellings van die Eyrarfjall met 'n hoogte van tot by 731 meter bo seevlak en die Kirkjubólsdfjall (tot by 832 meter).
Die sandbank (Yslands eyri) waarop die stad ontstaan het is verskeie kere vergroot om nuwe land aan te win. Die stadsgebied is sodoende aansienlik uitgebrei en strek tans byna van een oewer van die fjord tot die ander. As gevolg van die landaanwinning het ook 'n beskermde seehawe ontstaan.
[wysig] Geskiedenis
Die Landnámabók, die belangrikste historiese bron oor die Skandinawiese volksplanting in Ysland, noem Helgi Hrólfsson as die eerste Wiking-setlaar in die gebied wat hom hier omtrent 920 gevestig het. Helgi het die Fjord Skutulsfjörður na 'n harpoen (Yslands skutull) vernoem wat hy by die strand gevind het.
Later het Noorse en Yslandse handelaars gevolg wat tydelik in Ísafjörður gebly het. In die 16de eeu het ook Engelse en Duitse ondernemings hier handelsposte gestig. Die huise, wat tydens die Deense handelsmonopolie in Ysland aan die suidpunt van die skiereiland opgerig is, vorm vandag die seevaartsmuseum Neðstakaupstað. Hulle word as die oudste stadskern van Ysland beskou wat bewaar gebly het (die Tjöruhúsið dateer uit die jaar 1734).
Die verwerking van klipvis (gedroogde en gesoute kabeljou) het in die 18de eeu die basis vir die stad se ekonomiese welvaart gevorm. in 1787 is Ísafjörður tot 'n aptelike handelsenrum verklaar, en in 1866 het die nedersetting stadstatus verkry.