Berlinale
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Berlinale (Internationale Filmfestspiele) van Berlyn (Duitsland) is 'n A-kategorie-filmfees wat jaarliks gehou word en as een van die beduidendste kompetisies vir nuwe filmproduksies ter wêreld beskou word.[1] Met meer as 230 000 kaartjies wat jaarliks verkoop word en sowat 430 000 besoeke wat aan die deelnemende rolprentteaters afgelê word is die Berlinale die grootste internasionale filmfees wat oop staan vir die algemene publiek.[2]
Tydens die Berlinale word jaarliks sowat 400 nuwe rolprente in verskillende kategorieë vertoon. Die suksesvolle kandidate, wat deur 'n internasionale jurie benoem word, word met 'n Goldener Bär ("Goue Beer") of Silberner Bär ("Silwerbeer") bekroon.
Die Berlinale word jaarliks deur sowat 20 000 professionele besoekers uit 120 lande bygewoon. Sowat 4 200 joernaliste dek die gebeure op die filmfees vir media in meer as 100 lande.[3]
Die European Film Market (EFM), wat jaarliks saam met die Berlinale gehou word, is een van die beduidendste internasionale byeenkomste en handelskoue van die rolprentbedryf.[4]
Die Berlinale is vir die eerste keer in 1951 gehou. Dieter Kosslick fungeer sedert 2001 as direkteur van die filmfees. Die Berlinale is tans die belangrikste jaarlikse kulturele gebeurtenis van die Duitse hoofstad.[5] Die Berlinale word sedert 2002 deur die Kulturveranstaltungen des Bundes in Berlin GmbH, 'n federale Duitse onderneming, beheer en sowel deur die federale Duitse regering asook privaat borge befonds.[6] Die 59ste Berlinale sal tussen 5 en 15 Februarie 2009 gehou word.
Inhoud |
[wysig] Berlinale 2005
Die Berlinale 2005 is die 55ste filmfees in Berlyn en die vierde onder die leiding van die Berlinale-direkteur Dieter Kosslick. 3 320 inskrywings is ontvang waarvan 400 produksies vir die kompetisie gekeur is. 21 rolprente is in die hoofkompetisie vertoon en het meegeding om een van die Goue en Silwerbere van die Berlinale te wen.
Buite die kompetisie is daar talle forums vir dokumentêre en ander films asook die jaarlikse Retrospektive. In 2005 behandel dit die ontwerp van produksies (Production Design + Film). Die Talentcampus gee jonger filmmakers 'n kans om hul rolprente aan die publiek en kritici bekend te stel.
Suid-Afrika se inskrywing U-Carmen e-Khayelitsha van die regisseur Mark Dornford-May is aangewys as die beste film en het die "Goldener Bär" (Goue Beer) gewen. Die rolprent bied George Bizet se opera "Carmen" in Xhosa aan, en ook die handeling is aangepas aan 'n Suid-Afrikaanse omgewing. Die hoofrol word gespeel deur die Suid-Afrikaanse operasangeres Pauline Malefane.
Pauline Malefane het tydens haar dankbetuiging in Xhosa gepraat en ook 'n a-cappella-liedjie vir die gehoor gesing.
Ook die Frans-Brits-Suid-Afrikaanse koproduksie Man to Man is in die kompetisie vertoon.
Die belangrikste ander pryswenners van 2005 is:
- Silberner Bär (Silwerbeer): Peacock van Gu Changwei (Volksrepubliek van Sjina)
- Beste aktrise (Silwerbeer): Julia Jentsch vir haar rol in Sophie Scholl - Die letzten Tage (Duitsland)
- Beste akteur (Silwerbeer): Lou Taylor Pucci vir sy rol in Thumbsucker (VSA)
- Beste regisseur (Silwerbeer): Marc Rothemund vir sy film Sophie Scholl - Die letzten Tage (Duitsland)
- Beste filmmusiek (Silwerbeer): Alexandre Desplat (Frankryk)
[wysig] Berlinale 2006
Die 56ste filmfees is volgens die organisators ook 'n ekonomiese sukses - met sowat 150 000 kaartjies is 10 000 meer verkoop as in die voorjaar.
Die pryswenners van die jaar 2006 maak duidelik dat die Berlinale ook 'n onmiskenbare politieke ondertoon het. Die Goue Beer vir die beste film is toegeken aan Jasmila Zbanic se rolprent Grbavica, wat die storie van 'n jong vrou uit Bosnië-Herzegowina vertel. Sy is een van die slagoffers van die massaverkragtings tydens die Balkaanoorlog en baar later 'n meisie wat eers as 'n tiener die waarheid oor haar vader hoor.
Michael Winterbottom en Mat Whitecross uit die Verenigde Koninkryk het die Silwerbeer vir hulle dokumentêre drama The Road to Guantánamo gewen. Dit handel oor 'n groep Europeërs van Arabiese afkoms, wat in Afghanistan daarvan verdink word om lede van die terroristegroep Al Kaïda te wees. Amerikaners ïnterneer en folter die verdagtes.
Ander belangrike pryswenners is:
- Silberner Bär (Großer Preis der Jury): En Soap (Denemarke) en Offside (Iran)
- Silberner Bär (Beste aktrise): Sandra Hüller in Requiem (Duitsland)
- Silberner Bär (Beste akteur): Moritz Bleibtreu in Elementarteilchen (Duitsland)
- Silberner Bär (Beste prestasie): Jürgen Vogel in Der freie Wille (Duitsland)
- Silberner Bär (Beste filmmusiek): Peter Kam se Isabella (Volksrepubliek van Sjina)
[wysig] Berlinale 2007
Wenner van die Goue Beer as beste film: Tuyas Hochzeit
Ander pryswenners (Silwerbere):
- Groot prys van die jurie: El Otro
- Beste regisseur: Joseph Cedar vir Beaufort
- Beste aktrise: Nina Hoss vir Yella
- Beste akteur: Julio Chávez vir El Otro
- Buitengewone prestasie as kunstenaar: Die akteurs van Der gute Hirte
- Beste filmmusiek: Hallam Foe - This Is My Story
- Alfred-Bauer-prys: Park Chan-wook vir I'm a Cyborg, But That's OK
- FIPRESCI-prys: Jiří Menzel vir Obsluhoval jsem anglického krále ("Ek het die Engelse koning bedien")
- Prys van die Ekumeniese Jurie: Tuyas Ehe
- Prys van die Gilde van Duitse Filmkunsteaters: Hallam Foe
[wysig] Berlinale 2008
Die Goue Beer is aan die Brasiliaanse film Tropa de Elite van die regisseur José Padilha toegeken.
Die ander pryswenners (Silwerbere) was:
- Beste regisseur: Paul Thomas Anderson vir sy rolprent There Will Be Blood
- Groot prys van die jurie: Errol Morris vir S.O.P. Standard Operating Procedure
- Beste akteur: Reza Najie vir Avaze Gonjeshk-ha
- Beste aktrise: Sally Hawkins vir Happy-Go-Lucky
- Beste draaiboek: Wang Xiaoshuai vir Zuo you
- Buitengewone prestasie as kunstenaar: Jonny Greenwood vir There Will Be Blood
- Alfred-Bauer-prys: Lake Tahoe van Fernando Eimbcke
[wysig] Fotogalery
[wysig] Verwysings
- ^ 2007 CALENDAR OF FIAPF ACCREDITED* FESTIVALS, FIAPF, 18 Februarie 2008
- ^ Berlinale 2007 - Zahlen und Fakten, 13 Februarie 2008
- ^ Kosslick zieht positive Berlinale-Bilanz , PR-inside.com, 16 Februarie 2008
- ^ Berlin Film Festival a market force, Variety, 13 Februarie 2008
- ^ Das war die Berlinale, 20 Februarie 2008
- ^ Kulturveranstaltungen des Bundes in Berlin GmbH, 13 Februarie 2008