Swartwoud
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Swartwoud (Duits: Schwarzwald) is die grootste van die Duitse middelgebergtes en lê in die suid-weste van die deelstaat Baden-Württemberg.
Die Romeine het die dig beboste bergreeks met sy kenmerkende donker naaldbome Silva Nigra genoem - die "Swart (of Donker) Woud", wat vir hulle onheilspellend en byna ondeurdringbar was. Die Duitse woord Swarzwald is vir die eerste keer in 'n dokument van die Switserse klooster St. Gallen uit die jaar 868 gebruik.
Die Swartwoud is die grootste bosgebied in Duitsland en bestaan hoofsaaklik uit denne- en sparbome. Vandag is die Swartwoud een van die gewildste toeristebestemmings in Duitsland.
Die gebied is verdeel in drie administratiewe geweste: Noord-Swartwoud (Duits: Nordschwarzwald) met 'n oppervlak van 2 339,91 vierkante kilometer en 598 867 inwoners (2004), Swartwoud-Baar-Heuberg (Duits: Schwarzwald-Baar-Heuberg) met 'n oppervlak van 2 529,07 vierkante kilometer en 489 104 inwoners (2004), en Suidelike Bo-Ryn (Duits: Südlicher Oberrhein) met 'n oppervlak van 4 062,03 vierkante kilometer en 1 037 353 inwoners (2005). Die bergreeks self beslaan egter net 'n gedeelte van hierdie administratiewe eenhede - sowat 6 000 vierkante kilometer.
Inhoud |
[wysig] Geografie
Die Swartwoud is 'n dig beboste gebied, wat van die sogenaamde "Drielandepunt" (Switserland - Frankryk - Duitsland) langs die vlaktes van die Ryn se boloop sowat 160 kilometer in noordelike rigting strek. Die bergreeks bereik in die suidelike gedeelte 'n wydte van tot by 60 kilometer, in die noorde net 30 kilometer.
In die suid-ooste begin die bergreeks geleidelik oorgaan na die Baar-plato. Die noord-ooste word begrens deur die Swabies-Frankiese platorand, terwyl die noorde aan die berglandskap van Kraichgau grens.
[wysig] Natuurlandskappe
Die Kinzig-rivier vorm die grenslyn tussen die Noordelike en die Middel-Swartwoud, terwyl die Dreisam-rivier met die Helvallei (Duits: Höllental) die Middel- van die Suidelike Swartwoud skei. Die hoërgeleë suidelike gedeelte van die Middel-Swartwoud word saam met die bergspitse van die Suidelike Swartwoud ook die Hoog-Swartwoud (Hochschwarzwald) genoem. Hier lê bekende toeristebestemmings soos die dorp Hinterzarten en die hoogste bergspits van die bergreeks, die Feldberg.
[wysig] Berge
Met 'n hoogte van 1 493 meter bo seevlak is die Feldberg in die Suidelike Swartwoud die hoogste bergspits van die bergreeks. Die Suidelike Swartwoud is hoër geleë as die Noordelike en beskik oor 'n aantal ander bekende bergspitse soos Herzogenhorn (1 415 meter) en Belchen (1 414 meter). Die hoogste bergspits van die Noordelike Swartwoud is die Hornisgrinde met 1 166 meter bo seevlak.
[wysig] Riviere
Die Swartwoud maak deel uit van die kontinentale waterskeiding tussen die rivierstelsels van die Ryn en die Donau. Dit is ook die brongebied van 'n aantal riviere soos die Brigach (43 kilometer) en die Breg (49 kilometer). Hulle is die bronriviere van die Donau. Die Triberg-watervalle van die bergstroom Gutach is een van die bekendste toeristebestemmings in die Swartwoud.
[wysig] Mere
Die belangrikste mere in die Swartwoud is die Glaswaldmeer, Mummelmeer, Kirnbergmeer, Feldmeer, Titimeer en Schluchmeer. 'n Aantal damme soos Schwarzenbach, Wehra, Witznau, Kleine Kinzig en Nagoldtal lewer teen spitstye ekologiese krag op.
[wysig] Geologie
In die Later Tersiêr (die Paleoseen) - sowat 70 miljoen jaar gelede - het die Bo-Rynvallei inmekaarsak, terwyl die gesteentes aan die kante opgevou is. Die Swartwoud-bergreeks is in 'n soort golfbeweging teen verskillende hoogtes gevorm. Tussen die hoë bergspitse lê uitgestrekte, tektoniese vlaktes soos die Kinzig- en Murg-riviervalleie. Die Swartwoud bestaan uit twee geologiese eenhede: 'n Ou kristalliene basisgebergte en 'n sogenaamde deklaaggebergte van bont sandsteen.
Die basisgebergte word deur gneiss-gesteentes oorheers, wat deur enkele groot granietmassa's deurspek is. As gevolg van magmatiese verskynsels het voorkomste van ertse gevorm, wat al vroeg die ontwikkeling van 'n plaaslike mynboubedryf bevorder het. Kwartsporfier en tufsteen is volop in byvoorbeeld die vlakte van Baden-Baden.
[wysig] Ystydperk en vormgewing
Tydens die ystydperk van sowat 120 000 tot 10 000 jaar gelede het die Swartwoud sterk vergletser, en baie van die Swartwoud se mere is glasiale oorblyfsels. Die ysmassa's het meesal teen die noordoostelike berghellings gelê en dikwels baie lank geneem om af te smelt.
[wysig] Klimaat
Net soos ander gebergtes word die Swartwoud deur laer temperature en hoër reënval as sy omgewing gekenmerk. Reën val in die Swartwoud enige tyd van die jaar, en ook die laer geleë gebiede en die westelike rand kry bo-gemiddelde reënval.
Die Noordelike Swartwoud kry danksy die oorheersende westelike lugstromings, wat vogtige Atlantiese lugmassas na die gebied voer, sowat 2 200 millimeter reën per jaar, maar die syfers word laer in die oostelike gebiede van die Middel-Swartwoud, wat 'n gemiddelde jaarlikse reënval van 750 millimeter kry. Sneeuvalle kom in die winter gereeld voor.
Die hoër geleë gebiede het minder skommelings in temperatuur. Die somers word dikwels deur winderige weer en wolkvorming gekenmerk, terwyl daar danksy die hoogdrukgebiede (antisiklone) en inversies in die winter meer sonskynure is as in die laer geleë gebiede, wat dan onder 'n missluier lê.
[wysig] Geskiedenis
Die eerste menslike nedersetting in die Swartwoud is omtrent 2 500 v.C. deur Kelte in die huidige Neuenbürg opgerig. Ook in die Bo-Murgvallei het Keltiese stamme later begin om woude te ontgin.
Die eerste kartografiese verwysing na die Swartwoud in die Tabula Peutingeriana dateer uit die 4de eeu. Die Romeine het die Swartwoud toe Marciana Silva of "Grenswoud" genoem. Romeinse nedersettings is hier weens die ondeurdringbare woud en die kouer klimaat nie gestig nie, tog het Romeinse stede en dorpe hoofsaaklik in die vrugbare warmer gebiede van die Rynvallei en op die oostelike vlaktes teen die voet van die Swartwoud-bergreeks ontstaan. Die eerste Romeinse pad tussen Straatsburg en Offenburg is in die jaar 74 gebou en het deur die Kinzig-vallei na Tuttlingen geloop. Die welvarende Romeinse nedersetting Arae Flaviae (die huidige Rottweil) het in 186 Romeinse stadstatus (municipium) gekry.
Die eerste bewoners van die gebied ná die ondergang van die Romeinse Ryk was Alemanne, wat eers in die laer geleë valleie en later ook in die berggebiede geboer het. In die vroeë Middeleeue het die ontginning van die Swartwoud begin, wat danksy die mynbou, vlotbou en glasvervaardiging sedert die 13de eeu versterk is. Ook die eerste warm mineraalbaddens in Bad Liebenzell, Bad Teinach-Zavelstein en Bad Wildbad het in hierdie tydperk ontstaan.
Markgraaf Lodewyk Willem van Baden-Baden (1655-1707), wat weens sy prestasies en eretoekennings in die veldtog teen die Turkse strydmag naby Wene dikwels ook "Turke-Louis" genoem word, het teen die einde van die 17de eeu talle sogenaamde barok-skanse laat oprig, wat as verdedigingslyn teen invallende Franse troepe gedien het. 'n Aantal van die historiese versterkings het veral by die bergpasse in die omgewing van die dorp Gersbach (Suidelike Swartwoud) bewaar gebly.
Vanaf die sestigerjare van die 20ste eeu het die Swartwoud die gewilde toneel van 'n groot aantal rolprente geword, en in die tagtigerjare het televisie-reekse soos Schwarzwaldklinik in Duitsland gewild geraak.
Op 26 Desember 1999 het die storm Lothar met windsnelhede van meer as 200 kilometer per uur groot skade in die bosgebiede van die Swartwoud berokken.
[wysig] Ekonomie
Die mynbou in die valleie van die Middel- en Suidelike Swartwoud, waar veral silwer en lood ontgin is, begin al in die Romeinse tydperk. Die Hoog-Swartwoud bly egter tot by die Middeleeue 'n onbewoonde gebied. Ou plekname soos Todtmoos (afgelei van Duits Tod "dood" en Moos "mos") verwys na die onherbergsaamheid van die barre landskap.
Die kloosters is die dryfkragte agter die geleidelike kolonisasie van die hoër geleë platos. Vanaf die vroeë 12de eeu beleef ook die mynbou 'n nuwe bloeitydperk. Tot by die einde van die Middeleeue bly tussen 800 en 1 000 mynwerkers in die Münster-vallei. Die pes, die Duitse Boereoorlog (1524-1526) en die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) lei tot die neergang van die mynbou.
Eeue lank is hout uit die Swartwoud uitgevoer, wat onder meer vir die skeepsbou en in die boubedryf gebruik is. Veral Nederlanders het tussen die 17de en 19de eeu magtige boomstamme gekoop. Naas die Nederlandse Vloot is moontlik ook Amsterdam op pale opgerig, wat onder meer uit die Swartwoud kom.
Ander tipiese nywerhede is die glasvervaardiging en fynmeganiese nywerhede. Die glasnywerhede het ook voordeel uit die plaaslike bosbedryf getrek - vir een kilogram glas is immers sowat twee kubieke meter hout benodig. Die industrialisering begin in die afgeleë valleie van die bergreeks taamlik laat, en gedurende die lang koue winters vervaardig baie boere die beroemde koekoek- en ander Swartwoudklokke op hulle plase. Hierdie tuisnywerhede vorm die basis vir die latere ontwikkeling van die fynmeganiese en horlosies-nywerhede, met bekende ondernemings soos Kienzle, Staiger en Junghans.
In die 20ste eeu vestig bekende vervaardigers van elektroniese verbruikersware hulle in die Swartwoud, soos byvoorbeeld Dual in St. Georgen (platespelers), SABA (radio- en televisietoestelle) en Becker (motorradios). Weens die strawwe mededinging van nywerherde in die Verre Ooste beleef die bedryf in die sewentigerjare 'n swaar krisis. Die Swartwoud het egter steeds 'n sentrum van die metaalverwerkende nywerhede gebly en huisves tans ook 'n groeiende hoëtegnologie-sektor.
[wysig] Toerisme
Die hotel Badischer Hof, wat in 1801 in Baden-Baden geopen is, is die eerste groot hotel in Duitsland. Die toerisme is vandag met 139 000 werkgeleenthede die belangrikste bron van inkomste, en die Suidelike Swartwoud is met 'n oppervlak van 3 300 vierkante kilometer op een na die grootste natuurpark in Duitsland. Daar is voetslaanpaaie met 'n totale lengte van sowat 20 000 kilometer dwarsoor die gebied. Die Swartwoud is ook 'n gewilde bestemming vir wintersport.
[wysig] Kultuur
Die Swartwoud is 'n yl bevolkte, landelike gebied met min groot dorpe. Die ou tradisies en gewoontes word met trots bewaar. Die meeste dorpe en valleie het hul eie tradisionele kleredrag, waarvan die tipiese groot hoede met hulle kenmerkende bolletjies die mees bekende is. Ongetroude vroue dra rooi, getroude swart bolletjies.
Die Swartwoud staan ook bekend vir sy warm mineraalbaddens in onder meer Baden-Baden, Bad Krozingen en Badenweiler, die kenmerkende boerehuise met hulle groot skilddakke, Swartwoudkoek, Swartwoud-ham, kirsch en koekoekklokke.