Embraer
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Embraer, die Empresa Brasileira de Aeronáutica S.A., is 'n Brasiliaanse vliegtuigvervaardiger. Embraer vervaardig kommersiële, militêre en luukse stralers vir sakeondernemings. In die tydperk tussen 1999 en 2001 was Embraer die grootste uitvoerder in Brasilië en is tans nog steeds een van die drie belangrikste vervaardigers van uitvoergoedere. Na Boeing en Airbus verkoop Embraer die derde grootste aantal kommersiële vliegtuie en het ook die vierde grootste aantal werknemers na Boeing, Airbus en Bombardier.
Embraer is in 1969 deur die Brasiliaanse regering gestig en word tans deur institusionele beleggers beheer. Die maatskappy se hoofkwartier, sy belangrikste produksieaanleg en sy ingenieurs- en ontwerpkantore is in São José dos Campos geleë, 'n stad in die Brasiliaanse deelstaat São Paulo.
Embraer is ook 'n belangrike vervaardiger van onderdele en doen toetsvlugte in een van sy produksieaanlegte in Gavião Peixoto (deelstaat São Paulo). Hierdie fabriek beskik ook oor 'n landingsbaan van 16 400 voet lengte.[1]
Op 31 Desember 2006 was Embraer se totale aantal werknemers 19 265, en die maatskappy het vaste bestellings ter waarde van VSA-$ 14,8 miljard gehad.[2]