Comodoro Rivadavia
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Comodoro Rivadavia is 'n stad en seehawe met sowat 136 000 inwoners (2001) in die provinsie Chubut (Patagonië), Argentinië, aan die golf van San Jorge en sowat 880 km suidwes van Bahía Blanca. Die stad het 'n universiteit; die belangrikste bron van inkomste is ru-olie - naby die stad is die grootste olievelde van Argentinië wat in 1907 ontdek is. Ander belangrike bronne van inkomste is die tekstielnywerheid en vissery.
In April 1903 het 103 Bittereinders onder die leiding van Conrad Visser en Martin Venter hier aangekom - Afrikaners wat na die Tweede Vryheidsoorlog 'n nuwe tuiste in Suid-Amerika gesoek het. Die aantal Suid-Afrikaanse immigrante in die provinsie Chubut styg in die jare tot 1906 nog aansienlik en beloop in die omgewing van 600 mense. Die meeste van hulle het in die dertigerjare weer na Suid-Afrika verhuis, talle van hul nasate leef egter nog in die omgewing van Comodoro Rivadavia. Die Afrikaanse gemeenskap het wél verargentyns, maar baie tradisies word nog steeds bewaar. Die nasate van die pioniers beskik oor hul eie kerk en praat nog steds Afrikaans.
Op 13 November 1987 is die Afrikaanse pioniers van Comodoro Rivadavia met 'n monument vereer. Die oprigting van die gedenkteken is aanvanklik deur die plaaslike Christelike Vrouevereniging aangemoedig, en onder meer danksy 'n skenking van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings het die monument, wat in die middel van Comodoro Rivadavia se boulevard Alsina staan, uiteindelik 'n realiteit geword.
Die gedenkteken is as 'n geboë muur ontwerp en staan op 'n platform met 'n kompasroos, wat die meridiane uitbeeld. Op die muur word die geskiedenis van die pioniers met simbole aangedui. 'n Voortrekkervrou met haar kind versinnebeeld die herkoms van die Afrikaanse setlaars, terwyl hulle pioniersgees deur 'n ossewa en hulle emigrasie na Argentinië met 'n stoomgedrewe seilskip gesimboliseer word.
[wysig] Bronne
- Christiaan Johannes Scheepers Strydom: Afrikaners in die vreemde (Die Afrikaner en sy kultuur, deel 5). Kaapstad 1976: Tafelberg Uitgewers