Ceres
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
- Hierdie artikel handel oor die dorp "Ceres". Vir ander artikels met 'n soortgelyke benaming, sien asseblief die Ceres-dubbelsinnigheidsblad.
Ceres is 'n dorp aan die Dwarsrivier in die Warm Bokkeveld, 127 km Noordoos van Kaapstad, 16 km vanaf Wolseley en 10 km vanaf Prince Alfred's Hamlet. Dit is na die Romeinse godin vernoem vanweë die vrugbaarheid van die grond en is 'n belangrike vrugteverbouingsentrum en die plek waar die gelyknamige vrugtesap vervaardig word. Ceres pronk daarnaas ook met die grootse vrugteverpakkingsfabriek van die Suidelike Halfrond.
Ceres is die tweede belangrikste dorp in die Breederivierstreek na Worcester en die administratiewe en ekonomiese sentrum van die Witzenberg-Munisipaliteit. Baie mense beskou dit as een van die mooiste kleiner dorpe in Suid-Afrika.
[wysig] Geskiedenis
In 1854 deur Jan Frederick Munnik gestig. Word 'n munisipaliteit in 1864. Die hoeksteen van die eerste NG kerkgebou is op 7 Mei 1854 deur die heer C. Piers, landdros van Tulbagh gelê. Die gemeente is op 21 Maart 1855 amptelik gestig en die eerste kerkgeboutjie op 5 Mei daardie jaar ingewy. In 1951 besluit die kerkraad om die derde gebou in die geskiedenis van die gemeente te bou.
[wysig] Klimaat
Ceres lê in die Kaapse wintereënstreek met sy tipiese Mediterreense klimaat. Januarie en Februarie is die warmste maande met 'n gemiddelde maksimum van 29,9 °C in Februarie, terwyl temperature in die winter tot 'n gemiddelde minimum van 2,4 °C in Julie daal. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 1 088 millimeter, met 'n gemiddelde maandelikse maksimum van 200 millimeter in Julie.
Sneeuvalle kom gereeld in die hoër geleë berggebiede voor. Veral die Matroosberg-gebied bly vir langer periodes met sneeu bedek, en 'n plaaslike skiklub het 'n berghut vir wintersport-geesdriftiges op die bergspits opgerig.