Leipzig
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Leipzig | |
---|---|
Land: | Duitsland |
Deelstaat: | Sakse |
Stigting: | 1015 |
Koördinate: | 51° 20' N, 12° 23' O |
Oppervlakte: | 297,6 km² |
Bevolking: | 503 169 (1 Maart 2006) |
Bevolkingsdigtheid: | 1 691 / km² |
Hoogte: | 113 m bo seespieël |
Burgemeester: | Burkhard Jung (SPD) |
Leipzig is die grootste stad in die Duitse deelstaat van Sakse aan die Pleißerivier, 145 kilometer suidwes van Berlyn, met sowat 'n halfmiljoen inwoners (2007). Saam met die stad Halle vorm dit 'n metropolitaanse gebied en maak ook deel uit van die sogenaamde Sachsendreieck (Driehoek van Sakse) met drie groot stede.
Die naam van die stad is afgelei van die Slawiese Lipsk of "Plek van lindebome". Lipsk is ook die Sorbiese naam van Leipzig. Sedert die 19de eeu dra die stad die poëtiese bynaam "Klein-Parys" of "Pleiß-Athene".
Inhoud |
[wysig] Geskiedenis
Die oudste bekende Slawiese nedersetting in die gebied van Leipzig dateer uit die tydperk omtrent 900. Duitse setlaars het die stad in die jaar 1015 digby 'n Slawiese dorpie (Lipsk) gestig. Thietmar van Merseburg berig in sy Chronikon VII, 25 van die "urbs Libzi". Die nedersetting het vinnig gegroei en in die jaar 1165 stadstatus en die voorreg om as 'n markstad op te tree gekry.
Danksy die strategiese ligging by die kruispunt van twee ou handelroetes, die Via Regia en die Via Imperrii, het Leipzig in die middeleeue tot 'n welvarende stad ontwikkel. Die universiteit van Leipzig (Latyn: Alma mater Lipsiensis) is in 1409 as die tweede oudste in Duitsland gestig.
Die kasteel Pleißenburg was in 1519 die toneel van die historiese Dispuut van Leipzig tussen Maarten Luther en Johannes Eck, een van die bekendste teenstanders van die reformasie. In 1539 het Leipzig die Lutherse geloof aangeneem.
Danksy die straatbeligting, wat reeds in die jaar 1701 ingevoer is, het Leipzig die bynaam "Klein-Parys" gekry.
In 1813 het die Volkereslag naby Leipzig plaasgevind, een van die grootstes tydens die sogenaamde Vryheidsoorloë. Die gealliëerde leërs van Oostenryk, Pruise, Rusland en ander lande het hier 'n oorwinning oor Frankryk se Napoleontiese troepe behaal.
Die spoorwegverbinding tussen Leipzig en Dresden, wat in 1839 geopen is, was die eerste oor 'n lang afstand en het Leipzig se posisie as een van die belangrikste Duitse vervoersentrums bevestig. Tussen 1902 en 1915 het hier die tweede grootste Europa spoorwegstasie na Milaan ontstaan.
Ingevolge die industrialisering het die bevolking teen die einde van die 19de eeu baie vinnig gegroei. In 1870 het die inwonertal tot meer as 100 000 gestyg. Vanaf 1913 was Leipzig met 600 000 inwoners die vierde grootste stad in Duitsland en ná 1949 die tweede grootste stad van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR). Tussen 1945 en 2005 het die inwonertal egter van 750 000 tot 500 000 gedaal.
Die massabetogings van die jaar 1989 het tot die einde van die SED-bewind in die DDR gelei. Die handelskouterrein, wat op 12 April 1996 ingewy is, behoort tot die modernstes in Europa.
[wysig] Argitektuur
[wysig] Die Volkereslagmonument
Tussen 16 en 19 Oktober 1813 het die sogenaamde "Volkereslag" voor die poorte van Leipzig plaasgevind - die grootste ooit tot by die Eerste Wêreldoorlog. In die slag, wat deel gevorm het van die Vryheidsoorloë, het Napoléon Bonaparte 'n beslissende nederlaag teen Oostenrykse, Pruisiese, Russiese en Sweedse troepe gely. Duitsers het aan albei kante geveg, en Sakse, wat destyds nog 'n bondgenoot van Napoléon was en as gevolg van sy nederlaag 'n aantal gebiede moes afstaan, het min belang daarin gestel om 'n monument ter herinnering aan die slag op te rig. Die bouprojek is dan ook eers ná die vereniging van die Duitse deelstate in die Duitse Keiserryk aangepak.
Die hoeksteen vir die monument is op 18 Oktober 1898 gelê. In 1913 is die monument in die suidooste van Leipzig, wat volgens 'n ontwerp van die Berlynse argitek Bruno Schmitz opgerig is, ingewy. Die argitek Clemens Thieme, voorsitter van die Deutscher Patriotenbund (Duitse Patriottebond) en plaaslike Vrymesselaar, was die bestuurder van die projek, wat deur middel van 'n spesiale lotery en bydraes van die publiek gefinansieer is. Die boukoste het ses miljoen goudmark beloop.