Kaliningrad
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Kaliningrad | |
---|---|
Land: | Russiese Federasie |
Gewes (oblast): | Oblast Kaliningrad |
Rajon: | --- |
Koördinate: | 54° 44' N, 20°29' O |
Oppervlakte: | 211,53 km² |
Bevolking: | 437 000 (2004) |
Bevolkingsdigtheid: | 2 065,9 / km² |
Hoogte: | 4,8 m bo seespieël |
Burgemeester: | Joeri Sawenko (2005) |
Kaliningrad (Russies: Калининград, Pools: Królewiec, Litaus: Karaliaučius, tot 1946: Königsberg, Russies: Кёнигсберг) is die hoofstad van die gelyknamige Russiese eksklawe (oblast Kaliningrad), wat sowat 1 289 kilometer van Moskou tussen Pole en Litaue aan die Oossee lê, met sowat 437 000 inwoners. 'n Seekanaal van sowat 32 kilometer verbind die stad met die Oossee.
Die huidige Russiese stad ontstaan na die verwoesting van die oorspronklik Duitse Königsberg, wat eeuelank die hoofstad van die Duitse provinsie Oos-Pruise is. Tot by die jaar 1991 kan die stad weens politieke omstandighede nie sy tradisionele rol as brug tussen die oostelike en westelike lande van die Oossee waarneem nie, en ook sy toerismebedryf bly dekades lank gemik op Russiese besoekers. Vandag staan die stad weer oop vir internasionale handel en toerisme, alhoewel die geografiese ligging as Russiese eksklawe binne die Europese Unie 'n aantal probleme skep.
Ook die naam Kaliningrad self is nou omstrede. Michail Kalinin, een van Josef Stalin se bekendste handlangers, is een van die gevreesde massamoordenaars van die Stalinistiese tydperk en verantwoordelik vir die slagting van Katyn, waarby sowat 20 000 Poolse offisiers deur lede van die Sowjetse geheime polisie NKWD vermoor is. Die Sowjetse regering wys toen die Duitsers as die verantwoordelikes vir die moorde aan, terwyl die huidige Russiese regering ondanks Poolse proteste nog steeds weier om die omstandighede van dié oorlogsmisdaad te ondersoek.
Vir sommige Kaliningradse burgers is "Кёнигсберг", die gerussifiseerde weergawe van die oorspronklike Duitse naam Königsberg, of die afkorting Кёниг 'n aanvaarbare alternatief, en dit word nou ook dikwels in die advertensiebedryf gebruik. Die meeste Russiese inwoners is egter gekant teen 'n herbenoeming wat as revisionsties sou kon beskou word. 'n Ander voorstel is die naam Kantgrad': "Kantstad", vernoem na die aldaar gebore filosoof Immanuel Kant.
[wysig] Geskiedenis
Die stad word in 1255 deur die Boheemse koning Ottokar II gestig en kry in 1286 stadstatus. Die Duitse stad Königsberg word 'n belangrike lid van die Hanse-bond, setel van die Duitse Ridderorde en hoofstad van die Duitse provinsie Oos-Pruise. 1451 word Königsberg deur die Duitse Ridderorde oorgeneem en die hoofstad van hulle Pruisiese staat. Dit is die geboortestad van die Duitse filosoof Immanuel Kant (* 1724), wat hier tot by sy dood in 1804 woon.
Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog is 90 persent van die stad se geboue vernietig. Die sowat 400 000 Duitse bewoners vlug of word deur die Sowjets verdryf; die stad word vervolgens by die Sowjetunie ingelyf en kry in 1946 die nuwe naam Kaliningrad.
In Junie 2005 vermeld Russiese argeoloë dat hulle in die kelder van die Duitse Orde se kasteel 'n raaiselagtige vonds opgegrawe het - 'n silwerdosie met 'n aantal voorwerpe wat blykbaar vir sataniese rituele gebruik is, onder meer amulette en medaljons met geheimsinnige Latynse en Griekse inskripsies. Die dosie dateer vermoedelik uit die tydperk van die 16de tot 17de eeu en is die volledigste versameling rituele voorwerpe van hierdie soort wat tot dusver in Europa gevind is.
Op 3 Julie 2005 vind op uitnodiging van die Russiese president Vladimir Poetin 'n spitsberaad met die Franse president Jacques Chirac en die Duitse bondskanselier Gerhard Schröder in die vakansieoord Swjetlogorsk (vroeër Rauschen), sowat 50 kilometer van Kaliningrad, plaas. Die spitsberaad is deel van die 750-jaar-vierings. Die feit dat die Poolse en Litause staatshoofde nie uitgenooi is nie, veroorsaak 'n twispunt in dié lande. Gerhard Schröder is die eerste Duitse regeringshoof sedert 1945 en Jacques Chirac die eerste Franse staatshoof na Napoléon Bonaparte wat 'n besoek aan Kaliningrad aflê. By die geleentheid is die Universiteit van Kaliningrad hernoem tot Immanuel-Kant-Universiteit.
[wysig] Klimaat
Die klimaat van Kaliningrad is 'n mengsel van Asiatiese kontinentale en Wes-Europese seeklimaat-invloede. Weerstoestande is taamlik onvoorspelbaar en wisselvallig, met 'n gemiddelde jaarlikse temperatuur van +8,0°C en uiterstes tussen -3,0°C in Januarie en +17,0°C in Julie.
[wysig] Besienswaardighede
- Die gotiese baksteengebou van die Ou Katedraal, geleë op die Pregeleiland, is een van die Duitse geboue wat nie deur die Sowjets gesloop is nie. Aangesien die graf van Immanuel Kant, wat deur die Sowjets as een van die voorlopers van die sosialisme beskou word, teen die noordwand van die katedraal lê, is die fasade met die oog op die 750-jaarviering in 2005 herstel. 'n Museum, wat die lewe en werk van die filosoof behandel, is in een van die torings geopen.
- Die gebou van die Russies-Ortodokse Christus-die-Verlosser-katedraal met sy drie goue koepels en sitplekke vir 3 000 mense word ter geleentheid van die 750-jaarviering ingewy.
- Die stad beskik oor een van die belangrikste dieretuine van die Russiese Federasie en sy enigste Duitstalige teater.
- Die Dohna-toring huisves die bekende barnsteen-museum, wat meer as 6 000 voorbeelde van natuurlike barnsteen en juweliersware van destydse kunstenaars uit die stad vertoon.
- Die spoorwegmuseum vertoon 'n aantal historiese lokomotiewe en waens.
- Die Russiese navorsingskip Witjas huisves die Museum van die Oseane van die Wêreld. Hier word die flora en fauna van die oseane behandel. Die duikboot B-13 bied 'n tentoonstelling oor die Russiese duikbootvloot aan.