Gardameer
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Die Gardameer (Italiaans Lago di Garda) is die grootste meer in Italië met 'n oppervlakte van 369,98 vierkante kilometer, wat in die Italiaanse Alpe, halfweg tussen Venesië en Milaan, lê. Die meer en sy kuslyn maak deel uit van die Italiaanse provinsies Verona in die suidooste, Brescia in die suidweste en Trento in die noorde. Die meer is tydens die laaste ystydperk deur gletsers gevorm. Vandag is dit 'n belangrike toeristebestemming met 'n hoogs ontwikkelde infrastruktuur van vakansieoorde en hotelle langs sy oewers.
Die meer is die skouplek van die historiese Slag van die Benacusmeer in 268, waartydens Romeinse troepe 'n leër van Alemanniese krygers verslaan.
[wysig] Klimaat
Die Gardameer lê in die Mediterreense klimaatsone. Die klimaat van Gardone Riviera teen die suidwes-oewer van die meer staan bekend as die mildste noord van die Apennyne. Die sogenaamde Ora, 'n termiese wind, lei namiddae tot 'n gereelde lugbeweging, wat die noordelike Gardameer tussen Torbole en Malcesine besonder aantreklik maak vir windseilgeesdriftiges.
[wysig] Wynbou
Garda is 'n streek van wyne van oorsprong (Italiaans: Denominazione di origine controllata, DOC), wat wit-, rooi- en roséwyn oplewer. Die wynstreek sluit 25 dorpe in die provinsie Brescia, 6 in die provinsie Mantua en 40 in die provinsie Verona in. Amptelike kultivare is Barbera, Cabernet Franc, Cabernet Sauvignon, Chardonnay, Cortese, Merlot, Pinot Blanc, Pinot Noir, Pinot Gris en Riesling. Die wynbougebiede van die DOC is Riviera del Garda Bresciano, Lugana, San Martino della Battaglia en Bardolino.