Citrusdal
vanuit Wikipedia, die vrye ensiklopedie.
Citrusdal is 'n dorp op die regteroewer van die Olifantsrivier, 188 km noord van Kaapstad en byna halfpad tussen Piketberg en Clanwilliam in 'n vrugbare vallei waar, danksy kanale, sitrus op grootskaal verbou word. Die bevolking is in 2007 op 5 268 geraam, sowat 1 200 meer as in 1996. Dit is een van die hoofdorpe in die munisipaliteit Cederberg.
[wysig] Geskiedenis
Die dorp is in 1916 deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk gestig en verkry munisipale status in Maart 1957. Vandag vorm dit saam met Clanwilliam en omliggende nedersettings deel van die munisipaliteit Cederberg. Die naam is afkomstig van die verbouing van sitrusvrugte in die omliggende vallei. Elektrisiteitsvoorsiening is in 1948 voltooi.
[wysig] Besienswaardighede
Mense wat aan rumatiek en soortgelyke kwale ly, besoek jare lank reeds die beweerde radioaktiewe water van die warmwaterbron wat na die oppervlak borrel in 'n digbebosde vallei van 'n takrievier van die Olifantsrivier. Inskripsies op die rotse om die bron, wat die krag van die water aanprys, dateer terug tot uit die 18de eeu. Die omgewing word elke lente oortrek deur Namakwaland se blommeprag. Dit is 'n basis van waar staptogte in die Sederberge onderneem kan word.
[wysig] NG kerk
Die uitgestrektheid van die gemeente Clanwilliam het na 1900 doeltreffende bediening van die gemeente lede in die Olifantsriviervallei bemoeilik. Daarom is op 26 Februarie 1916 'n gemeente op die plaas Middelpost gestig. Die naam Citrusdal is deur ene mnr. Polly Visser van Heksrivier voorgestel. 'n Gedeelte van die plaas Middelpost is van die broers Van Zyl aangekoop vir die aanlê van die dorp. Die eerste nagmaal is op 8 April 1916 in 'n waenhuis op die plaas gehou. Die hoeksteen van die kerkgebou is op 1 Februarie 1941 gelê en 'n jaar later is die sierlike kerk ingewy. Dit bied sitplek aan sowat 1 200 mense, hoewel die volwasse lidmate van die gemeente in 2007 sowat duisend getel het. Die gebou het altesaam 13 000 pond gekos.
Provinsie Wes-Kaap |
|
---|---|
Hoofstad: | |
Streke: |
Kaapse Skiereiland | Kaapse Wynlande | Tuinroete | Klein Karoo | Overberg | Weskus |
Grootste stede en dorpe: |
Kaapstad | George | Knysna | Oudtshoorn | Paarl | Robertson | Stellenbosch | Swellendam | Vredenburg | Worcester |
Munisipaliteite: |
Beaufort-Wes | Bergrivier | Breederivier | Breederivier/Wynlande | Breedevallei | Kaap Agulhas | Cederberg | Sentraal-Karoo | Kaapstad | Drakenstein | George | Kannaland | Knysna | Laingsburg | Langeberg | Matzikama | Mosselbaai | Oudtshoorn | Overberg | Overstrand | Plettenbergbaai | Prins Albert | Saldanhabaai | Suid-Kaap | Stellenbosch | Swartland | Swellendam | Theewaterskloof | Weskus | Witzenberg | |